Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng maak gereed vir groot getalle met Covid-19

Met 81 546 bevestigde gevalle van mense wat die koronavirus onder lede het, is Gauteng nou amptelik Suid-Afrika se nuwe brandpunt met die meeste bevestigde gevalle.

Van hulle het 26 438 mense herstel en 515 is dood, het die Gautengse gesondheidsdepartement in ’n verklaring gesê.

“En dit is net die begin van ’n storm wat ons nou sal moet hanteer,” het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydag op ’n besoek aan die Tshwane-distrikshospitaal in Pretoria gesê.

“Hoewel ons natuurlik bekommerd en waaksaam moet wees wanneer getalle styg, is dit wat ons in Gauteng sien, nie onverwags nie,” het hy gesê en ook benadruk dat Covid-19-gevalle nie net in Gauteng gaan toeneem nie, maar ook in die ander provinsies.

Beskermende drag vir gesondheidswerkers wat met Covid-19-pasiënte werk, hang in die son by die Tshwane-distrikshospitaal in Pretoria.Foto: Deaan Vivier

Die Tshwane-distrikshospitaal word nou net gebruik vir mense wat met die nuwe koronavirus gediagnoseer is.

Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, sê dié pasiënte word sedert April suksesvol daar behandel deur spesialiste van die Steve Biko-hospitaal.

Gesondheidswerkers is besig om die tente skoon te maak by die Tshwane-distrikshospitaal waar pasiënte vir Covid-19 behandel en getoets word. Hierdie hospitaal behandel tans net pasiënte wat die nuwe koronavirus opgedoen het.Foto: Deaan Vivier

Tente is ook by albei die hospitale opgerig vir die toetsing en behandeling van pasiënte. Dit word nou al byna drie maande so gedoen.

“Die vermoë van ons hospitale is nie staties nie en ons bou voortdurend voort soos ons op die pandemie reageer. Ons moet aanpasbaar wees en meer beweeg om seker te maak dat ons die (toename in) pasiënte kan hanteer,” sê Masuku.

“Ons doelwit is om te verseker dat pasiënte nie weggewys word nie en dat alle pasiënte wat na ons kom, gehelp word. Selfs al wag hulle op beddens in tente, moet hulle steeds behandel word.

“Ons tente moet die vermoë hê om die werk van ’n waakeenheid te verrig en ook suurstof te kan gee.”

Een van die gesondheidswerkers in ’n tent by die Tshwane-distrikshospitaal waar pasiënte vir Covid-19 getoets en behandel word. Foto: Deaan Vivier

Volgens dr. Mathabo Mathebula, uitvoerende hoof van die Steve Biko-hospitaal, het die Tshwane-distrikshospitaal al meer as 600 Covid-19-pasiënte opgeneem.

Sy verduidelik pasiënte word eers na die tente geneem vir toetsing. As hulle positief toets vir die koronavirus, word hulle opgeneem in die Tshwane-distrikshospitaal, terwyl diegene met negatiewe uitslae in die Steve Biko-hospitaal opgeneem word.

“Dit gaan tans goed met al ons pasiënte, maar ons het al 33 pasiënte verloor,” sê Mathebula.

Tente is opgerig by die Tshwane-distrikshospitaal waar pasiënte vir Covid-19 getoets en behandel word voordat hulle in die hospitaal ingebring word. Foto: Deaan Vivier

Mkhize sê een van die strategieë is juis om positiewe gevalle te skei van mense wat nie die virus het nie.

“Al hoe meer mense kom nou na hospitale. Daarom gaan ons te min beddens hê. Ons het egter nog nie ons kapasiteit bereik vir beddens wat nie in die waakeenheid is nie,” sê Mkhize.

Hy sê ook hospitale landwyd sal 250 bykomende beddens kry. “Aanvanklik was is dit gehou vir gespesifiseerde hospitale, maar ons het dit uitgebrei na meer hospitale,” sê Mkhize.

“Elke hospitaal moet kan evalueer of ’n pasiënt Covid-19 het of nie. Ons sal nie nou mense van een hospitaal na ’n ander kan verwys nie.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verstel sy masker terwyl hy deur die Tshwane-distrikshospitaal beweeg.Foto: Deaan Vivier

Hy sê ook verder kom daar meer tente by verskeie hospitale om die bykomende beddens te huisves.

“Ons moet voorsiening kan maak vir ’n toename in pasiënte wat dalk ’n dag of twee in die tente gehou moet word en wag op resultate. Daarna sal hulle na die hospitaal geskuif word.

“Buiten vir die 250 beddens by elke hospitaal, gaan Gauteng nóg sowat 2 000 beddens kry vir veldhospitale.”

’n Pasiënt word uit ’n ambulans gelaai by die Tshwane-distrikshospitaal en ingestoot by een van die tente waar pasiënte vir Covid-19 getoets en behandel word. Foto: Deaan Vivier

Punte vir beddens waar pasiënte suurstof kan kry, sal ook in verskeie gebiede opgerig word.

’n Deel van die ingrypings sluit ook in die verspreiding van ventilators aan verskeie hospitale.

Mkhize sê dié ingrypings is nie ’n eenmalige plan nie, maar die situasie in hospitale word daagliks gemonitor waarvolgens besluite geneem word.

“Namate ons meer pasiënte sal moet akkommodeer, raak dié soort ingrypings baie belangrik vir ons.”

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Gauteng  |  Koronavirus  |  Getalle  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.