Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Geen skermtyd vir kinders jonger as ’n jaar, sê WGO

Kinders jonger as ’n jaar oud moet verkieslik geen tyd voor ’n televisie- of ander digitale skerm deurbring nie.

Dít is een van die riglyne wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vroeër vandeesmaand uitgereik het.

Die organisasie het riglyne gegee oor fisieke aktiwiteite vir kinders onder die ouderdom van vyf jaar, hoeveel tyd hulle voor skerms behoort deur te bring en ook hoeveel slaap hulle behoort te kry.

Foto ter illustrasie deur iStock

Die geestelike welstand van kinders wat fisiek meer aktief is en minder voor ’n skerm sit en goed slaap, sal beter wees en hulle sal minder geneig wees tot vetsug, wat later in hul lewens tot siektes kan lei, sê dr. Fiona Bull van die WGO in ’n verklaring.

Luidens die verklaring sterf sowat 5 miljoen mense jaarliks wêreldwyd omdat hulle nie genoeg oefening kry nie.

Tans is meer as 23% van volwassenes en sowat 80% van jeugdiges nie aktief genoeg nie.

Dr. Juana Willumsen van die WGO, wat op kindervetsug fokus, sê kinders moet weer begin speel. Hulle moet minder tyd voor ’n televisie of ander digitale skerms deurbring en aktief speel. Dit is egter steeds belangrik vir kinders se ontwikkeling om te sit en aktiwiteite soos lees, sing en legkaartbou te doen.

Luidens die verslag sal die volgende riglyne vir die eerste vyf jaar van ’n kind se lewe tot sy motoriese en kognitiewe ontwikkeling, asook lewenslange gesondheid bydrae:

Kinders jonger as ’n jaar:

  • Wees verskeie kere per dag en op verskillende maniere fisiek aktief. Kinders wat nog nie loop nie, moet minstens 30 minute per dag op hul mae deurbring.
  • Tyd voor digitale skerms word glad nie aanbeveel nie. Kinders se beweeglikheid moenie langer as ’n uur op ’n slag beperk word deur byvoorbeeld in ’n stootwaentjie te sit nie.
  • Kinders van nul tot drie maande moet 14 tot 17 uur per dag slaap, terwyl kinders van vier tot 11 maande sowat 12 tot 16 uur per dag moet slaap.

Kinders van een tot twee jaar:

  • Moet minstens 180 minute per dag fisiek aktief wees.
  • Kinders se beweeglikheid moenie langer as ’n uur op ’n slag beperk word nie. Tyd voor ’n skerm word nie aanbeveel vir eenjariges nie, maar tweejariges kan op die meeste ’n uur skermtyd kry.
  • Sowat 11 tot 14 uur slaap per dag word aanbeveel.

Kinders van drie tot vier jaar:

  • Moet minstens 180 minute per dag fisiek aktief wees, waarvan minstens 60 minute matige tot strawwe oefening moet wees.
  • Skermtyd moenie langer as ’n uur per dag wees nie.
  • Sowat tien tot 13 uur slaap per dag word aanbeveel.

Hoe kry ek my kinders weg van die skerms?

Prof. Kobus Maree, ’n opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria, sê om te veel tyd voor die televisie of ’n digitale skerm deur te bring, is negatiewe gedrag wat aangeleer is.

“Dit kan op ’n deernisvolle maar ferm wyse gewoon weer afgeleer word. Wees voorbereid op ’n negatiewe reaksie wanneer jy televisietyd begin inperk en moenie oorreageer nie. Die ouer se kalm, ferm en positiewe reaksie sal ’n baie duidelike sein aan die kind stuur.”

Maree gee die volgende wenke aan ouers om tyd voor die skerm te verminder:

  • ’n Ouer se eie voorbeeld is belangrik. As ouers self te veel televisie kyk, gaan kinders hul voorbeeld volg.
  • Verminder kyktyd stelselmatig.
  • Moenie negatiewe gedrag bevorder deur toe te gee aan ’n kind wat daarop aandring en jou probeer manipuleer om sy of haar sin te kry nie.
  • Ignoreer negatiewe reaksie en bly rustig, kalm en positief.
  • Moenie die vermindering van kyktyd met “straf” assosieer nie. Inteendeel, wees positief oor dit wat jy in die plek van televisie en skermtyd aanbied. Verskaf iets in die plek daarvan soos sport, speel, lees, tuinwerk of hulp met inkopies.

Skermtyd het ook ’n impak op geestelike welstand

Dr. Daan le Roux van die kognisie-en- tegnologienavorsingsgroep in die departement van inligtingswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê hoewel baie navorsing reeds gedoen is oor die fisieke uitwerking van skermtyd, fokus nuwe navorsing veral op die geestelike welsyn van digitalemediagebruikers.

Wanneer jong mense te veel tyd aan dié tipe media bestee, verleer hulle die vermoë om op een ding op ’n slag te konsentreer. Die sogenaamde Millenniërs is deurlopend besig om verskillende media te gebruik en verskuif die heel tyd hul aandag tussen die verskillende sosiale-media-platforms en toestelle.

Hy sê weens die vinnige verspreiding van sosiale media en digitale toestelle is daar ’n toename in die aantal ure wat kinders, tieners en jong mense op dié platforms deurbring.

Op dié toestelle gebruik mense vermaaklikheidsmedia, wat videospeletjies en televisiereekse insluit.

“Wanneer jong mense te veel tyd aan dié tipe media bestee, verleer hulle die vermoë om op een ding op ’n slag te konsentreer. Die sogenaamde Millenniërs is deurlopend besig om verskillende media te gebruik en verskuif die heel tyd hul aandag tussen die verskillende sosiale-media-platforms en toestelle.”

Le Roux sê nog navorsing is nodig oor die verskillende maniere waarop mense sosiale media gebruik voordat enige besliste gevolgtrekkings gemaak kan word.

“Die verskillende maniere waarop mense sosiale media gebruik, het verskillende uitwerkings. ’n Persoon wat byvoorbeeld op Facebook is en nie aktief deelneem deur foto’s op te laai, of deur te reageer op ander mense se plasings nie, is meer tot depressiewe gedrag geneig.”

skerms
Kinders en rekenaarskerms.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.