Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng-getalle styg skerp; strenger regulasies oorweeg

Gautengers in hoërisikogroepe wat ernstig siek kan word weens die koronavirus-pandemie, moet hulself weer op vlak 5 van die staat van inperking plaas, meen ’n gesondheidskenner.

Met 42,2% van die land se aktiewe gevalle word die provinsie tans as Suid-Afrika se brandpunt beskou.

Daarby het dr. Bandile Masuku, die provinsie se LUR vir gesondheid, Maandag gesê die moontlikheid om na ’n hoër vlak van inperking terug te keer, word oorweeg.

Luidens syfers wat die provinsiale departement van gesondheid Maandag uitgereik het, is 174 Gautengers al aan Covid-19 dood en is daar 1 332 pasiënte in staats- en private hospitale.

Die totale getal bevestigde gevalle in die provinsie is tans 36 895.

covid-19, vooruitskatting

Volgens prof. Susan Goldstein, ’n openbaregesondheidspesialis verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sal dié getal nou skerp styg.

“Mense met komorbiditeite soos vetsug of diabetes en kwesbare mense van byvoorbeeld ouer as 60, moet vir eers hulself weer op vlak 5 van die staat van inperking plaas.”

Goldstein sê dit is moeilik om te voorspel hoeveel gevalle Gauteng op sy kruin sal bereik, maar as sy kyk na beskikbare data en wat wêreldwyd gebeur, skat sy die provinsie sal tot minstens middel-Augustus Suid-Afrika se brandpunt wees.

“Dis kenmerkend van die virus dat die getalle vinnig klim, sowat ses weke lank hoog bly en dan weer stelselmatig begin afplat,” sê Goldstein.

Luidens die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) se jongste beskikbare voorspellings kan Gauteng in die bes moontlike scenario teen November 10 010 sterftes hê, en in die slegste scenario 10 614 sterftes.

covid-19, vooruitskatting
covid-19, vooruitskatting

Nios, tesame met Suid-Afrika se Covid-19-modelleringskonsortium, het die modelle vir die voorspellings op 6 Mei bekend gemaak.

Dr. Harry Moultrie, ’n senior epidemioloog by Nios, het Maandag gesê die model is die jongste beskikbare langtermynvoorspelling. Hulle is tans besig om die voorspellings by te werk.

Die model voorspel dat die piek tussen Julie en Augustus bereik sal word. Optimisties geskat, kan Gauteng teen Augustus 330 701 aktiewe, simptomatiese gevalle hê; pessimisties geskat, kan die provinsie egter reeds in Julie 382 819 aktiewe, simptomatiese gevalle hê.

Gauteng kan teen November enigiets tussen 12 574 751 (optimisties) en 13 274 560 totale bevestigde gevalle hê.

Die verwagting is dat daar van Julie tot Augustus tussen 6 000 en 9 000 pasiënte in waakeenhede sal wees.

Prof. Glenda Gray, ’n subkomiteevoorsitter van die ministeriële raadgewende komitee oor Covid-19, sê die huidige getal pasiënte in hospitale en aangetekende sterftes is ’n goeie aanduiding van waar ons met die virus staan.

Gray sê egter modelle gee bloot ’n aanduiding van wat kan gebeur en is nie altyd akkuraat nie.

covid-19, vooruitskatting

Gray sê gevalle neem skerp toe, maar dit sal nie doeltreffend wees om tot vlak 5 van die inperking terug te keer nie.

“In hierdie stadium moet bejaardes en weerlose mense teen die virus beskerm word, maar dit moet gebalanseer word teen die nodigheid om die ekonomie te heropen. Ons kan nie bekostig om op vlak 5 te wees nie. Meer mense sal hul werk verloor en as skole gesluit bly, sal minder kinders elke dag iets kry om te eet,” sê Gray.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê haar grootste bekommernis is wanneer meer leerlinge in Augustus terugkeer skool toe.

Volgens Coetzee kan die piek selfs in September bereik word, soos wat aanvanklik voorspel is.

Coetzee sê mense moet nou bekommerd word, want getalle neem toe en daar is ’n tekort aan hospitaalbeddens. “Moenie in ’n winkelsentrum ingaan as dit soos Kersfees lyk nie,” waarsku sy.

Die nasionale departement van gesondheid het nie op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.