Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng skuif in Junie na vlak 3

David Makhura, premier van Gauteng, het Dinsdag die klem op die handhawing van ’n fyn balans tussen openbare gesondheid en die ekonomie geplaas, toe hy aangekondig het dat die provinsie as ’n geheel begin Junie na vlak 3-inperking sal skuif.

David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Felix Dlangamandla

Makhura het op die heel eerste virtuele vergadering van die provinsiale wetgewer gelyk gegee dat die provinsie steeds die tweede hoogste vlak van Covid-19-infeksies in Suid-Afrika het.

Hy het egter beklemtoon dat die provinsie nie veel langer op vlak 4-inperking kan bly nie, weens die ekonomiese verwoesting wat met die pandemie gepaardgaan.

Volgens Makhura sal al vyf provinsiale distrikte vanweë die manier waarop hulle geïntegreer is as ’n geheel na vlak 3 oorskuif. Dit sluit in Johannesburg en Ekurhuleni, albei brandpunte van die koronavirussiekte.

“Ons kan nie op ’n holderstebolder manier na vlak 3 oorgaan waar verskillende metro’s hulself byvoorbeeld gelyktydig op vlak 4, 3 en 2 bevind nie,” sê Makhura.

“Ons wil na vlak 3 skuif om die ekonomie te heropen – maar versigtig, op ’n verantwoordelike manier, om ekonomiese imperatiewe met gesondheid te balanseer. Ons kan nie te lank op vlak 4 bly nie, want te veel mense het nie die middele om hulself te onderhou nie.”

Volgens die Gautengse departement van gesondheid is daar sedert 18 Mei 2 343 bevestigde gevalle van Covid-19 in die provinsie aangeteken, waarvan 1 671 mense aangesterk en 26 dood is.

Daar is tans 297 gevalle in Alexandra, Wynberg, Sandton, Orange Grove en Houghton (Johannesburg); en 167 gevalle in woonbuurte soos Bircheigh, Birchleigh-Noord, Bonaero Park, Cyrstal Park, Erin, Ethafeni, Kempton Park, Olifantsfontein, Tembisa and Winnie Mandela (Ekurhuleni-Noord).

Makhura waarsku dat die ekonomiese rimpeleffek van Covid-19 vergelykbaar is met die impak van die Groot Depressie van 1929. Projeksies wys dat ’n minimum van tussen 900 000 en soveel as 2 miljoen mense in Gauteng werkloos gelaat sal word.

Op nasionale vlak verwag die regering dat 7 miljoen mense hul werk as gevolg van die pandemie sal verloor.

Vlak 3 van die staat van inperking laat die uitbreiding van sekere sakebedrywighede toe.

Solly Msimanga, leier van die DA-koukus in Gauteng, sê Makhura het ’n geleentheid deur sy vingers laat glip om die besonderhede uit te stippel van die provinsiale regering se plan om Gauteng se ekonomie ’n hupstoot te gee, in die lig van die gedeeltelike hervatting van ekonomiese aktiwiteit.

Hierdie is ’n selftoegediende resessie. Die meeste van die besluite wat geneem is, is sonder die nodige konsultasie met die private sektor geneem.

“Ek wil hê hy (Makhura) moet ons vertel wat sy stimuluspakket behels om die ekonomie weer op sy voete te kry en hoe hy die provinsiale begroting hiervoor gaan gebruik. Hy het daardie geleentheid verpas om aan mense te sê hoe hy tussenbeide gaan tree,” sê Msimanga.

Dr. Roelof Botha van die Optimum Investment Group sê die regering se balanseringstoertjie is eenvoudig “verkeerd”, in ag genome die koronavirus se verspreiding na verskeie sektore van die ekonomie. Volgens hom het streng inperkingsregulasies ekonomiese aktiwiteit gekelder.

“Hierdie is ’n selftoegediende resessie. Die meeste van die besluite wat geneem is, is sonder die nodige konsultasie met die private sektor geneem. Hoe langer die regering wag, hoe langer gaan dit ons neem om weer met werkskepping te begin.”

Dawie Roodt, ekonoom van Efficient Group, sê ekonomiese herstel van die impak van die inperkingsregulasies op ondernemings is nie dadelik haalbaar nie. Hy waarsku dat die land vir die voorsienbare toekoms in troebel ekonomiese water sal verkeer.

“Dit is ’n krisis bo-op ’n krisis. Die ekonomie was reeds in ’n resessie gedompel voor die aanvang van 2020. Dit sal waarskynlik lei tot ’n langdurige resessie, wat heel waarskynlik nog lank met ons sal wees.”

Popo Maja, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, en Thabo Masebe, Gautengse provinsiale woordvoerder, was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

Meer oor:  David Makhura  |  Gauteng  |  Inperkingsregulasies  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.