Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Foute dalk gemaak’ met aankoop van entstof

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee vir entstowwe, gee toe daar is dalk foute gemaak met die aankope van entstowwe vir Suid-Afrika.

Hy sê egter die regering sal duidelikheid hieroor moet gee en boonop beskou hy self nie die regering se entstof-strategie as ’n mislukking nie.

Dit kom nadat vrae ontstaan het oor of die regering sy planne agtermekaar het om so gou as moontlik genoeg entstof vir Suid-Afrika te bekom om die pandemie meer beheerbaar te maak.

Dalk moes die tesourie meer betrokke gewees het om die geld vir die deposito beskikbaar te maak. Dalk was daar nie geld nie. Die regering sal moet verduidelik.
Prof. Barry Schoub

Schoub gee toe dat die regering nes ander lande vooraf bilaterale ooreenkomste kon beklink om entstof vooruit te bestel, maar volgens hom het Suid-Afrika nie genoeg geld gehad om mee te ding nie. Die rykste lande koop baie voorraad wat dus min los vir ander lande.

Hy sê Suid-Afrika sou verlede jaar reeds R2,4 miljard vir deposito’s moes opdok om 40 miljoen dosisse van verskeie verskaffers te verseker. Dit terwyl dit toe nog nie bekend was watter, en óf enige entstof doeltreffend sou wees nie.

“Dalk moes die tesourie meer betrokke gewees het om die geld vir die deposito beskikbaar te maak. Dalk was daar nie geld nie. Die regering sal moet verduidelik.”

Voorts gaan dit volgens hom nie help om vinger te wys nie, hoewel hy meen studieleiers wat help met die studies van entstowwe in Suid-Afrika kon destyds entstowwe vir Suid-Afrika beding het.

Mense wil graag nou vinger wys en die kritici het ewe skielik al die antwoorde. Maar hoekom het hulle nie verlede jaar in Julie hulself uitgespreek daaroor en almal ingelig oor wat gedoen moet word nie?
Prof. Salim Abdool Karim

Prof. Alex van den Heever, hoof van die Skool van Regeerkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het by navraag na Schoub teruggekap en gesê daar kan nie van studieleiers verwag word om die regering se werk vir hom te doen nie.

“In ander lande waar die studies plaasgevind het, was die regering proaktief betrokke by onderhandelings. Hulle het nie gewag dat maatskappye na hulle uitreik nie.”

Volgens Van den Heever, wat deel was van ’n groep wetenskaplikes wat die regering in ’n onlangse ope brief skerp gekritiseer het weens sy gesloer om ooreenkomste te beklink, het die brief juis druk geplaas op die regering om te begin woeker vir entstof.

Kort daarna het die regering skielik aangekondig dat hy 1,5 miljoen dosisse van die Serum Instituut Indië bekom het vir gesondheidswerkers en dat dit in Januarie en Februarie verwag word.

Hoewel Schoub nie weet hoe die regering vorder met bilaterale ooreenkomste vir entstowwe nie, sê hy die kwessie kom daarop neer of Suid-Afrikaners die regering vertrou of nie.

Hy wys daarop dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, aangekondig het dat Suid-Afrika teen die einde van vanjaar 40 miljoen mense wil inent. In sy toespraak aan die nasie het pres. Cyril Ramaphosa boonop self aangekondig dat die land 20 miljoen dosisse bekom het.

Besonderhede daaroor is nog vaag.

In ander lande waar die studies plaasgevind het, was die regering proaktief betrokke by onderhandelings. Hulle het nie gewag dat maatskappye na hulle uitreik nie.
Prof. Alex van den Heever

Schoub glo nie die staat sal die publiek ’n rat voor die oë probeer draai nie, en meen Suid-Afrikaners moet die regering die voordeel van die twyfel gee.

“Die regering het met maatskappye waarmee hy onderhandel nieopenbaarmakingsooreenkomste onderteken en as hy die besonderhede vooraf sou verklap, sal dit ’n wetsoortreding wees.”

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee, wat die hoof is van al die advieskomitees, sê hy weet nie hoe die regering vorder met bilaterale onderhandelings nie.

“Mense wil graag nou vinger wys en die kritici het ewe skielik al die antwoorde. Maar hoekom het hulle nie verlede jaar in Julie hulself uitgespreek daaroor en almal ingelig oor wat gedoen moet word nie?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.