
Vrywilligers van die Saaberie Chishty-ambulansidiens maak gereed om die liggaam van 'n persoon wat aan Covid-19 dood is, uit 'n huis in Lenasia te verwyder en na 'n begrafnisonderneming te bring. Foto: AP
Die daaglikse getal bevestigde nuwe koronavirusgevalle in Gauteng het die afgelope twee weke afgeneem.
Volgens syfers van IBM Research is 4 229 nuwe gevalle op Maandag 11 Januarie aangeteken teenoor die 1 191 nuwe gevalle wat verlede Maandag aangemeld is.
Die hoogste daaglikse getal nuwe gevalle in dié tydperk is op 15 Januarie (5 022) aangeteken.
In dié tydperk het die getal daaglikse Covid-19-sterftes ’n rekord van 225 op 12 Januarie bereik. Op 23 Januarie is 201 sterftes aangemeld, waarna die sterftes op 24 Januarie skerp tot 45 skerp gedaal het.
Die jongste syfers in Gauteng
Die kumulatiewe getal gevalle in Gauteng het Maandag op 381 574 gestaan. Luidens ’n verklaring wat die Gautengse departement van gesondheid Dinsdag uitgereik het, het 354 539 mense in die provinsie reeds herstel terwyl 7 675 aan Covid-19 dood is.
Op die oomblik is daar 5 429 Covid-19-pasiënte in staats- en private hospitale in die provinsie.
Die meeste gevalle (137) is in Johannesburg in subdistrik D, wat Doornkop, Soweto, Dobsonville en Protea Glen insluit, aangemeld.
In die Ekurhuleni-metro is die meeste nuwe gevalle (76) in Ekurhuleni-Noord 1 aangeteken. Dit sluit Birchleigh, Birchleigh-Noord, Bonaero Park, Crystal Park, Erin, Ethafeni, Kempton Park, Olifantsfontein, Tembisa en Winnie Mandela in.
In die Tshwane-metro is die meeste nuwe gevalle (162) in Tshwane 1, Ga-Rankuwa, Mabopane, die Winterveldt-kliniek, Soshanguve, Rosslyn, Karen Park, Wonderboom, Akasia, Nina Park, Orchids, Amandasig, Thereza Park en Pretoria-Noord aangemeld.
In Sedibeng is die meeste nuwe gevalle (39) in Emfuleni aangemeld, terwyl die meeste nuwe gevalle (30) in Wes-Rand in Mogale City is.
Totale kumulatiewe gevalle per streek met die nuwe bevestigde gevalle tussen hakies:
Johannesburg-metro: 151 897 (368)
Ekurhuleni-metro: 81 425 (219)
Tshwane-metro: 101 001 (475)
Sedibeng: 21 453 (44)
Wes-Rand: 22 318 (56)
Nie toegeskryf: 3 480 (29)