Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Franse wil SA entstof-vervaardigers help – Pandor

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk sê dié land wil Suid-Afrikaanse vervaardigers help om hul vermoë te verhoog om die koronavirus- en ander entstowwe te kan vervaardig. 

Só het dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Dinsdagmiddag in die Franse hoofstad, Parys, gesê.

Pandor is lid van pres. Cyril Ramaphosa se afvaardiging na Macron se beraad oor die finansiering van Afrika-ekonomieë. Macron besoek Suid-Afrika later vandeesmaand.

emmanuel macron, cyril ramaphosa
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk verwelkom pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand by die Elyseé-paleis vir 'n staatsbanket. Foto: Reuters

Ramaphosa het tydens ’n bilaterale gesprek met die Franse president ’n beroep op Frankryk en ander lande gedoen om tydelik afstand te doen van die eiendomsreg wat hulle op Covid-19-entstowwe het, het Pandor gesê.

Op dié manier kan Afrika-lande die vermoë ontwikkel om onafhanklik entstowwe (nie net Covid-19-enstowwe nie, maar ook ander) te vervaardig, het Ramaphosa volgens die minister gesê.

Suid-Afrika en Indië het die G7-nywerheidslande twee weke gelede op ’n vergadering van die G7-lande se ministers van buitelandse sake gevra dat dié lande tydelik afstand doen van hul eiendomsreg op die Covid-19-entstof.

Die Amerikaanse regering het positief hierop gereageer, maar die Europese Unie (EU) skop nog vas.

Pandor het gesê tydens die ontmoeting in Frankryk is daar ook gepraat oor Macron se komende staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Pres. Cyril Ramaphosa (regs) en Rwanda se pres. Paul Kagame in Parys, Frankryk. Foto: Presidensie

Voordat die beraad Dinsdagmiddag begin het, het Ramaphosa en sy afvaardiging, onder wie Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, bilaterale gesprekke met verskeie van die sowat 30 Afrika-leiers gevoer wat die beraad bywoon. Dit sluit in die staatshoofde van Angola, die Ivoorkus, die Demokratiese Republiek die Kongo, Rwanda, Senegal en Mosambiek.

“Al die ontmoetings het baie goed afgeloop,” het Pandor gesê.

Sy sê die Afrika-lande is almal baie dankbaar vir die rol wat Ramaphosa in die stryd teen die Covid-19-pandemie speel al sedert hy voorsitter van die Afrika-unie (AU) was.

Verteenwoordigers van finansiële instellings wat die beraad bywoon – sowel as Frankryk en die EU – het te kenne gegee hulle was beïndruk deur die spesiale gesante wat Ramaphosa (toe hy AU-voorsitter was) wêreldwyd gestuur het om finansiële hulp vir Afrika te werf.

Die beraad in Parys is ’n poging om dit wat Ramaphosa in 2020 as AU-voorsitter begin het te konsolideer, het Pandor gesê.

“Die Afrika-leiers met wie ons gepraat het, het almal gevra dat Suid-Afrika hulle bystaan met hul inentingsprogramme.

“Ekonomiese herstel en stimuluspakkette is ook vir almal van hulle ’n prioriteit.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Naledi Pandor  |  Emmanuel ­Macron  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Entstof  |  Vervaardiging  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.