Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng sal pleit vir strenger regulasies – Makhura
David Makhura, Gauteng se premier. Foto: Verskaf

Die Gautengse provinsiale regering gaan by die nasionale regering pleit vir “strenger regulasies om die Covid-19-storm te oorleef”.

David Makhura, premier, het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê gevalle van besmetting met die koronavirus sal begin Augustus sy piek bereik, maar Julie “gaan reeds ’n baie moeilike maand wees”.

“Die storm is hier en strenger maatreëls gaan nodig wees as ons dit wil oorleef.”

Daar is tans 3 091 pasiënte met Covid-19 in openbare en private hospitale in die provinsie.

Teen 1 Julie is 45 944 mense positief getoets vir die virus, met 32 473 aktiewe gevalle.

Makhura sê die nasionale Covid-19-bevelsraad sal Saterdag saam met die Gautengse uitvoerende komitee vergader.

“Ons pleit dat die publiek die regulasies moet gehoorsaam om die druk op ons gesondheidsorgstelsel te verlig. Die storm is hier, maar as ons saamwerk, sal ons aan die anderkant uitkom.”

Verskerping van regulasies

Makhura het gesê dit is nog te vroeg om te sê of vlak 4 of vlak 5 van die inperking weer ingestel sal moet word, en dat dit ook moontlik is dat net sekere brandpuntgebiede weer aan strenger regulasies onderworpe kan wees.

Hy sê die strenger regulasies kan beteken dat daar weer beperkings op die verkoop van alkohol kan wees, inaggenome die groot aantal alkoholverwante mediese voorvalle.

“Die finale besluite berus by die nasionale bevelsraad, maar die provinsie het ook die mag om byvoorbeeld die handelsure vir die verkoop van alkohol te reguleer,” sê die premier.

Prof. Steve Moeng, ’n traumachirurg by die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg en verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, het op die konferensie gesê 60% tot 80% van die noodgevalle by dié hospitaal is alkoholverwant.

Hy het ook gesê daar is die afgelope tien tot 14 dae sewe sale in die hospitaal gevul met Covid-19-pasiënte – waar daar vroeër net een saal nodig was.

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid. Foto: Verskaf

Prof. Bruce Mellado, ’n wetenskaplike aan Wits se fisikadepartement, sê die universiteit en die premier se span wetenskaplikes het ’n multidissiplinêre model ontwikkel om voorspellings te maak oor die verdere verspreiding van die virus in Gauteng.

Dr. Mary Kawonga, ’n senior spesialis in openbare gesondheid verbonde aan Wits se mediese fakulteit, sê die modelle is gebruik om te bepaal presies hoeveel beddens die provinsiale gesondheidsdepartement nodig gaan hê.

Kawonga sê hospitale kan nie al hul beddens vir Covid-19-pasiënte reserveer nie. “Ons moet onsself afvra hoeveel beddens ons tans beskikbaar het, hoeveel het ons nodig en hoe gaan ons in die tekorte voorsien.”

Nie net beddens is nodig nie, maar ook die nodige gesondheidsorgwerkers.

Beskikbaarheid van hospitaalbeddens

“Ons was einde Mei bekommerd oor 300 gevalle ’n dag, en ons is nou by 3 000 gevalle ’n dag,” sê Makhura.

Hy en dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, het albei gesê die gesondheidsorgstelsel is onder “geweldige druk”.

Makhura sê hul wetenskaplike modelle wys dat hulle teen einde Junie reeds 600 beddens nodig gehad het.

“Die werk is gedoen en dit is gereed. Teen einde Julie sal ons ’n addisionele 2 077 beddens nodig hê.”

Prof. Steve Moeng, traumachirurg by die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal en verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Verskaf
Dr. Mary Kawonga van die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Verskaf
Prof. Bruce Mellado, ’n wetenskaplike aan die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Verskaf

Die provinsiale gesondheidsdepartement het ook reeds begin met die oprigting van meer as 1 500 beddens in tydelike strukture by bestaande hospitale.

Masuku sê ’n addisionele 4 000 gesondheidswerkers is ook in Junie aangestel.

“Die modelle wys ons gaan verder in die toekoms selfs nog meer beddens nodig hê, en daar sal 2 500 beddens in veldhospitale ingerig word,” sê hy.

Een van die veldhospitale is by die Nasrec-sentrum wat eers net as ’n kwarantyngerief gebruik is, maar volgens Makhura sal daar nou ook beddens met suurstof ingerig word.

Masuku het op sy beurt gesê hulle het ’n ooreenkoms met die privaat sektor gesluit om nog 8 330 beddens in Gauteng beskikbaar te stel.

“Ons het ’n bestuurspan saam met die privaat sektor aangestel sodat daar verseker kan word pasiënte kry ’n bed en sodat die nooddienste na die regte plekke verwys word.

“Ons is nog nie by die punt waar ons pasiënte moet wegwys nie, maar ons is onder druk en ons pleit dat die publiek die inperkingsregulasies gehoorsaam,” sê hy.

Heropening van skole

Makhura sê 428 onderwysers en 184 leerlinge in Gauteng is reeds positief vir die virus getoets.

“Ons is bekommerd daaroor dat daar eersdaags nog leerlinge in skole toegelaat sal word.”

Makhura sê die onderwysstelsel vaar goed met die gr. 12’s en gr. 7’s, “maar dit gaan ’n uitdaging wees om nog leerlinge te akkommodeer”.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het egter Donderdagmiddag gesê net gr. R-, gr. 6- en gr. 11-leerlinge sal Maandag terugkeer skool toe.

Meer oor:  Koronavirus  |  David Makhura  |  Covid-19  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.