Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng: ‘Hoë getalle in kort tydperk is die probleem’

Gauteng se probleem is nie die skerp styging in koronavirusgevalle nie, maar eerder die kort tydperk waarin dit gebeur het.

Dít is waarom daar nou ’n gebrek aan hospitaalbeddens in die provinsie is, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op 'n mediakonferensie gesê.

“Een van die modelle wat die Gautengse departement van gesondheid gebruik voorspel dat die provinsie teen sy piek 8 000 beddens in kritieke sorg (hoësorg- en waakeenheid) en meer as 25 000 gewone hospitaalbeddens nodig gaan hê, maar volgens sy huidige beplanning maak hy slegs voorsiening vir 14 933 beddens.”

Dr. Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verlede week op 'n nuuskonferensie by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria. Foto Deaan Vivier

Teen Maandag was daar al 98 431 bevestigde gevalle van die koronavirus in die provinsie en is 644 mense al aan Covid-19 dood.

Gauteng se lae herstelsyfer word deur Mkhize toegeskryf aan die onlangse skerp styging in nuwe infeksies.

Aan die begin van Junie het Gauteng op 4 000 bevestigde gevalle gestaan en ’n maand later was hy op 40 000. Die herstelkoers is tans laag omdat dit tyd neem vir diegene wat die virus opgedoen het, om te herstel.

Op Vrydag se mediakonferensie het die gesondheidsdepartement gesê hy sal teen einde Augustus plek vir nog 2 366 beddens in vyf bestaande hospitale inruim.

Die hospitale is die Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal, die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, die Kopanong-hospitaal, die Jubilee-hospitaal en die Tembisa-hospitaal. Tussen die hospitale sal hulle 2 174 kritiekesorg- en 192 gewone beddens ontvang. Teen Vrydag het hulle reeds 257 beddens in kritiekesorgeenhede en 89 beddens in gewone sale beskikbaar gehad.

Dr. Bandile Masuku, die LUR vir gesondheid in Gauteng, sê hulle stel ook enkele beddens in ander hospitale beskikbaar.

Altesaam 3 920 beddens sal aan veldhospitale by Nasrec (1000), Diepsloot (500), Soshanguve (500), Midrand (500), Daveyton (720) en die Tshwane-skouterrein (700) verskaf word.

Tshwane, koronavirus, veldhospitaal
Mediese werkers by die tente waar Covid-19-pasiënte behandel word by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Teen Vrydag was daar altesaam 8 301 kritiekesorg- en gewone beddens in private en openbare hospitale beskikbaar.

Dit bring die totale getal beddens op 14 933 te staan.

As daar na voorspellings gekyk word, is dit egter ’n druppel aan die emmer van die getal beddens wat die provinsie op sy piek nodig gaan hê.

Volgens die nasionale Covid-19-model van ’n konsortium van wetenskaplikes sal Gauteng tussen middel Augustus en begin September sy piek bereik.

Teen die piek sal daar 313 000 tot 400 000 aktiewe, simptomatiese gevalle wees en 8 000 tot 11 000 kritiekesorgbeddens en 25 000 tot 30 000 gewone hospitaalbeddens sal nodig wees.

Volgens Gauteng se eie modelle sal die piek die provinsie vroeg in September tref. Dit voorspel dat daar dan 419 654 tot 541 137 aktiewe simptomatiese gevalle sal wees, terwyl die provinsie 7 973 tot 10 281 kritiekesorgbeddens en 54 873 tot 70 888 gewone beddens nodig sal hê.

Tshwane-distrikshospitaal
Mediese werkers by die Tshwane-distrikshospitaal in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Harry Moultrie van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê hulle hoop om teen die einde van die week hul nuutste langtermynvoorspelling vir Suid-Afrika bekend te maak.

Prof. Susan Goldstein, adjunkdirekteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se sentrum vir gesondheidsekonomie, sê Gauteng se tekort aan kritiekesorgbeddens het lank voor die pandemie begin.

Sy sê 80% van mense wat die virus opdoen, sal ligte of geen simptome hê nie, maar dat 15% gehospitaliseer en 5% in kritiekesorgeenhede opgeneem moet word.

“Dit is laag, maar dit is steeds noodsaaklik dat daar beddens, suurstof en ventilators vir hierdie mense beskikbaar is,” sê Goldstein.

Sy sê gesondheidswerkers is onder druk en senuagtig.

Daar is ook ’n tekort aan personeel omdat diegene wat die virus onder lede het nie kan gaan werk nie.

John Steenhuisen, tussentydse voorsitter van die DA, het Maandag aan Netwerk24 gesê slegs die Wes-Kaap se veldhospitale is nou gereed.

“Nasrec in Gauteng het begin as ’n kwarantyngerief. Hulle probeer nou suurstofpunte aanbring en die plek beman, maar dit moes lankal gebeur het.

PPE, beskermende drag, koronavirus, Tshwane-distri
Beskermende hospitaaldrag hang buite die tente waar Covid-19-pasiënte by die Tshwane-distrikshospitaal behandeling ontvang. Foto: Deaan Vivier

“Dit werk beslis nie ten volle nie. Ten volle funksionering vereis dat hospitaalbeddens beman word deur mediese personeel en toegerus is met suurstof. Sover ons kennis strek, is die ander veldhospitale slegs in die beplanningsfase,” sê Steenhuisen.

Mkhize het Maandag op ’n vraag oor die funksionaliteit van die veldhospitale gesê dat hulle aanvanklik minimale toerusting nodig gehad het.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse gesondheidsdepartement, sê die regering het ’n ooreenkoms met die private sektor aangegaan vir die gebruik van sy beddens, “teen ’n bepaalde koste aan die regering”.

Volgens haar is die departement sedert Maart besig om bykomende dokters en verpleegpersoneel aan te stel. Sy ontken berigte dat die provinsie ’n suurstoftekort het.

Sy bevestig wel dat afgesien van ’n tekort aan beddens, daar ook waterprobleme by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg is.

Kekana sê daar is wel Sondag watertenks by die hospitaal opgerig en Maandag is ’n watertenker ook daarheen ontplooi.

* Die berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.