Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gautengse staatshospitale word ‘slagpale en lykshuise’

Syfers oor die sterftes van pasiënte in Gautengse staatshospitale “getuig van die onbevoegdheid in die openbare sektor wat ’n skadu werp oor die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering (NGV)”.

Dié reaksie kom van Jack Bloom, DA-LPW en woordvoerder vir gesondheidsorg, ná inligting dat bykans 4 000 pasiënte volgens hom grootliks weens mediese nalatigheid, in die provinsie se hospitale dood is.

Die inligting is deur Bandile Masuku, LUR vir gesondheid, op ’n geskrewe vraag van Bloom verskaf.

3 832 pasiënte is verlede jaar in 10 741 sogenaamde ernstig nadelige voorvalle (ENV) dood.

ENV word gedefinieer as gevalle waar pasiënte onbedoelde leed aangedoen word weens mediese sorg of die weerhouding daarvan.

Die oorsake hiervoor meen Bloom is stelselmatig.

“Verskeie faktore waaronder ’n buitensporig hoë werkslading, gebrekkige en gebreekte toerusting asook ’n ernstige tekort aan medisyne, verpleegpersoneel en kundige dokters dra by daartoe.”

Verskeie faktore waaronder ’n buitensporig hoë werkslading, gebrekkige en gebreekte toerusting asook ’n ernstige tekort aan medikasie, verpleegpersoneel en kundige dokters dra by daartoe.

Die Chris Hani Baragwanath-hospitaal het die hoogste ENV-sterftesyfer (1 763).

“’n Mens kan sê dié hospitaal behandel meer pasiënte, maar die getal sterftes is steeds onaanvaarbaar hoog,” sê Bloom.

Ingryping is nodig, want volgens Bloom is daar ’n algehele gebrek aan verantwoordbaarheid in die gesondheidstelsel.

“Dié gebrek suig die begroting van die gesondheidsdepartement al hoe leër met hofsake en uitbetalings vir mediese nalatigheid.”

“Ek is veral bekommerd oor die 2 307 sterftes van pasgebore babas en 238 moeders wat dood is,” het Bloom gesê.

“Daar was ook 866 septiese keisersnitte en 1 148 gevalle van kinders wat breinskade opgedoen het.

Nog ’n aanduiding van swak sorg, volgens Bloom, is die 1 052 gevalle van druksere by pasiënte in hospitale wat ook as ernstig nadelige voorvalle aangemeld word. Hy sê die koste van behandeling verhoog omdat sulke pasiënte langer in die hospitaal moet bly.

Bloom het gesê ondanks die groot getal ernstige nadelige voorvalle is slegs 77 sake vir tugstappe verwys.

Philip van Staden, VF Plus-LP en woordvoerder oor gesondheid, sê in ’n verklaring staatshospitale het ontaard het in “slagpale en lykshuise”.

“Dit kan en mag nie langer geduld word nie en die NGV is nie die antwoord om die probleem op te los nie,” het Van Staden luidens ’n verklaring gesê.

Personeel by staatshospitale moet oor die weg kom met bykans geen werkende toerusting nie en daar is voortdurend ’n tekort aan noodsaaklike medisyne.

Die departement se onderbesteding van sowat R1 miljard in die 2018/19 boekjaar is ’n skande en ’n klap in die gesig van die publiek,” aldus Van Staden.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het aan News24 gesê dit is misleidend om te beweer dat die sterftes deur nalatigheid veroorsaak is.

“Ernstig nadelige voorvalle is nie noodwendig mediese nalatigheid nie. Gevalle van mediese nalatigheid moet bewys word; dit is onverskillig en onverantwoordelik van die DA om medies nadelige gebeure gelyk te stel aan mediese nalatigheid,” het Kekana gesê.

Kekana het verduidelik dat ’n allergiese reaksie op narkose as ’n ernstig nadelige voorval beskou kan word, maar dat dit glad nie nalatigheid impliseer nie.

“In die afgelope finansiële jaar het die Gautengse departement van gesondheid meer as 21 miljoen pasiënte gehad wat in verskillende plekke oor die provinsie heen behandel is. Uit hierdie getal was 0,057% ernstig nadelige voorvalle,” het Kekana gesê.

Masuku maak Donderdag die name van 11 nuwe bestuurshoofde vir provinsiale hospitale bekend.

“Ons is bly vakatures word gevul, maar daar is steeds hospitale met waarnemende bestuurshoofde,” sê Bloom.

ENV-verwante sterftes in Gautengse staatshospitale:

* Chris Hani Baragwanath-hospitaal: 1 763;

* Steve Biko-hospitaal: 893;

* George Mukhari-hospitaal: 766;

* Charlotte Maxeke Johannesburgse hospitaal: 722;

* Helen Joseph-hospitaal: 644;

* Thelle Mogoerane-hospitaal: 625;

* Tembisa-hospitaal: 517;

* Sebokeng-hospitaal: 511;

* Weskoppies-hospitaal: 504;

* Kopanong-hospitaal: 415;

* Bertha Gxowa-hospitaal: 409;

* Tambo Memorial-hospitaal: 393;

* Rahima Moosa-hospitaal: 385;

* Kalafong-hospitaal: 345;

* Leratong-hospitaal: 323.

(Bron: Jack Bloom)

Meer oor:  Gesondheidsdienste  |  Ngv  |  Staatshospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.