Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Fopnuus oor troeteldiere
Jack Russell Terrier playing with blue ring puller

Die kruideniersgroep Spar, die vervaardiger van die ontsmettingsmiddel Jik en die Stad Johannesburg het vandeesweek deurgeloop omdat hulle die publiek in die lig van Covid-19 in advertensies en op plakkate teen noue kontak met troeteldiere gewaarsku het.

Op die plakkate wat by Spar-winkels in die East Rand Mall en in Roodeplaat teen die vensters opgeplak was, is teen die oordrag van die Covid-19-virus gewaarsku en die publiek is afgeraai om aan rondloperhonde en -katte te raak wat glo die virus kan versprei.

Mike Prentice, uitvoerende bemarkingshoof van die Spar-groep, het in 'n e-pos aan Beeld erken dat die bewoording op die plakkate ’n “fout” was. Dit was net by sommige winkels opgeplak, het hy gesê, en Spar vra onvoorwaardelik om verskoning.

“In ’n poging om ons klante te beskerm en weens die paniek oor Covid-19 het ons oorhaastig opgetree en die bewoording op plakkate wat in ander lande gebruik word om mense teen die pandemie te waarsku vertaal.”

Die vervaardigers van Jik het mense in ’n advertensie ook aangeraai om nie aan enige diere te raak nie.

Prentice sê die bewoording is feitelik verkeerd.

“Ons het al ons winkels opdrag gegee om alle plakkate met misleidende bewoording te verwyder en dit deur die korrekte inligting te vervang. Ons is werklik bitterlik jammer. Ons sal die fout regstel.”

Volgens Prentice het Spar die hoofkantoor van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging gekontak en ’n aanvanklike skenking van R300 000 gemaak waarmee kos vir diere gekoop moet word.

“Ons het ook skenkings aan die bewaringsorganisasie Claw en aan die Heart-perdesentrum in Bonnievale gemaak.”

Die vervaardigers van Jik het die publiek ook in ’n advertensie aangeraai om glad nie aan enige diere te raak nie.

Jik het ná verskeie haatboodskappe op sy Facebook-blad ook verskoning gevra en gesê sy advertensie oor die verspreiding van Covid-19 is gegrond op “vroeëre inligting” wat hy van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gekry het.

Facebook-gebruikers het gesê die vervaardiger lieg, want die WGO het nog nooit gesê mense moet hul troeteldiere in die Covid-19-tyd vermy nie.

Johannesburg het ’n soortgelyke waarskuwing aan inwoners gestuur, maar het nie op enige navrae gereageer nie.

Smaragda Louw, stigter van Ban Animal Trading (BAT), het getwiet: “Skaam jou, Johannesburg, dat jy fopnuus oor die koronavirus versprei. Troeteldiere is nie draers van die virus nie. Jý is nou daarvoor verantwoordelik dat duisende troeteldiere by skuilings afgelaai word.”

Johannesburg het nog geen amptelike verskoning aangebied nie, maar wel aan Louw gesê daar was “geweldig baie reaksie” op die kennisgewing en dat die saak glo aandag geniet.

Meer oor:  Korona  |  Troeteldiere  |  Dbv  |  Spar  |  Fopnuus  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.