Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng se beddens raak op

Siekes wag in die gange vir behandeling terwyl Covid-19-infeksies skerp styg in SA se nuwe episentrum, berig Dawie Boonzaaier en Johan Eybers.

Personeel aan diens by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg waar ’n hoësorg-saal met 29 beddens as spesiale opleidingsgerief vir die behandeling van Covid-19-pasënte ingerig is. Foto: Sharon Seretlo

In sommige hospitale in Johannesburg wag siek Covid-19-pasiënte in die gange vir behandeling omdat daar nie meer beddens beskikbaar is nie.

Só sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama).

Hoewel private hospitale volhou dat hulle steeds plek het vir Covid-19-positiewe én ander pasiënte, sê Coetzee baie van die private hospitale is amper vol.

“Ons verwag dat pasiënte na openbare hospitale gestuur sal moet word, wat ook reeds vol is. Ons het altyd gedink as openbare hospitale vol is, sal pasiënte na private hospitale gestuur word, maar dit gaan nou andersom gebeur.”

‘Hulle stel g’n inligting bekend.’

Rapport weet van minstens een pasiënt met ’n ernstige beenbreuk wat dié week per ambulans na twee private hospitale in Johannesburg geneem is, een van Netcare en een van Life. By albei is sy weggewys, kwansuis omdat hulle nie beddens gehad het nie.

Sy is uiteindelik by ’n derde hospitaal opgeneem, maar teen die naweek het sy nog gewag op ’n dringende operasie, volgens die hospitaal omdat hulle nie vir haar ’n hoësorg-bed kon kry nie.

Die Gautengse gesondheidsdepartement het Donderdag aan News24 gesê alle staatshospitale in die provinsie is vol, maar later teruggekrabbel en gesê daar is duisende beddens beskikbaar.

Maandag is ’n 33-jarige man, Shonisani Lethole, in die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni dood ’n week nadat hy en sy pa tussen verskeie hospitale en klinieke rondgestuur is omdat almal vol was. Hy het asemhalingsprobleme ondervind, maar sy familie weet steeds nie of hy Covid-19 gehad het nie.

Shonisani Lethole se laaste twiet.

Nadat hy uiteindelik opgeneem is, het Lethole aan die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, getwiet die situasie by Tembisa is onhoubaar. “Ek het vir 48 uur (nog) nie geëet nie,” het hy sy laaste twiet afgesluit.

Die hospitaal ontken dit.

In Johannesburg se B-streek, waar sowat 200 000 mense woon, was net een van die agt staatsklinieke gister heeltemal oop. Die klinieke in Parkhurst en Randburg se personeel was almal in kwarantyn, terwyl beperkte personeel by die ander klinieke moes diens doen.

“Ongelukkig is die realiteit dat die Covid-storm al ons pogings omverwerp om die gemeenskap by te staan,” lui ’n WhatsApp van ’n munisipale amptenaar wat aan Rapport gestuur is.

‘Jou kanse is skraal vir opname.’

Coetzee sê die publiek weet nie wat regtig in die hospitale aangaan nie omdat familie en vriende nie pasiënte mag besoek nie. Sama kry wel inligting van dokters en hospitaalpersoneel.

“Hulle sê vir ons daar is nie genoeg beddens nie. Jou kanse is skraal om opgeneem te word, behalwe as jy dodelik siek is. Gewone beddens gaan jy nie kry nie. Die meeste beddens in die waakeenhede word ook teruggehou vir Covid-19-pasiënte.

“ ’n Waakeenheid kan vandag vol wees en teen vanaand sterf vyf mense en môre het jy weer plek vir vyf pasiënte.”

Die probleem, sê Coetzee, is dat daar nie ’n gekonsolideerde databasis bestaan oor waar beddens beskikbaar is nie.

“Jy sou verwag dat daar elke oggend ’n lys uitgestuur word van beskikbare beddens, maar die staatshospitale stel geen inligting daaroor bekend nie.”

Netcare en Life het Saterdag gesê hulle het nog genoeg plek in hul hospitale en daar waar ’n tekort kan ontstaan, byvoorbeeld weens personeeltekorte, word pasiënte verwys na hospitale wat wel plek het.

Coetzee sê personeeltekorte weens personeel wat siek of in kwarantyn is of wat weier om te werk uit vrees vir die virus, lei daartoe dat hospitale wat beddens oop het, nie noodwendig pasiënte kan behandel nie. “Ongelukkig beteken jare en jare se wanbestuur in party hospitale dat dissipline ook ’n probleem onder personeellede is.”

Intussen word die vraag na Covid-19-toetse al hoe groter. Die Lancet- private laboratoriumdiens het besluit om in Gauteng en KwaZulu-Natal voorkeur te gee aan gesondheidswerkers, hospitaal-pasiënte, mense met simptome en hoërisiko-pasiënte met onderliggende siektes.

“Mense moet asseblief nie hulself onnodig gaan toets nie,” smeek Coetzee. “As jy dink jy is siek, maar jy het nie simptome nie, bly liewers net by die huis as om ’n kosbare toets te mors.”

Sy sê strenger inperkingsmaatreëls, soos waarop vroeër die afgelope week gesinspeel is, sal niks help nie. “Die virus is klaar hier. Die voorbereiding moes klaar gedoen gewees het. Ons moet onsself maar regmaak dat die volgende vier of vyf weke sleg gaan lyk.”

Alex van den Heever, gesondheidsekonoom by Wits, sê die hoë volume pasiënte in Gautengse hospitale, terwyl getalle van Covid-19 nog styg, is uiters kommerwekkend. “Daar gaan in die volgende paar weke nog meer druk op hospitale wees om al die nuwe gevalle te hanteer.

“As jy na die syfers kyk, lyk dit nie of hospitale die druk sal kan hanteer nie.

“Niemand weet wat by staatshospitale aangaan nie omdat hulle geen inligting bekend maak nie en die provinsiale departement van gesondheid sê niks oor wat hulle doen om die vinnige verspreiding van die virus te stabiliseer nie.”

Van den Heever sê die isolasie-en-kwarantyn-eenheid wat by die Nasrec-sentrum ingerig is, “is ’n grap” en kan nie vergelyk word met die drie veldhospitale wat in die Wes-Kaap opgerig is nie.

Hy verwag dat pasiënte in Gauteng uiteindelik in die Wes-Kaap behandel sal moet word as daar nie ’n toename van gevalle in dié provinsie is nie.

In die Oos-Kaap het die premier, Oscar Mabuyane, die afgelope week erken die provinsie se gesondheidstelsel is oorweldig.

Projeksies toon ’n tekort van 10 000 hospitaalbeddens.

In die Wes-Kaap het die premier, Alan Winde, Donderdag gesê die provinsie se hoogtepunt lyk nou “platter” as wat aanvanklik gevrees is, maar dat die hoogtepunt tot in Augustus kan duur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.