Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gerekende Noordwes-dokter se skorsing skielik opgehef

Die skorsing van prof. Ebrahim Variava, ’n gerekende navorser, akademikus en hoof-internis by die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks in Noordwes, is opgehef.

“Dis lekker om terug by die werk te wees,” het Variava Dinsdag gesê nadat hy sedert Maandag weer terug is op sy pos.

Prof. Ebrahim Variava. Foto: Twitter/SA Breaking News

“Die ongegronde klagtes teen my is laat vaar. Ek dink druk van mense, ook in mediese kringe, wat my ondersteun het, asook die wankelrige aard van die klagtes, het daartoe gelei.”

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, het Dinsdag bevestig Variava se skorsing is opgehef, maar dat hy nie in hierdie stadium inligting het om meer besonderhede te gee nie. Variava is op 12 Junie geskors met sy volle salaris hangende ’n ondersoek teen hom. Variava het ná sy skorsing deur die adjunk-direkteur-generaal van hospitale in Noordwes gesê hy is “platgeslaan”, dat hy “gek is oor my werk en net wil teruggaan”.

Prof. Neil Martinson, uitvoerende direkteur van die perinatale MIV-navorsingseenheid by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, het kort ná die skorsing in ’n mediaverklaring gesê hy en sy kollegas is “geskok” oor die gebeure.

“Die klagtes is swak en hou geensins verband met Variava se optrede en toewyding tot pasiëntesorg en die akademie nie.”

Volgens Martinson het Variava die afgelope 20 jaar baie hard gewerk “om ’n uitstekende akademiese departement in Klerksdorp te vestig waar mediese studente en spesialiste opgelei word”.

“Navorsing oor MIV en tuberkulose word ook hier gedoen. Dis kommerwekkend dat hy as departementshoof juis geskors is terwyl Covid-19-gevalle aanhou toeneem.”

Die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks is die hoofbehandelingsentrum vir Covid-19 in die provinsie.

Martinson het Variava beskryf as ’n “mediese aktivis” wat al vantevore sy kommer oor die leierskap in Noordwes se gesondheidsdepartement uitgespreek het, onder meer weens herhaalde medisynetekorte.

Ons volg dieselfde prosesse wat ons al jare lank in samewerking met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die provinsiale gesondheidsdepartement volg om te bepaal watter soorte griep en ander virusse in omloop is.

Van die aantygings teen Variava wat nou laat vaar is, het onder meer ingesluit dat hy glo strydig met Covid-19-regulasies opgetree het deur die beperkte aantal toetsapparate nie doeltreffend te bestuur nie. Daar is beweer Variava het vier verpleegsters en 36 pasiënte sonder voldoende gronde vir Covid-19 laat toets.

Variava is ook daarvan beskuldig dat hy probleme by die hospitaal tevore met die media bespreek het in plaas daarvan om dit eers intern met die hospitaalbestuur te probeer uitstryk. Hy het glo ook nie die regte administratiewe prosedures gevolg nie toe hy rekenaars van ’n nieregeringsorganisasie gevra en dit sonder toestemming in sale laat installeer het.

Variava het in reaksie hierop gesê daar was niks ongerymd rakende die Covid-19-toetsing by die hospitaal nie.

“Ons volg dieselfde prosesse wat ons al jare lank in samewerking met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die provinsiale gesondheidsdepartement volg om te bepaal watter soorte griep en ander virusse in omloop is. Covid-19 het nou net bygekom as deel van hierdie moniteringsproses. Ons toets ook vir Covid-19 indien daar kliniese aanduidings is dat iemand dit dalk het.”

Variava sê die gesondheidsdepartement was wel bewus van die rekenaars wat geskenk is, omdat die hospitaal nie genoeg gehad het nie. “Dit word gebruik om MIV-data te stoor.”

Volgens Variava het hy die tekorte aan medisyne sonder sukses op alle tersaaklike vlakke – die hospitaalbestuur, distriksvlak en by die provinsiale en nasionale regering – probeer oplos voordat hy wyer daaroor gepraat het. “Die medisynetekorte is gevaarlik vir pasiënte.”

Meer oor:  Prof. Ebrahim Variava  |  Noordwes  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.