Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
'Gauteng kan nie vlak 5 bekostig’

Dit is nie vir Gauteng moontlik om terug te keer na vlak 5 van die staat van inperking nie, al styg sy getal Covid-19-infeksies teen ’n drastiese tempo.

David Makhura, premier van Gauteng, op Donderdag se mediakonferensie van die Covid-19-bevelsraad in Gauteng. Hy sê Gauteng kan nie nog ’n vlak 5-inperking bekostig nie. Foto: Verskaf

So het David Makhura, premier van Gauteng, Donderdagmiddag op ’n mediakonferensie van die provinsiale Covid-19-bevelsraad gesê.

“Die ekonomie in die provinsie is aan die herstel. Om weer sulke drastiese inperkings in te stel, sal katastrofies wees. Ons kan nie bekostig dat mense weer by die huis sit nie. Mense is in Gauteng vir ekonomiese doeleindes,” het hy gesê.

Makhura het egter Donderdag toegegee die provinsie sal wel moet kyk na strenger maatreëls om die verwoestende impak van die derde vlaag van Covid-19-infeksies te beveg.

“Ek het reeds met die president hieroor vergader. Ek kan ongelukkig nie sê wat ek aan hom gesê het nie. Ons sal ’n balans moet vind tussen lewens red en die ekonomie,” sê hy.

Dit is reeds te laat vir vlak 5. Vlak 2 het niks gehelp nie, en die huidige vlak 3 dui nog op geen resultate nie. Daar moet gekyk word na ’n mengsel van vlak 3 en vlak 4.

Hy sê Gauteng se hospitale verkeer ook tans onder groot druk en streng maatreëls sal daardeur gedryf moet word. “Die voorgestelde maatreëls is aan die nasionale Covid-19-bevelsraad (NCCC) verskaf en daar sal binnekort daaroor vergader word.”

Dr. Mary Kawonga, voorsitter van die Gautengse bevelsraad, op Donderdag se mediakonferensie. Sy sê Gauteng sal moet kyk na ’n mengsel van vlak 3- en vlak 4-inperkings. Foto: Verskaf

Dr. Mary Kawonga, voorsitter van die Gautengse bevelsraad, en prof. Bruce Mellado, lid van die premier se advieskomitee oor Covid-19, het albei Donderdag op die mediakonferensie saamgestem dat Gauteng strenger maatreëls benodig.

“Dit is reeds te laat vir vlak 5. Vlak 2 het niks gehelp nie, en die huidige vlak 3 dui nog op geen resultate nie. Daar moet gekyk word na ’n mengsel van vlak 3 en vlak 4,” sê Kawonga.

In vorige vlak 3-inperkings was alkohol wel op sekere tye beskikbaar.

Kawonga sê weens die ekonomiese impak wat dit kan hê, sal dit nie moontlik wees om die drankbedryf geheel en al te sluit nie.

Makhura het gesê dit sal ook nie moontlik wees om net Gauteng se inperking te versterk nie. “Ons moet dink aan die provinsies rondom ons,” sê hy.

Met Gauteng wat Woensdag ’n rekordgetal daaglikse infeksies, meer as 10 000, aangemeld het, het Mellado Donderdagmiddag daarop gewys dat die impak van die derde vlaag van infeksies veel erger is as in die eerste en tweede vlaag van die pandemie. Hy sê die verwagting is dat Gauteng sy piek van die derde vlaag in die eerste week van Julie sal ervaar.

“Dit is ’n lang tyd in die pandemie. Baie mense kan nog siek word, gehospitaliseer word en selfs doodgaan,” het Makhura in reaksie daarop gesê.

Ons sal hierdeur moet beweeg. Baie mense gaan siek word en sterf.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het Donderdag aan Netwerk24 gesê hulle verwag dat Gauteng binne die volgende twee tot drie weke sy piek sal bereik.

Sy het herhaal dat die instel van ’n strenger inperking in Gauteng nie sal help nie omdat dit te laat is. “Ons sal hierdeur moet beweeg. Baie mense gaan siek word en sterf.”

Prof. Susan Goldstein, gesondheidsekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê dit is moeilik om te voorspel wanneer Gauteng sy piek sal bereik. Makhura het Donderdag gesê alhoewel Gauteng se hospitale nie tans tot kapasiteit vol is nie, is daar baie druk op die gesondheidsektor, en daarom word bykomende planne beraam.

“Ons is deurlopend besig om nog beddens beskikbaar te stel. Die gerug dat ons mense na ander provinsies oorplaas, is vals. Ons sal plek vind hier by ons,” sê hy. Meer as 5 800 mense is tans in Gauteng gehospitaliseer.

hospitalisasies, gauteng

Makhura sê die provinsie is ook in die proses om nog gesondheidswerkers aan te stel.

Hy het bekend gemaak die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, wat sedert April weens ’n brand gesluit is, sal van Maandag 28 Junie in fases begin oopmaak. “Daar sal nuwe kapasiteit wees vir Covid-19-gevalle. Die onkologie-eenheid sal ook heropen.”

Makhura sê Gauteng sal ook probeer om sy inentingsprogram te versnel, asook om toetsing in die provinsie te versnel.

“Die huis is aan die brand. Bly veilig en kom die maatreëls na,” sê hy.


‘Onthou van die ander provinsies’ 

Coetzee sê die regering moet die situasie in die ander provinsies fyn dophou omdat inperkings daar nog ’n verskil kan maak. “Ons kan nie sê wanneer hulle die piek sal bereik nie, want die virus is onvoorspelbaar.”

Goldstein sê dit lyk wel of die Vrystaat, waar die getal infeksies vroeg begin toeneem het, sy piek bereik het en of daar weer ’n afname in gevalle is.

Volgens haar is dit, buiten vir die Vrystaat, ook onvoorspelbaar wanneer gevalle in ander provinsies sal begin stabiliseer. Sy voeg wel by dat die Wes-Kaap, waar infeksies toeneem, fyn dopgehou moet word.

Meer oor:  Prof. Susan Goldstein  |  David Makhura  |  Covid-19  |  Gauteng  |  Infeksiekoers  |  Ekonomie  |  3De Vlaag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.