Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng: Regulasies te laat – 3de vlaag veel erger

Die derde vlaag van Covid-19-infeksies gaan Gauteng veel harder as die eerste twee vlae tref.

Boonop is die strenger inperkings twee weke te laat om ’n beduidende verskil aan die benarde situasie in die provinsie te maak, glo dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het die land Dinsdagaand na ’n vlak 3-inperking teruggeskuif op dieselfde aand dat 67% van die nuwe virusgevalle in Gauteng aangemeld is.

Teen Woensdag het die infeksies in Gauteng met 5 433 gestyg wat die totaal op 514 486 te staan bring.

Altesaam 4 420 mense word tans vir die virussiekte in hospitale behandel.

“Die infeksies in Gauteng styg vinniger en skerper as in die ooreenstemmende tyd in die vorige vlae. Die nuwe gevalle sal waarskynlik binne enkele dae die kruin van die tweede vlaag verbysteek,” sê Ramaphosa.

Coetzee het die regulasies ’n “pleister op ’n vrot wond” genoem en Woensdag aan Netwerk24 gesê dit sou dalk ’n verskil gemaak het as dit twee weke vroeër ingestel is.

Sy sê Ramaphosa moes ook skole minstens drie weke gesluit het om die oordrag van die virus te keer.

Intussen sê prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder vir die provinsie se Covid-19-bevelsraad, dat die “slegste moontlike scenario” wat vir die provinsie voorspel is hom nou hier afspeel.

Mellado sê dit beteken dat almal wat nie in die eerste of tweede vlaag die virus gekry het nie, “dit beslis nou sal opdoen”.

Volgens hom het ’n bietjie meer as die helfte van die bevolking in die eerste en tweede vlaag van die pandemie die virus opgedoen.

Die derde vlaag is erger as die eerste twee. As ons so aanhou en nie ons gedrag verander nie, gaan dit katastrofies wees.

Daar is aanvanklik voorspel dat Gauteng in die laaste week van Junie sy kruin van die derde vlaag van infeksies sou bereik. Mellado sê omdat Gauteng nou in die “slegste moontlike scenario” is, sal die provinsie eers in die eerste week van Julie sy kruin bereik.

“Die derde vlaag is erger as die eerste twee. As ons so aanhou en nie ons gedrag verander nie, gaan dit katastrofies wees,” sê Mellado.

Hy het wel Woensdag Ramaphosa se regulasies geloof en gesê dit sal help om die pas waarteen die virus beweeg te vertraag.

“Ons gaan nie die vlaag keer nie, die beste wat ons nou kan doen, is om die pas stadiger te maak,” sê Mellado.

Intussen is daar reeds ’n gebrek aan plek in hospitale om Covid-19-pasiënte te behandel.

Coetzee sê openbare en private hospitale sukkel en dat daar ook ’n gebrek aan personeel is.

Die privaathospitaalgroepe Netcare en Mediclinic erken hulle is onder druk.

“Soos die oplewing verskillend ervaar word in die provinsies, stel dit ons is staat om toerusting soos ventilators na gebiede wat onder druk is te verskuif. Die beskikbaarheid van hulpbronne soos suurstof word ook voortdurend gemonitor,” sê dr. Gerrit de Villiers, hoof- kliniese beampte by Mediclinic Suider-Afrika.

Netcare sê hy het alle niedringende operasies gestaak om kapasiteit vir pasiënte, veral in Gauteng, te bewerkstellig.

“As deel van ons rampbestuursbeplanning het ons tydelike kliniese besluitnemingseenhede by sekere hospitale in die provinsie ingerig om bykomende pasiënte te akkommodeer,” sê Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling

Prof. Francois Venter, kenner in oordraagbare siektes aan die Universiteit van die Witerwatersrand, sê hy stem met Mellado saam dat die derde vlaag veel erger is.

“Die probleem is ook dat ons die derde vlaag aandurf met min tot basies geen beskerming van entstowwe nie. My raad aan mense is om net die derde vlaag te oorleef en dan te wag om eendag ingeënt te word,” sê Venter.

Die Gautengse departement van gesondheid het nie op Netwerk24 se navraag oor die moontlikheid van veldhospitale gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.