Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inenting: 'Te vroeg om te sê'

Mense het Maandag gemengde gevoelens gehad oor die eerste dag van fase 2 van Suid-Afrika se inentingsveldtog teen die koronavirus vir mense van 60 en ouer.

“Ek het in die tou gestaan en toe het ek maar weer huis toe gegaan,” sê Steyn Erasmus (64) van Emalahleni in Mpumalanga. Hy is na die provinsiale hospitaal om ingeënt te word.

“Ek het ’n teksboodskap ontvang en het stiptelik om 12:00 in die ry ingeval, maar moes toe huis toe gaan sonder dat ek ingeënt is.” Volgens Erasmus het “iemand van die gesondheidsdepartement” verduidelik dat entstowwe nog nie gereed is om toegedien te word nie.

“Ek is woedend omdat ek moeite gedoen het om by die hospitaal te kom. Ek sal môre moet teruggaan,” sê hy.

Celia Schoeman (70) van Springs aan die Oos-Rand was ook nie beïndruk nie omdat sy ook nog wag om ingeënt te word. “Ek het geregistreer, maar het nog nie enige boodskappe ontvang nie. Teen hierdie slakkepas gaan die regering nie hul doelwit bereik om almal in te ent nie,” meen Schoeman.

’n Man word Maandag by die Munsieville-tehuis vir bejaardes in Krugersdorp ingeënt. Foto: Verskaf

Nehawu is 'bekommerd'

Die vakbond Nehawu het Maandag sy kommer uitgespreek dat die tweede fase van die inentingsprogram begin het sonder dat die eerste fase heeltemal afgehandel is.

“Ons is nie daarvan oortuig dat die gesondheidsdepartement oor die kapasiteit beskik om ’n parallelle inentingsprogram uit te voer wat fokus op die afronding van fase 1, terwyl die tweede fase ook begin nie,” sê Nehawu in ’n verklaring.

Volgens Nehawu sal die vertraging van die program ernstige gevolge vir gesondheidswerkers hê, “wat steeds as die ruggraat moet dien van ons nasionale reaksie op die koronaviruspandemie”.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, wou nie Maandag oor die inentingsveldtog kommentaar lewer voordat die nasionale gesondheidskommissie (NHC) dit bespreek het nie.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê dis te vroeg om kommentaar te lewer.

“Daar is nog te min mense om te sê of dit ’n sukses was en die probleem is, daar is nie nog inentings beskikbaar nie,” sê Coetzee.

In dié fase beoog die regering om 16,5 miljoen mense in te ent. Volgens Mkhize sal mense ouer as 60 en gesondheidswerkers vandeesweek gelyklopend by die land se inentingspunte ingeënt word.

“Gesondheidswerkers sal nie agterweë bly nie. Dit is so dat ons nie genoeg inentings beskikbaar gehad het nie, maar ons nooi hulle nou uit om hulle te registreer en te laat inent,” het Mkhize Maandag by die Munsieville-tehuis vir bejaardes in Krugersdorp, gesê.

'Gebrek aan dringendheid'

Volgens John Steenhuisen, DA-leier, het die inentingsveldtog stadig begin met ’n gebrek aan dringendheid.

“Slegs 2,6% van die persele, net 87 van die meer as 3 000 persele wat belowe is, was gereed om inentings te lewer,” sê Steenhuisen in ’n verklaring.

“Ons regering het maande gehad om die inwerkingstelling te beplan – veel meer as ons buurlande, waarvan die inwerkingstelling meestal reeds goed op dreef is. Verder het die regering die opsie gehad om die miljoen AstraZeneca-dosisse wat in Maart afgelewer is, toe te dien. Dit sou die geleentheid gegee het om probleme uit te stryk,” sê hy.

“Daar is nog geen voorsiening gemaak vir die registrasie van mense wat nie toegang tot die internet het nie. Diegene wat aanlyn geregistreer het, het steeds nie die beloofde SMS-kennisgewing van afsprake ontvang nie.”

Steenhuisen beskou ook die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se doelwitte met die veldtog, waartydens gesondheidswerkers ook ingeënt moet word, as onrealisties.

“Slegs 478 733 gesondheidswerkers is tot dusver ingeënt (in die Sisonke-studie). Tog het Mkhize Sondagaand in sy verklaring gesê dat hulle die geteikende gesondheidswerkers van 1,2 miljoen teen die einde van die week sal voltooi.

“Dit is onhaalbaar, aangesien die Pfizer-dosisse tot hul beskikking ’n dubbele dosis benodig met ongeveer drie weke uitmekaar. Selfs net die toediening van die eerste dosis aan die oorblywende 720 000 gesondheidswerkers sal ’n pas van meer as 100 000 dosisse per dag benodig vir elke dag van die week,” sê Steenhuisen.

Volgens Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, het die inentings in Pretoria “glad verloop”.

“Die ou raadsaal by die Sammy Marks-sentrum is gebruik as een van die vyf inentingspersele in die Tshwane-distrik. 180 mense was geregistreer om by die Sammy Marks-sentrum hul entings te ontvang. Ons verwag dat dié getal sal toeneem soos wat die veldtog momentum kry,” sê Bokaba.



Meer oor:  Koronavirus  |  Tweede Vlaag  |  Pandemie  |  Inentings  |  Fase 2  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.