Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng: Departement skrap reëls oor kosverspreiding

Wanneer sy weer ’n grondboontjiebottertoebroodjie, wat met liefde gemaak is, in iemand se hand kan sit, gaan sy waarskynlik van dankbaarheid in trane uitbars.

Só het ’n emosionele Melodie van Brakel, stigter van die liefdadigheidsorganisasie Cradle of Hope in Krugersdorp, Donderdag aan Netwerk24 gesê.

Die organisasie veg die afgelope twee weke onverpoos om toestemming te kry om weer toebroodjies aan honger mense uit te deel nadat die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling hulle opdrag gegee het om dit te staak.

Mense moet sorg dat ’n gesonde afstand gehandhaaf word en dat minder as 50 mense in ’n tou staan.

Van Brakel was Donderdag verheug omdat die departement in ’n verklaring gesê het dat nieregeringsinstansies weer kos mag uitdeel.

“Ek is ongelooflik moeg en gedaan. Dit was ’n moeilike twee weke. Ons kan nou weer aangaan om vir mense kos te gee sonder om verhinder te word. Ons kan gaan slaap sonder om bekommerd te wees oor mense wat niks gehad het om te eet nie,” sê Van Brakel.

Die departement het sy regulasies oor die verspreiding van kos in die provinsie geskrap. Daarvolgens kon organisasies kos aan die departement skenk om versprei te word, en indien organisasies kospakkies wou uitdeel, moes hulle eers ’n permit bekom en ’n plaaslike polisiekantoor voor enige verspreiding daarvan inlig.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling trek die riglyne oor voedselskenkings en -verspreiding terug, ondanks die ontvangs van skenkings van organisasies en ondernemings. Dit kom ná gesprekke met die kantoor van die premier van Gautengse oor uitdagings wat ander organisasies ondervind met die riglyne vir die verspreiding van voedsel aan gemeenskappe,” lui die verklaring.

Thabiso Hlongwane, woordvoerder van Panyaza Lesufi, waarnemende LUR vir maatskaplike ontwikkeling, sê daar is egter kommer dat Covid-19 vinniger kan versprei aangesien mense nou weer kos mag uitdeel.

“Mense moet sorg dat ’n gesonde afstand gehandhaaf word en dat minder as 50 mense in ’n tou staan,” sê Hlongwane.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê die terugtrek van die regulasies word verwelkom. Helpende Hand het regshulp aan Cradle of Hope gebied om voort te gaan met kosverspreiding en ’n dringende hofaansoek teen die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling te bring.

Volgens Noëth sal hulle met hul regspanne oor die jongste verwikkelinge konsulteer.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê hulle is bly die departement het die lig gesien. Hy sê egter dit beteken niks vir die taakspan wat Saai en AfriForum op die been gebring het om met die verspreiding van kos voort te gaan nie, maar nou kan organisasies wat deur die departement geïntimideer is, weer met vrymoedigheid kos versprei.

Dereleen James van die Eldorado Park-Covid-rampbestuurspan, wat uit plaaslike organisasies, kerkgroepe en plaaslike raadslede bestaan, sê sy is bly hulle kan nou weer voortgaan om honger mense in die gebied te voed. “Die moeilikste om te verduur was om mense weg te wys en te sê ons kan hulle nie kos gee nie. Ons is verlig dat ons weer gekookte kos kan uitdeel. Wat kospakkies betref, het almal nie die hulpbronne soos elektrisiteit of water om self die kos te berei nie,” sê James.

Meer oor:  Cradle Of Hope  |  Krugersdorp  |  Gauteng  |  Honger  |  Inperkingsregulasies  |  Kos  |  Kosverspreiding  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.