Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gebrek aan ambulanse ‘laat N-Kaap in steek’
Ter illustrasieFoto: Emile Hendricks

Gebrekkige ambulansdienste in die Noord-Kaap laat die inwoners in die steek, terwyl pasgebore babas sterf omdat nuwe ambulanse stof vergader en nie in gebruik geneem word nie.

Só sê Isak Fritz, Noord-Kaapse DA-woordvoerder oor gesondheid.

Hy betreur die onlangse dood van ’n pasgebore babaseun op De Aar omdat daar nie ’n ambulans was om hom spoedig hospitaal toe te bring nie.

“Fufe Makatong, die LUR vir gesondheid, moet dringend optree. Sy moet sorg dat die voertuie en ambulanse wat volgens mediaberigte al ’n jaar lank stof in ’n garage in Kimberley vergader en nie in gebruik geneem word nie, dadelik in diens gestel word.

“Die baba is dood omdat die ambulans nooit op die noodoproep reageer het nie,” verklaar Fritz.

“Vuyokazi Twane, die baba se ma, moes noodgedwonge in haar huis geboorte gee. Sy het twee uur op ’n ambulans gewag voordat bure haar uiteindelik na die hospitaal gebring het. Die baba se naelstring was nie geknip nie. Die baba is op pad na die hospitaal dood. Ons het die gesin besoek om ons simpatie te betuig.

“Dit is onvergeeflike optrede deur die departement. Hulle moet lewens red, nie dit neem nie.”

Die baba is dood omdat die ambulans nooit op die noodoproep reageer het nie.
Izak Frits, DA.

Die departement spartel al vir jare om ’n behoorlike en bevredigende diens aan die armste inwoners van die provinsie te lewer, beweer Fritz.

“Hulle het gedurig ’n tekort aan voertuie. Die meeste daarvan is in ongelukke afgeskryf, of dit is ingestuur vir herstelwerk. Daar is ook gedurige tekorte aan personeel, en in baie gevalle beman net een persoon die ambulans. Die reaksietyd val byna nooit binne die goue uur nie.

“Dit is skokkend dat 50 nuwe voertuie, waarvan twee ambulanse is, nog nie omgeskakel is nie. Dit is onaanvaarbaar want mense sterf voortdurend op ons paaie,” sê hy.

Die DA sal aan Makatong skryf en antwoorde eis oor hoekom die voertuie nog nie in gebruik geneem is nie.

“Sy moet indringende aandag aan die hele nooddiensafdeling gee deur die begroting beter aan te wend, meer nooddienspersoneel aan te stel en te sorg dat die voertuie herstel word.

“Sy moet ook haar rekeninge betaal, want dit is waarskynlik die rede hoekom die nuwe voertuie nie omgeskakel en in gebruik geneem word nie.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Da  |  Ambulanse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.