Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Fase 2: Eerste 4 288 seniors moet aanmeld vir inentings

SMS-boodskappe is die naweek aan 4 288 senior burgers gestuur om Maandag te gaan vir hul inentings wanneer fase 2 van dié program amptelik begin.

Só het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Sondagaand met die bekendstelling van fase 2 van Suid-Afrika se Covid-19-inentingsveldtog gesê.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Foto: Darren Stewart

“Hoewel Suid-Afrika gereed is vir dié fase waarin diegene 60 jaar en ouer ingeënt sal word, sal die inentings eers later in die maand versnel.

“Dit duur ’n ruk om gewoond te raak aan die nuwe entstof (van Pfizer-BioNtech) wat nog nie voorheen in Suid-Afrika gebruik is nie. In die eerste paar dae moet die tandekry-probleme ook opgelos word,” sê Mkhize

Sowat 1,22 miljoen senior burgers is reeds vir inenting op die elektroniese entstofdatastelsel (EVDS) geregistreer.

87 persele Maandag in bedryf

Altesame 87 persele sal Maandag in bedryf kom en die doelwit is om 5 miljoen senior burgers teen einde Julie in te ent, onderhewig aan hoeveel entstof beskikbaar is.

Volgens Mkhize sal die sowat 700 000 gesondheidswerkers wat nog nie ingeënt is nie, in ’n parallelle proses ingeënt word nadat die Sisonke-studie met die entstof van Johnson & Johnson (J&J) afgehandel is.

Sowat 478 733 gesondheidswerkers is ingeënt en die oorblywende dosisse sal vir navorsing gebruik word.

'Geen entstof werk 100% nie'

Teen Maandag sal daar 975 780 Pfizer-dosisse in die land wees en Mkhize hoop J&J sal ook binnekort begin om entstof beskikbaar te stel.

“Die entstof van Pfizer-BioNtech is veilig vir gebruik en werk goed, selfs teen die variant wat dominant is in Suid-Afrika.

“Die entstof sal mense beskerm teen ernstige Covid-19 of die dood. Geen entstof werk egter 100% nie en ons weet ook nog nie of inentings die oordrag van die virus keer nie,” sê Mkize.

“Altesame 7 707 SMS-boodskappe is uitgestuur aan gesondheidswerkers en 4 288 aan senior burgers.

“Wanneer hulle aanmeld, moet hulle hul identiteitsdokumente by hulle hê. Diegene wat lede is van mediese fondse, moet ook daardie besonderhede by hulle hê.

As iemand ’n afspraak mis, kan dit herskeduleer word. Hulle sal egter nie drie keer ’n geskeduleerde afspraak kan mis nie.”

Griepagtige simptome ná inenting

Volgens Mkhize ervaar baie mense griepagtige simptome nadat hulle ingeënt is. Dit sluit in matige koors, hoofpyn, moegheid en swelling waar die spuit toegedien is.

“As jy ernstiger simptome het, soos ernstige hoofpyn, maagpyn of pyn in die ledemate, moet jy die Covid-inbellyn by 0800 029 999 bel of hulp soek by jou naaste hospitaal.”

Hy sê die tweede dosis van die Pfizer-BioNtech-entstof kan ses weke ná die eerste een toegedien word en nie net drie weke, soos voorheen gedink is nie.

Tehuise vir bejaardes

“Mense in tehuise vir bejaardes sal nie SMS’e kry nie omdat hulle by die tehuise geregistreer sal word. Meer as 7 000 senior burgers in 102 ouetehuise sal teen die einde van die week ingeënt word.”

Private sektor

Martin Kingston, voorsitter van Business for South Africa (B4SA), sê die private sektor ondersteun die inentingsprogram en dat die begin van die tweede fase ’n mylpaal is in die stryd teen die pandemie.

“Dit is die begin van ’n nasionale poging. Ons vra almal se samewerking. Saam sal ons die bedreiging wat Covid-19 inhou, kan oorkom.”

Datastelsel

Dr. Nicolas Crisp van die departement het in antwoord op ’n vraag gesê die datastelsel het nie ineengestort nie. Daar was net ’n oorgang van die Sisonke-program na fase 2.

Hy sê die stelsel werk goed en SMS’e word deur ’n ander stelsel gestuur. Van hul personeel is met verlof en sal weer teen die einde van die week terug wees.


REGISTREER SÓ

Volgens Mkhize word mense op die volgende maniere vir inenting registreer:

• Aanlyn by www.vaccine.enroll.gov.za

• Deur die Covid-19-inbellyn te bel by: 0800 029 999

• Per WhatsApp deur ’n boodskap te stuur na 0600 123456

• Deur die volgende kode op ’n selfoon in te sleutel: *134*832#

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.