Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Geen rede tot paniek oor ‘varkgriep’, sê instituut

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê daar is nie rede tot paniek met die H1N1-griepvirus wat weer sy verskyning gemaak het nie.

Dit kom nadat skole in Gauteng ouers begin waarsku het oor “varkgriep”, soos die H1N1-virus nog algemeen genoem word.

Die Laerskool Kenmare in Krugersdorp het ook Maandag vroeg gesluit.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van basiese onderwys, was dit nadat ouers paniekerig geword het oor die aantal leerlinge in die skool wat met dié gevaarlike tipe griep gediagnoseer is.

“Ons as die departement het die skool besoek om uit te vind wat aangaan, en omdat die skool in elk geval Vrydag sluit vir die vakansie is daar besluit om nie in te meng nie,” sê Mabona.

Skole in Pretoria waarmee Netwerk24 gepraat het, het bevestig dat ’n klein persentasie leerlinge in dié skole met varkgriep gediagnoseer is. Dié skole wou nie hê dat hul name bekend gemaak word nie.

Die Gautengse departement van gesondheid het Woensdag gesê gerugte van ’n varkgriep-epidemie is onwaar.

Volgens die departement is daar wel beduidend meer gevalle van griep as normaalweg, en word ouers en hul kinders aangeraai om eerder dokter toe te gaan as hulle siek word.

Sinenhlanhla Jimoh, ’n woordvoerder van Nios, sê 2019 se gevalle van die H3N2-virus is meer as die aangemelde gevalle van die H1N1-virus.

“Die oordrag van griep het hoë vlakke bereik, maar ons beskou dit nie as ’n onverwagse uitbreking nie,” sê Jimoh.

“Dit is winter, en dit is wat in die wintermaande gebeur, mense word siek.”

Jimoh sê dit is nie te laat vir mense om ’n griepinspuiting te kry nie, en raai ouers aan om dit dadelik te doen.

Sy kon nie bevestig hoeveel skole in Gauteng gevalle van siek kinders by Nios aangemeld het nie.

Volgens Jimoh was daar ’n “aantal” griepgevalle in skole, maar dit is nie buitengewoon nie “omdat skoolgaande kinders belangrike draers van griep is”.

Sy sê dit is raar vir leerlinge om komplikasies te ontwikkel, tensy hulle bestaande siektetoestande het.

Volgens Nios is dit die tweede keer in 36 jaar dat die griepseisoen so vroeg begin het.

Hierdie jaar is al drie influensastamme – A, B en C – al aangemeld, waaronder die sogenaamde varkgriepvirus.

Vanjaar se seisoen het in middel April begin, terwyl dit gewoonlik middel Mei begin. Die vorige vroeë geval was in 2015.

Volgens Jimoh is “varkgriep” ’n seisoenale virus wat elke jaar tydens die griepseisoen sy opwagting maak sedert dit in 2009 vir die eerste keer voorgekom het.

“Influensa is ’n asemhalingsiekte wat deur druppels versprei word, soos wanneer mense hoes, nies of praat, of as jy aan besmette oppervlakke of voorwerpe raak.”

Kinders met griepsimptome moet liefs by die huis bly en aanraking met ander mense beperk totdat die simptome verby is, sê Jimoh.

Jimoh sê dit is nie te laat vir mense om ’n griepinspuiting te kry nie, en raai ouers aan om dit dadelik te doen.

* Griepsimptome sluit in koors, hoes, seerkeel, loopneus, kortasem, uitermatige moegheid en swakheid, hoofpyn, spierpyn en liggaamspyne, kouekoors en sweterigheid. In kinders kan braking en diarree ook voorkom.

Meer oor:  Nios  |  Krugersdorp  |  Gesondheid  |  Varkgriep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.