Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng se sterftes styg steeds

Met Gauteng se Covid-19-sterftes en nuwe gevalle per dag wat reeds dié van die Wes-Kaap verbygesteek het, is daar steeds onsekerheid oor die verskerping van regulasies.

Phumla Williams, kabinetswoordvoerder, het Dinsdag gesê die kabinet sal eers regulasies aankondig wanneer dit voorgelê word.

Dit volg nadat die Gautengse uitvoerende raad Saterdag voorstelle by die nasionale Corona-19-bevelsraad vir ingedien het oor verskerpte regulasies in die provinsie om die verspreiding van die virus en sterftes te verminder.

Kenners sê egter die regulasies kan net die piek van die virus in die provinsie uitstel, maar sal nie sterftes verminder nie.

Teen Dinsdag het Gauteng reeds 403 sterftes en 66 891 positiewe gevalle aangeteken.

Tussen Vrydag en Maandag het die sterftes in Gauteng met 121 gestyg en in die Wes-Kaap met 118.

In dieselfde tydperk het die positiewe gevalle in Gauteng met 12 560 en in die Wes-Kaap met 4 002 gestyg.

Die provinsie se voorgestelde regulasies om die skerp stygings te beheer, sluit ’n aandklokreël en beperkings op drankverkope in.

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, het Dinsdag aan Bonolo Selebano gesê hul doel is om te verseker dat die regulasies afdwingbaar is sodat dit die maksimum impak kan hê.

“Ons het voorgestel dat ons moontlik weer regulasies moet instel om beweging op sekere tye te verminder.

Ons het voorgestel dat ons moontlik weer regulasies moet instel om beweging op sekere tye te verminder.

“Ons wil ook sien dat sommige regulasies wat byeenkomste en groepe betref, heringestel word omdat ons gesien het van die uitbrekings in groot groepe ontstaan,” sê Masuku.

Oor sy voorleggings aan die bevelsraad het Masuku gesê “dit hou verband met die alkohol-regulasies – die gebruik, aankoop en verkryging daarvan”.

Wat sê kenners

Prof. Shabir Madhi, ’n entstofkundige van die Universiteit van die Witerwatersrand, sê die verskerping van regulasies om mense te beperk, “stel net die onvermydelike met ’n paar weke uit”.

Volgens Madhi kom mense nie die huidige regulasies na nie en daarom verstaan hy hoekom dit afdwingbaar moet wees.

“En ja, dit gaan gevalle en sterftes verminder, maar tensy jy van plan is om almal ingeperk te hou totdat hulle ’n entstof kry, stel jy net die piek uit.”

En ja, dit gaan gevalle en sterftes verminder, maar tensy jy van plan is om almal ingeperk te hou totdat hulle ’n entstof kry, stel jy net die piek uit.

Madhi sê hy stem wel saam met die verbod op die verkoop van alkohol, omdat pasiënte met alkoholverwante besering nou beddens in hospitale vul wat vir Covid-19-pasiënte bedoel was.

Prof. Francois Venter, ’n professor in die ontwikkeling van medisyne aan Wits, sê hy sien paniek onder Gautengers, “en ons moet bang wees”.

Venter sê daar is ’n mate van regverdiging vir die regulasies, maar dat die plaaslike regering meer baat sal vind by behoorlike opvoeding van die mense.

“Mense moet besef hulle moet hande was, maskers dra en gesonde afstande handhaaf.”

Venter sê daar moet eerder gefokus word op hospitale en om die taxi-bedryf beter te bestuur.

Wat sê die drankbedryf

Patrica Pillay, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Biervereniging (Basa), sê ’n vergadering gaan met Masuku oor die verkope van alkohol gehou word as regulasies verskerp sou word.

“Die verbod op die handel in alkohol in die eerste nege weke van inperking het gelei tot die verlies van sowat 117 000 werkgeleenthede, R18,83 miljoen verlies aan die BBP, ’n verlies van R12,03 miljoen aan belasting en R3,43 miljoen aan aksynsbelasting,” sê Pillay.

Sy sê sy hoop die vergadering met Masuku kan “gou plaasvind sodat ons ’n werkbare oplossing kan vind”.

Nog ’n bron in die drankbedryf sê hulle wou ook ’n vergadering skeduleer, maar het nog nie terugvoering gekry nie.

“Ons het gehoor die bevelsraad het nie en sal dit ook nie goedkeur nie. Dit was gister (Maandag), maar dinge is so dinamies dat dit enige oomblik kan verander,” sê die bron.

Ons het gehoor die bevelsraad het nie en sal dit ook nie goedkeur nie. Dit was gister (Maandag), maar dinge is so dinamies dat dit enige oomblik kan verander.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba) en Vinpro het in ’n gesamentlike verklaring geskryf hulle sal voortgaan om met die regering saam te werk om seker te maak dat die beleidsbesluite en -regulasies die twee voorkeure van die land in ag neem: om lewens te red en lewensbestaan te skep.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.