Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Generaals: Covid is ‘biologiese oorlog’

Die Suid-Afrikaanse Weermag se mees senior generaals was vas oortuig dat die land in ’n “biologiese oorlog” gewikkel is en het daarom R260 miljoen se medisyne in Kuba gaan koop in die stryd teen Covid-19.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het gesê sy weet niks daarvan dat die militêre bevelsraad besluit het om Covid-19 as ’n biologiese aanval te verklaar nie.

En om hulself te beskerm as synde in die eerste linie in dié titaniese biologiese stryd het die militêre bevelsraad – wat bestaan uit sowat 20 van die land se mees senior generaals – opdrag gegee dat hulle die eerste moet wees om met die nuttelose Kubaanse geneesmiddel ingespuit te word.

Dit was eers nadat verskeie weermagdokters geweier het om die Kubaanse middel Heberon Interferon alfa-2B vir enigeen te gee omdat die middel nie in Suid-Afrika geregistreer is nie, dat die planne laat vaar is.

Dié bisarre feite het die afgelope week aan die lig gekom tydens ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging en militêre veterane. Die weermag is gevra om die omstandighede te verduidelik rakende die omstrede invoer van amper ’n miljoen ampulle Heberon uit Kuba. Die middel is nie goedgekeur vir gebruik in Suid-Afrika nie en is ook nie doeltreffend in die behandeling van Covid-19 nie.

Genl.maj. Mzikayise Tyhalisi van logistieke dienste, wat volgens Rapport se bronne die hoofrol gespeel het in die aankoop van die Kubaanse medisyne, het Woensdag dié aankope voor die komitee probeer regverdig deur te sê die land was in ’n “biologiese oorlog” gewikkel.

‘Hulle dink hulle het weerstand teen Covid-19. Dis uiters gevaarlik.’

“Ons het in daardie stadium beplan vir die ontplooiing van ons magte. Die president het opdrag gegee dat ons stewels op die grond moet hê. Ons het dit beskou as . . . jy weet, die militêre magte is die enigste instansie in ons land wat die vermoë van biologiese oorlogvoering het en ons het met ’n vyand te doen gehad waaroor ons nie geweet het hoe ons veilig gaan wees nie.

“Wat ons toe gedoen het, is dat die militêre bevelsraad ’n besluit geneem het dat ons ’n biologiese oorlogsprobleem het wat ons moet hanteer. Die SA Militêre Gesondheidsdiens (SAMGD) is getaak om ’n oplossing te kry, om seker te maak dat ons soldate op die grond beskerm is. Hulle het (Heberon) Interferon daarvoor gevind,” het Tyhalisi gesê.

Luidens die notules van die militêre bevelsraad het die geneesheer-generaal, lt.genl. Zola Dabula, onderneem dat die raadslede almal met die middel behandel sou word.

Dit was kort nadat die eerste besending Heberon op 27 April verlede jaar die land ingesmokkel is op dieselfde SAL-vliegtuig waarmee 187 Kubaanse dokters daardie nag op die Waterkloof-lugmagbasis geland het.

Dabula is egter op siekteverlof geplaas voordat hy sy belofte aan sy medegeneraals kon nakom. Uiteindelik het die raad vir Dabula se adjunk, genl.maj. (dr.) Noel Ndlovu, in Augustus ontbied.

Ndlovu, wat nie lid van die raad is nie en selde na vergaderings van die raad genooi is, het volgens Rapport se bronne ’n lelike skrobbering gekry “omdat die militêre gesondheidsdienste nie hul pligte nakom nie”.

’n Deel van die 970 895 botteltjies Kubaanse medisyne wat die weermag vir R260 miljoen ingevoer het.

Ndlovu het egter geweier om die middel toe te dien omdat dit nie in Suid-Afrika geregistreer is.

“Uiteindelik het hy opdrag gegee aan lt.kol. (dr.) Thabo Mnisi, hoof van gesinsmedisyne by 1 Militêre Hospitaal op Voortrekkerhoogte, om die middel aan die bevelsraad toe te dien. Hy het egter geweier dat dit aan troepe gegee word.

“Dit is druk bespreek onder afdelingshoofde in die SAMGD. Van hulle het gedreig dat hulle klagte by die Mediese Raad gaan indien teen dokters wat die middel aan enigiemand in die SANW toedien,” het Rapport se bron gesê

Die reëlings om dit aan die generaals in die raad toe te dien, het egter onder Mnisi se toesig voortgegaan. ’n Vergadering is gereël op ’n Vrydag in September verlede jaar waar al die lede van die bevelsraad ingespuit sou word.

“Mnisi het gereël dat ’n dokter van 1 Mil die middel vir hulle sou kom gee. Maar die dokter het daardie middag nie opgedaag nie, waarskynlik omdat hy bang was hy sou (as dokter) geskors word,” sê Rapport se bron.

Uiteindelik het die plan doodgeloop toe dit in Oktober uitlek dat die SANW 970 089 ampulle van die nuttelose medisyne by die Kubaanse militêre owerheid aangekoop en stil-stil die land ingebring het.

Mnisi wou gister niks sê toe Rapport hom hiermee konfronteer nie.

Hy het egter Woensdag aan die portefeuljekomitee vertel dat die Kubaanse militêre owerheid baie suksesvol is met die behandeling van Covid-19-pasiënte in ’n vroeë stadium van die siekte en as ’n voorkomende middel.

Hy is egter direk weerspreek deur prof. Helen Rees, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra).

“Dit werk nie teen Covid-19 nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie erken dit ook nie vir gebruik teen Covid-19 nie,” het Rees dit ondubbelsinnig aan die LP’s gestel.

Sy het gewaarsku dat die gebruik daarvan, selfs as ’n voorkomende middel, gevaarlik is.

“Afgesien van onbekende newe-effekte verander dit mense se gedrag omdat hulle dink hulle het weerstand teen Covid-19. Dis uiters gevaarlik.”

Interferon is wel in Suid-Afrika geregistreer vir die behandeling van harige selleukemie, kwaadaardige melanoom (velkankers) en sommige klierkankers wat uit MIV/vigs voortspruit. Heberon, die weergawe wat in Kuba gemaak word, is egter nie hier geregistreer nie, het dr. Boitumelo Semete, uitvoerende hoof van Sahpra, gesê.

’n Sigbaar verdwaasde Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het gesê sy weet niks daarvan dat die militêre bevelsraad besluit het om Covid-19 as ’n biologiese aanval teen die land te verklaar nie.

“Ek het geweet van die (Heberon) Interferon. Almal het daaroor gepraat. ‘As dit ons help, moet ons dit kry,’ het ek gesê. Ek was meer bekommerd daaroor dat die SANW dit net vir hulself wil gebruik. Ek wou hê dit moet vir die breë bevolking beskikbaar gestel word.

“Maar ek het nie geweet dat die pandemie as biologiese oorlogvoering beskou word en dat die bevelsraad so besluit het nie. Dit moet iets wees wat hulle op hul eie gedoen het,” het sy aan die ewe verbaasde parlementslede gesê.

Vusumuzi Xaba, voorsitter van die portefeuljekomitee, het aan Mapisa-Nqakula gesê die SANW het elke stuk wetgewing oor die invoer van medisyne oortree.

“Dis as ’n saak van dringendheid die land ingebring, maar dit lê steeds ongebruik in die koelkamers van die weermag se mediese depot.

“Die besteding daaraan (R260 miljoen, luidens die OG se verslag) gaan na alle waarskynlikheid uitloop op vrugtelose en vermorste uitgawes.

“Wat gaan u daaraan doen, minister?” wou hy van haar weet.

Sy het in ’n langdradige verduideliking gesê sy het ’n onafhanklike taakspan aangewys om die invoer van en besteding aan die middel te ondersoek.

Haar woordvoerder, Siphiwe Dlamini, het vier weke gelede reeds aan Rapport gesê die ondersoek-taakspan sal enige dag aangekondig word, sodra basiese dokumentasie daaroor afgehandel is, maar hy het Donderdag weer bevestig dit is nog nie gedoen nie. Rapport het verlede maand berig dat 40% van die besending in elk geval onbruikbaar is omdat die temperatuur waarteen dit gestoor is soms dae lank ver bo die toegelate vlak was.

Op Rapport se vraag oor die bevelsraad wat met Heberon ingespuit sou word, het Dlamini gesê: “Die SANW wil dit kategories stel dat vergaderings van die militêre bevelsraad vertroulik is en nie vir bespreking in die openbaar nie.

“Daarom sal die SANW nie reageer op inligting wat kom van gesiglose mense wat beweer hulle is lede van die bevelsraad nie.”

Meer oor:  Nosiviwe Mapisa-Nqakula  |  Covid-19  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.