Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Geen stappe ná 2 j. teen amptenare oor Esidimeni

Geen professionele raad het stappe gedoen teen enigeen wat by die Life Esidimeni-saak betrokke was nie.

Dr. Barney Selebano

Prof. Malegapuru Makgoba, gesondheidsombudsman, het op 1 Februarie 2017 in sy verslag oor die sterftes van psigiatriese pasiënte aanbeveel dat die bevindings teen dié wat betrek word, aan hul professionele rade gestuur word vir gepaste stappe.

Dr. Barney Selebano, voormalige hoof van die Gautengse departement van gesondheid, en dr. Makgabo Manamela, voormalige direkteur vir geestesgesondheid in die provinsie, word by die sterftes van minstens 144 pasiënte betrek.

Meer as 1 400 pasiënte het die tragedie oorleef.

Adri van Eeden, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse raad op verpleging (SANC), sê hulle wag nog vir die departement van gesondheid om inligting te verskaf sodat die raad met die saak teen Manamela kan voortgaan.

“Ons beskou hierdie saak as baie ernstig.” Sodra hulle die inligting ontvang, sal hulle in staat wees om die saak af te handel.

Sy kon nie bevestig of Hannah Jacobus, Manamela se adjunk, en Dumi Masondo, voormalige voorsitter van die Gautengse hersieningsraad oor geestesgesondheid, ook by die SANC aangekla is nie. Van Eeden kon ook nie sê wat die moontlike stappe is wat teen hulle gedoen kan word as hulle skuldig bevind word nie.

Fezile Sifunda, woordvoerder van die raad vir gesondheidsberoepe in Suid-Afrika (HPCSA), sê ’n klag teen Selebano is op 17 Desember deur die hoofbeampte van die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde (OHSC) ingedien.

Dr. Makgabo Manamela

Makgoba het aanbeveel dat dit binne 45 dae ná die bekendmaking van sy verslag gedoen moet word.

Volgens Sifunda hoef Selebano nie voor ’n voorlopige ondersoekkomitee te verskyn nie. Sy sê Selebano se saak is op 12 Oktober aangehoor.

“Die voorlopige ondersoekkomitee het die saak vir ’n professionele gedragsondersoek verwys nadat hulle vasgestel het dat daar prima facie-bewyse van onprofessionele gedrag is. Dit is van ’n ernstige aard en vereis ’n ondersoek.

“Die gewone prosesse sal ingevolge die regulasies gevolg word totdat die saak afgehandel is.”

Sifunda wou nie sê watter stappe teen Selebano gedoen gaan word nie.

Bonolo Selebano berig Qedani Mahlangu, voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, wat ook by die tragedie betrek word, gaan steeds veldtogte namens die ANC in die aanloop tot die verkiesing in 2019 behartig, ondanks die negatiewe bevindinge teen haar deur die party se provinsiale integriteitskomitee.

Qedani Mahlangu

Die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC het nie met die integriteitskomitee se aanbeveling dat Mahlangu uit die PUK tree en haar lidmaatskap vir ’n tydperk opgeskort word, saamgestem nie.

Tasneem Motara, woordvoerder van die PUK, het gesê dit is die ANC se tugkomitee en nie die integriteitskomitee nie, wat die mag het om oor lidmaatskap te besluit en dat Mahlangu steeds as PUK-lid werwingswerk mag doen.

Die PUK het wel met die integriteitskomitee saamgestem dat Mahlangu nie meer ’n openbare amp mag beklee nie.

Thabo Masebe, woordvoerder van die Gautengse regering, sê die regering kon niks teen die betrokke senior staatsamptenare doen nie omdat hulle bedank het nog voordat tugverhore teen hulle afgehandel is.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê dis “walglik dat daar nog geen stappe teen hulle (Manamela en Selebano) gedoen is nie. Dis ’n mislukking van die professionele instellings. Twee jaar later. Wie weet, miskien praktiseer Selebano nou as ’n mediese dokter.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.