Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
G'n antwoorde nadat pasiënt van ‘honger, dors’ sterf

André Smit (58) is byna twee maande gelede in die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp dood, maar sy familie het steeds nie die uitslag van sy lykskouing gekry nie.

’n Saak is by die polisie aanhangig gemaak sodat ’n geregtelike doodsondersoek gedoen kan word om te bepaal of iemand vir Smit se dood aanspreeklik gehou kan word.

Suzette Els, Smit se suster, sê hulle vermoed hy is dood aan nierversaking wat ingetree het weens erge ontwatering omdat hy glo nie kos en water in die hospitaal gekry het nie.

André Smit

“Ons het tot dusver nog geen terugvoering van die hospitaal of polisie gekry oor die uitslag van die lykskouing wat op 23 Februarie gedoen is nie.”

Op die doodsertifikaat word slegs aangedui die oorsaak word nog ondersoek.

Volgens Els was daar glo verrotte kos in Smit se mond nadat hy ’n week in die hospitaal was.

“Dis duidelik die hospitaalpersoneel het hom probeer voer, maar hy kon nie eet nie,” sê Els.

“Dit lyk nie of hulle eens vir hom water gegee het nie.”

Smit het ook baie gewig in die hospitaal verloor. Hy is op 4 Februarie vir waarneming opgeneem nadat hy ’n epileptiese toeval gehad het.

“Ons was nooit bewus dat hy nierprobleme gehad het nie,” sê Els. “Hoewel hy aan demensie gely het, kon hy nog die basiese vir homself doen: met ’n mes en vurk eet, aantrek en (beperk) gesels. My ma (Sophia Smit) het hom versorg. Toe hy opgeneem is, kon hy self loop. Daarna is hy onder verdowing geplaas. Hy was dus hulpeloos terwyl daar nie na hom omgesien is nie. Sy toestand en prognose was nié uit die staanspoor so swak soos die hospitaal nou voorgee nie. Dit het nooit eens by ons opgekom dat hy nie lewend uit die hospitaal sou kom nie.”

Smit se familie kon hom weens Covid-19-regulasies nie gereeld besoek nie. “Toe ons hom ná ’n week sien, het hy nog dieselfde klere aangehad as toe hy opgeneem is. Hy het gestink en in ’n bondeltjie gelê. André se drup was verstop en hy was erg gedehidreer.”

Die familie het hom self laat ontslaan en na ’n private sorgsentrum geneem. Toetse daar het gewys sy niere funksioneer nie.

“Die dokter het gesê indien André nie teruggaan na Tshepong vir dialise nie, gaan hy voor ons oë sterf,” vertel Els.

Terug by die hospitaal is die familie glo ingelig Smit is nie ’n geskikte kandidaat vir dialise nie. Hy het op 17 Februarie daar gesterf – volgens Els nadat hy weer ’n paar dae daar in dieselfde klere bly lê het. “Daar was droë bloed aan sy neus en mond waar hulle vermoedelik ’n voedingsbuis wou insit.”

Nico Masiu, woordvoerder van die Tshepong-hospitaal, sê Smit se prognose was weens sy chroniese siektetoestande reeds swak toe hy op 4 Februarie opgeneem is.

“Hy het aan epilepsie gely, hoë bloeddruk en vorige beroertes gehad.”

Volgens Masiu het die hospitaal nie self die uitslag van die lykskouing nie en moet die familie dit by die polisie kry. Die polisie het Woensdag beloof om so gou moontlik op Netwerk24 se navrae hieroor te reageer.

Volgens Els het die gesondheidsombudsman haar onlangs laat weet die hospitaal meen die saak is nou afgehandel omdat die familie glo “tevrede” is met die hospitaal se verduidelikings.

“Dis nie waar nie. Ek het twee gesprekke met hospitaalpersoneel en ’n senior dokter gehad oor André se toestand en versorging: een voor en een ná sy dood. Hulle het verduidelik hy kon nie dialise kry nie en gesê hulle sal die klagtes ondersoek.”

Els sê sy het sedertdien geen terugvoering van die hospitaal gekry nie. “Ons het verwag hulle sal ’n ordentlike ondersoek doen oor die optrede van die betrokke personeel, stappe teen hulle doen en maatreëls instel om soortgelyke gebeure te verhoed.”

Els gaan nou die ombudsman se raad volg om skriftelike klagtes by die hospitaal in te dien.

Die hospitaal sê

Luidens ’n verslag van die Tshepong-hospitaal het prof. Ebrahim Variava, hoofinternis, en ander personeel ’n dag voor André Smit se dood op ’n vergadering met Suzette Els verduidelik haar broer het nie dialise nodig nie omdat sy nierfunksie verbeter het nadat hy vloeistof begin kry het.

Variava het gesê Smit kan weens sy demensie nie in die waakeenheid opgeneem word nie en beloof die klagtes sal ondersoek word.

’n Ander personeellid het verskoning gevra oor die toestande waaroor Els gekla het en personeel het beloof om ondanks personeeltekorte beter na pasiënte om te sien. Volgens die hospitaalverslag was Els tevrede en het sy die verskoning aanvaar.

Die hospitaal het ’n dag ná Smit se dood op die tweede vergadering met Els beloof die oorsaak van sy dood sal eers op dokumente aangedui word nadat die lykskouing afgehandel is. Toe is ook beloof Els se klagtes sal intern ondersoek en regstellende stappe sal gedoen word.


Meer oor:  Hospitaal  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.