Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng meld weer meer as 5000 Covid-19-gevalle aan

Gauteng het vir die tweede agtereenvolgende dag meer as 5 000 nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld.

Die Gautengse gesondheidsdepartement het Vrydag in ’n verklaring bekend gemaak 5 597 van Suid-Afrika se 9 149 nuwe gevalle Donderdag is in dié provinsie aangemeld.

Die dag tevore is 5 111 nuwe gevalle in Gauteng aangemeld. Gauteng het nou 489 711 bevestigde gevalle van die virus, met 11 573 pasiënte wat dood is en 447 702 wat reeds herstel het. Altesaam 429 168 mense in Gauteng is reeds teen Covid-19 ingeënt.

“Ek is uiters bekommerd oor Gauteng omdat sy bevolking so groot is. Baie mense woon in informele nedersettings en die virus versprei baie maklik daar,” sê prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Lees ook: Strenger regulasies nodig vir 3de vlaag, sê kenners

Mphahlele sê hy is ook veral bekommerd oor die verspreiding van die virus wanneer inwoners van openbare vervoer gebruik maak.

“Ons weet taxi-operateurs gaan hulle taxi’s volmaak. Hulle maak ook nie seker dat almal maskers dra nie. Die verspreiding van die virus tydens die gebruik van openbare vervoer is ’n groot probleem en ons sal dit moet hanteer,” sê hy.

Hy sê onnodige beweging en verontagsaming van Covid-19-maatreëls is ook ’n probleem.

grafika

Dr. Mary Kawonga, voorsitter van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, en dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, het ook Donderdag hul kommer uitgespreek oor inwoners van Gauteng wat nie die maatreëls teen die verspreiding van die virus nakom nie.

“Dit is asof die mense vergeet het ons gaan gebuk onder ’n pandemie. Die grootste faktor wat bydra tot Gauteng se styging in nuwe daaglikse gevalle is mense wat nie gehoor gee aan die regulasies rakende die pandemie nie,” het Kawonga aan Netwerk24 gesê.

Coetzee het gewaarsku dat die derde vlaag nie sal afplat indien mense nie die maatreëls nakom nie.

In ’n verklaring Donderdag het die Gautengse gesondheidsdepartement ook sy kommer oor die styging in nuwe gevalle uitgespreek. “Meer as 50% van die land se nuwe daaglikse infeksies word hier aangemeld,” lui die verklaring.

Dié departement het Tshwane 3 en 4, Johannesburg B en C, Ekurhuleni N2 en S1, Mogale City en Emfuleni as brandpunte in die provinsie geïdentifiseer.

Die gesondheidsdepartement het Vrydag weer eens ’n beroep op inwoners gedoen om die regulasies na te kom.

Meer oor:  Gauteng  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.