Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Feestyd-partytjies ‘eis nou sy tol in Limpopo’

Limpopo “betaal nou die prys vir al die Kersfeespartytjies, troues en verjaardagpartytjies” in die feestyd.

Dit was dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, se reaksie Donderdag nadat die meeste mense op een dag tot dusver tydens die pandemie, naamlik 1 575, positief vir die koronavirus getoets is.

Dit kom nadat daar aan die begin van Desember daagliks net sowat 20 nuwe gevalle per dag aangemeld is.

Sy sê die afgelope vier dae is 104 mense by die Beitbrug-grenspos na Zimbabwe positief getoets.

“Weens die samedromming van mense wat oor die grens stroom, word ’n veilige afstand tussen mense nie gehandhaaf nie. Hulle dra ook nie maskers nie. Ek waarsku mense wat die afgelope vier dae daar was dus om vir tussen vyf en sewe dae in selfisolasie te gaan.”

Die veldhospitaal by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens

Ramathuba sê Limpopo “betaal nou die prys vir al die Kersfeespartytjies, troues en verjaardagpartytjies” wat in die Kerstyd gehou is sonder dat die nodige veiligheidsregulasies gehandhaaf is.

Beitbrug
Mense drom Woensdag saam by die Beitbruggrenspos in Limpopo. 104 mense is die afgelope vier dae by dié grenspos positief vir die koronavirus getoets. Foto: RUDZANI TSHIKORORO

“Ons het in Desember gesê dat saamtrekke in Limpopo ’n slegte idee is omdat daar elke jaar ’n groot aantal mense uit ander provinsies na Limpopo stroom om die Kerstyd by hul familie te vier.”

Die meeste (623) nuwe gevalle is in die Capricorn-distrik, wat een van Limpopo se brandpunte is, aangemeld.

In Polokwane is daar tans 2 078 aktiewe gevalle. Sedert Maart verlede jaar is 8 863 mense in die stad positief vir die koronavirus getoets en 218 mense is aan Covid-19 dood.

’n Pasiënt word Woensdag by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane afgelaai. Foto: Marietie Louw-Carstens

’n Veldhospitaal is op die parkeerterrein van die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane opgerig. Dit is die eerste veldhospitaal wat in Limpopo opgerig is sedert die eerste bevestigde geval van die koronavirus in Maart verlede jaar aangemeld is.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, sê daar is die afgelope week ’n skerp en volgehoue toename in pasiënte wat weens Covid-19 in die Netcare Pholoso-hospitaal opgeneem moet word.

“Die gesondheidstelsel in Limpopo is onder druk weens die skerp toename in Covid-19-pasiënte wat gehospitaliseer moet word,” sê Friedland.

hospitaal
’n Veldhospitaal is op die parkeerterrein van die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane opgerig. Foto: Marietie Louw-Carstens

Hy sê 60 bykomende gesondheidswerkers sal by die Netcare Pholoso-hospitaal ontplooi word.

Die veldhospitaal, oftewel kliniese besluitnemingseenheid, is van Donderdag af in gebruik. Dit het plek vir 80 beddens en sal help om die druk op die ongevalle-eenheid te verlig.

beitbrug
Daar is geen sprake van die handhawing van 'n veilige afstand by die Beitbruggrenspos nie. Foto: RUDZANI TSHIKORORO

Pasiënte sal in ’n tent gestabiliseer en behandel word totdat ’n bed in die hospitaal oopgaan of hulle na ’n ander hospitaal in Polokwane oorgeplaas kan word.

MC Botha, hospitaalbestuurder van die Mediclinic Limpopo in Polokwane, sê dié hospitaal is “onder geweldige druk”.

beitbrug
Netwerk24 het Woensdag berig mense staan in lang rye om Suid-Afrika by Beitbrug binne te kom. Foto: RUDZANI TSHIKORORO

Hy sê waar moontlik sal pasiënte na ander hospitale verwys word indien die Mediclinic Limpopo nie meer pasiënte kan inneem nie.

Dieselfde proses word gevolg by die Mediclinic Tzaneen. Daar was Donderdag 427 aktiewe gevalle in Tzaneen. Sedert Maart verlede jaar is 57 mense op die dorp aan Covid-19 dood.

Ramathuba sê hoewel daar ’n skerp toename in Covid-19-pasiënte is, is daar nog plek vir pasiënte in die provinsiale hospitale.

hospitaal
Hospitaalbeddens in die parkeerterrein van die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane. ‘n Veldhospitaal is hier ingerig weens die styging in Covid-19-gevalle in Limpopo. Foto: Marietie Louw-Carstens

Meer oor:  Netcare  |  Limpopo  |  Polokwane  |  Koronavirussiekte  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.