Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng mik vir 100 000 inentings per dag
Die Gautengse premier, David Makhura, groet mense wat by die Witkoppen-kliniek in Fourways wag om ingeënt te word. Foto: Brümilda Swartbooi

Gauteng mik om in Augustus die vlak van 100 000 inentings per dag te bereik.

Die Gautengse premier, David Makhura, sê om by dié mikpunt uit te kom, sal die getal inentings by inentingspersele sowel as die getal inenters moet verdubbel en meer inentingspersele moet oopgestel word.

“Die doelwit vir die provinsie is nou inenting. Dit sal die groot verskil maak. Ons het die getal inentingspersele verhoog.

“Twee en ’n half weke gelede was ons op 250 en ons is nou op 660 inentingspersele, waarvan 60% in die openbare sektor en 40% in die private sektor is. Ek sal baie bly wees as ons 100 000 inentings per dag bereik.

“Verlede week het ons 61 000 inentings op ’n dag behaal. Al ons inentingspersele moet die getal mense wat hulle inent verdubbel,” het Makhura by die Witkoppen-kliniek in Fourways gesê.

By dié kliniek word meer as 600 mense per dag ingeënt. Makhura sê die mikpunt vir die kliniek is 1 000 inentings per dag.

Teen Maandag is 1 599 777 inentings reeds in die provinsie toegedien.

Mogeru Morewane, hoofdirekteur in die Johannesburgse metro se gesondheidsdistrik, sê daar was nog geen probleme met instap-inentings nie.

Sy sê mense wat hulle graag wil inent maar nie die nodige bronne het om te registreer nie, word aangemoedig om na inentingspersele te gaan.

“Ons registreer jou op die terrein en dan word jy ingeënt. Ons het nog nooit ’n situasie gehad dat daar ’n stormloop was nie. Ons is tevrede met die instap-inenting; ons ontvang meer mense as wat ons verwag het.”

Die Johannesburgse metro het intussen in ’n verklaring gesê 121 310 mense is reeds by die metro se nie-mediese persele ingeënt sedert hierdie sentrums op 24 Mei geopen het. Hier word tussen 120 en 230 mense per dag ingeënt.

Infeksies daal

Makhura sê infeksies in die provinsie daal.

“Volgens alle aanduidings het Gauteng reeds die piek bereik; infeksies daal, maar ook hospitaalopnames en die getal mense wat aan die virus sterf.”

Die Gautengse premier, David Makhura, en Mogeru Morewane, hoofdirekteur in die Johannesburgse metro se gesondheidsdistrik, Dinsdag op ’n besoek aan die Witkoppen-kliniek in Fourways. Foto: Brümilda Swartbooi

Prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, sê teen die eerste helfte in Augustus behoort die aktiewe gevalle in Gauteng tot minder as 20 000 te daal.

Teen Maandag was daar ongeveer 33 000 aktiewe gevalle.

Mellado meen teen Augustus sal die provinsie uit die hoërisiko-situasie wees.

Mellado sê dit is egter geen rede om gerus te word nie. Inentings “is nou belangrik”.

Sowat ’n week gelede, op Sondag 18 Julie, is meer as 4 300 daaglikse nuwe gevalle aangemeld en die totale sterftes sedert die begin van die pandemie het toe op 15 391 gestaan. Dinsdag 20 Julie is 3 200 nuwe daaglikse gevalle aangeteken en die totale sterftes in die provinsie het op 15 605 gestaan.

Volgens syfers van die gesondheidsdepartement het die getal bevestigde gevalle in die provinsie Maandag op 844 746 gestaan met 795 422 mense wat reeds herstel het.

In Gauteng is 16 436 mense nou reeds aan Covid-19 dood.

grafika
Grafika
grafika
Grafika

Altesaam 7 638 mense is tans in die hospitaal van wie 3 316 in staatshospitale en 4 322 in private hospitale.

Meer oor:  Infeksies  |  Inenting  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.