Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng-gesondheid R5 mjd. in die rooi

Die Gautengse departement van gesondheid sal waarskynlik ’n reddingsboei moet kry, waarsku die DA.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê dr. Gwen Ramokgopa, Gautengse LUR vir gesondheid, het verlede week bevestig die departement is sowat R5 miljard in die rooi.

Bloom het haar op ’n vergadering van die Gautengse wetgewer se gesondheidskomitee oor die departement se skuldlas uitgevra. Die departement het R1 miljard oorbestee en sy skuldlas staan op R4 miljard, sê die DA in ’n verklaring.

Thabo Masebe, woordvoerder van die Gautengse regering, erken “daar is probleme by die departement”.

“Ek verseker jou egter dat die regering wel die probleem hanteer. Ons gee ons volle aandag hieraan.”

Die stabilisering van die departement is volgens hom nie net vir die provinsiale regering ’n topprioriteit nie, maar ook vir dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, en selfs vir pres. Cyril Ramaphosa.

Hoewel hy nie wou sê of die departement ’n reddingsboei gaan kry nie, het hy wel gesê “maatreëls is getref om te verseker dat die departement teen die einde van die boekjaar nie skuld het nie”.

Die Gautengse tesourie het verlede jaar R4,8 miljard aan die provinsiale gesondheidsdepartement beskikbaar gestel om sy groeiende skuld te delg.

Lees ook: R4,8 mjd. vir departement se groeiende skuldlas

Hiervan is R1,5 miljard reeds in die 2018-’19-boekjaar beskikbaar gestel.

Die departement se skuldlas was teen die einde van die vorige boekjaar R7 miljard, berig IOL.

Bloom het aan Netwerk24 gesê die departement het R200 miljoen te min gekry vir die aanpassings aan personeellede se lewenskoste, en die departement moes sowat R400 miljoen uitbetaal vir eise weens mediese nalatigheid.

“Maar die departement is jaar ná jaar nie in staat om sy skuld te delg nie. Die skuld word elke jaar bloot na die volgende boekjaar oorgedra, ten spyte van David Makhura, premier, se omkeerplanne.”

Die departement se begroting vir dié boekjaar was R46,4 miljard.

“Dit is die grootste begroting in die provinsie. Dit is groter as die Tshwane-metro se begroting. Jy kan letterlik ’n stad met dié begroting bestuur.

“Makhura is nou al vyf jaar lank die Gautengse premier, maar die situasie lyk steeds net so slegs soos dit tydens Brian Hlongwa se premierskap gelyk het,” sê Bloom.

Masebe wys daarop dat die gesondheidsdepartement van April 2017 tot 19 Maart 2018 R17 miljard aan meer as 7 000 verskaffers betaal het.

“Die verskaffers het ingestem dat die departement sy skuld oor drie jaar aan hulle terugbetaal.”

Boonop het Makhura dadelik opgetree toe Ramokgopa einde 2017 al die probleme in dié departement uiteengesit het.

’n Taakspan is aangestel om die finansies te stabiliseer. “Die departement rapporteer gereeld aan die taakspan en ons is tevrede met die bewyse dat hulle die skuld stelselmatig vereffen.”

Meer oor:  Jack Bloom  |  Gwen Ramokgopa  |  Gauteng  |  Gesondheidsdienste  |  Taakspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.