Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng het ooreenkoms met private hospitale vir beddens

Die Gautengse gesondheidsdepartement het ’n ooreenkoms met private hospitale bereik waarvolgens die beskikbaarheid van hospitaalbeddens vir Covid-19-pasiënte bestuur sal word, sê dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid.

“Dit is lankal gedoen. Op die oomblik gaan dit vir ons net om die beste tariewe te kry,” sê hy.

“ ’n Mens moet in gedagte hou dat private hospitale nie noodwendig dokters het nie. Dit is private dokters wat pasiënte soontoe verwys. En ons het ’n bietjie gesukkel om met die private, onafhanklike dokters ooreen te kom oor tariewe.”

Hy sê in die Wes-Kaap is ’n basiese tarief aan private hospitale betaal. Daaruit is die private dokters vergoed. “Maar ons wil seker maak dat ons nie probleme op dié gebied kry nie,” sê Masuku.

Hy het in reaksie op berigte Sondag in Rapport dat dokters en verpleegpersoneel moet besluit wie se lewe gaan gered word weens ’n tekort aan beddens in waakeenhede gesê geen pasiënt mag weggewys word nie.

“Pasiënte wat wag om opgeneem te word, moet gestabiliseer word by daardie hospitaal, terwyl hulle wag op ’n bed elders in die provinsie. Daar sal hulle dan die nodige verdere behandeling kry.

“Dit is ons benadering met die bestuur van beskikbare beddens.”

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Rapport was daar teen Saterdag reeds 3 100 Covid-19-pasiënte in hospitale in die provinsie, terwyl die provinsie net 1 500 beddens vir sulke pasiënte in staatshospitale en 6 800 in private hospitale het. Nie alle beddens is toegerus vir die behandeling van Covid-19-pasiënte nie.

Masuku het self verlede maand in die provinsiale wetgewer gesê Gauteng kan met ’n tekort van 6 879 beddens in eenhede vir kritieke sorg sit. Daar kan ook ’n tekort van 1 788 verpleegpersoneel vir die waakeenhede wees wanneer Covid-19 sy piek teen einde Augustus of begin September bereik.

Sondag was daar 93 044 bevestigde gevalle van die koronavirus in die provinsie, terwyl 31 831 mense reeds herstel het. 580 mense is dood.

In Johannesburg is 42 714 gevalle en 253 sterftes aangemeld, Ekurhuleni het 20 617 gevalle en 110 sterftes, terwyl 15 634 mense in Tshwane siek is en 95 mense dood is.

City Press het ook berig dat begrafnisondernemers sukkel om die toenemende getalle lyke te hanteer.

Ingevolge regulasies moet mense wat aan Covid-19 doodgaan, binne 48 uur begrawe of veras word. Tog moet van die lyke tot ses dae gehou word omdat die familie sukkel om doodsertifikate by die departement van binnelandse sake te kry.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.