Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gaste mag in restaurante eet, maar nie drank drink

Suid-Afrikaners sal van Maandag af weer vir maaltye in restaurante kan aansit, maar hulle sal nie drank daar kan koop om saam met hul ete te geniet nie.

Dít het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, Vrydag gesê toe sy streng protokolle en riglyne vir die heropening van restaurante, wegneemete-plekke, koffiewinkels, hotelle, gastehuise, tyddeel-fasiliteite, oorde en casino’s op ’n nuuskonferensie in Pretoria bekend gemaak het.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme.Foto: Getty Images

Sy het gesê die riglyne is in pas met volgehoue pogings om die toerisme-sektor stelselmatig te heropen om “ondernemings en werkgeleenthede in die sektor te kan red”.

Die departement het tot dusver ook al R127 miljoen as verligtingshulp teen die Covid-19-pandemie aan sowat 2 540 ondernemings in die toerisme-sektor uitbetaal.

Volgens Kubayi-Ngubane is die protokolle en riglyne wat sy Vrydag aangekondig het, in samewerking met die sektor ontwikkel om te verseker dat die lewe van werkgewers, werknemers, toeriste en Suid-Afrikaners beskerm word soos wat die sektor heropen.

Sy het ná vrae van joernaliste gesê dat hoewel mense weer in restaurante kan aansit vir etes, kan drank nie daarmee saam geniet word nie.

Restaurante sal egter geen selfdiens-buffet-etes mag aanbied nie, terwyl spyskaarte vervang moet word met ’n geen-aanraak-keuse of ná elke gas se gebruik ontsmet moet word.

Tafels moet ook voor en ná elke gas se gebruik ontsmet word, terwyl kelners minstens ’n meter van ’n tafel moet staan om bestellings te neem.

Volgens Kubayi-Ngubane kan alkohol wel by restaurante gekoop word, “maar nie op die perseel verbruik word nie”.

Sy hoop dat Suid-Afrikaners sal uitgaan om ’n maaltyd in ’n restaurant te geniet om sodoende ’n inkomste vir iemand daar te verseker.

“Ons hoop dat Suid-Afrikaners die belangrikheid van ons wat heropen sal insien en dit nie as roekeloos beskou nie.

“Ons doen dit om lewens en lewensbestaan te balanseer.”

Wat maaltye by konferensies betref, het Kubayi-Ngubane gesê, sal baie streng protokolle gehandhaaf word.

“Geen buffet-etes mag aangebied word nie omdat dit ’n bron van kommer vir die verspreiding van die virus is.

Geen buffet-etes mag aangebied word nie omdat dit ’n bron van kommer vir die verspreiding van die virus is.

“Ons raai wegneemete-styl-kospakkies vir konferensies aan omdat daar bewys is dat dit veiliger is.”

Volgens haar het baie in die bedryf gekla oor die koste-implikasies van om aan al die maatreëls te voldoen, maar haar departement sal aanhou om saam met die sektor lewens te red en operasionele kostes te balanseer.

Sy het dit ook duidelik gemaak dat mense nog nie met hul families of gesinne vir ’n vakansie in hotelle of gastehuise kan bly nie.

Hotelle en ander akkommodasie kan tans nog net vir sakedoeleindes gebruik word.

Selfbestuur-uitstappies word wel vir wildtuine binne provinsiale grense toegelaat. “Daar sal egter nie akkommodasie daarvoor bespreek kan word nie omdat dit nie sakeverwant is nie”.

Kubayi-Ngubane het bygevoeg dat riglyne vir die heropening van rolprentteaters, jag, parke en natuurreservate – wat ook toerismeverwant is – later deur die relevante ministers waaronder dit resorteer, uitgereik sal word.

Sy het dit ook duidelik gestel dat al die instellings wat onder haar departement heropen, te alle tye daagliks boek moet hou van alle klante en personeel by die instelling omdat dit die opsporing van mense wat in kontak met ’n besmette persoon was, sal vergemaklik.

“Ons moet daaraan voldoen. Dit is die ‘nuwe normaal’.”

Dít sal voortaan geld wanneer jy vir maaltyd gaan aansit in ’n restaurant, wegneemete-plek of koffiewinkel:

*kliënte moet ’n siftingsvorm invul wanneer hulle die onderneming besoek;

*jy sal nie toegelaat word as jy nie ’n lapmaskers of enige ander item dra wat die neus en mond bedek nie en dit mag net afgehaal word wanneer mense eet of drink;

*jy sal jou hande moet ontsmet voordat jy in die perseel toegelaat word;

*gesonde afstande van 1,5 meter moet te alle tye tussen die kliënt en verkoopstoonbank gehandhaaf word;

*kliënte moet ook 1,5 meter van mekaar in rye staan;

*sitplekke moet ook 1,5 meter uit mekaar wees in die restaurant.

Meer oor:  Mmamoloko Kubayi-Ngubane  |  Eet  |  Regulasies  |  Drink  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.