Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gesondheidsdienste in N-Kaap benard

Terwyl amptenare van die Noord-Kaapse departement van gesondheid weens swak werkomstandighede en geen betaling weier om te werk, kla pasiënte dat hul lewe deur ’n gebrek aan bekwame susters en departementele wanbestuur bedreig word.

Dit kom te midde van klagtes oor ’n boer wat ’n massiewe hartaanval buite Sutherland gehad het en wat weens ’n personeeltekort deur sy seun en private instellings van die plaaslike kliniek na ’n hospitaal in die Kaap geneem moes word.

Veronica van Dyk, DA-LP in Springbok, sê benewens personeeltekorte stort kliniekgeboue in etlike dorpe inmekaar.

“Daar is nie genoeg plek om lêers te liasseer nie, medisyne word in badkamers geberg, vensters en plafonne is stukkend en in Hondeklipbaai se kliniek is daar nie eens telefone wat werk nie. Dit is ’n krisis.”

Steffen Cornelius, die vakbond Nehawu se provinsiale sekretaris, sê hul lede kla al meer as ’n jaar lank oor swak betaling en werkomstandighede.

“Personeel word nie vir oortyd betaal nie, daar is personeeltekorte, die geboue en toerusting is onvoldoende, personeellede wat aangeval word, kry nie berading nie en aanvangsalarisse is swak.

Ons lede het nie gestaak nie, die vakbondbestuurslede het net vergaderings met hulle gehou oor wat ons te doen staan.

“Ons eis dat die premier vir Steven Jonkers, departementshoof, afdank want hy is hiervoor verantwoordelik. Hy gaan duur veiligheidskontrakte aan, terwyl die personeel krepeer.

“Ons lede het nie gestaak nie, die vakbondbestuurslede het net vergaderings met hulle gehou oor wat ons te doen staan.”

Mase Manopole, LUR vir gesondheid, het Dinsdag gesê sy is “onkant gevang deur die spontane, onnodige stakings” van verpleërs in die Namakwa- en Frances Baard-distrik wat dienslewering benadeel het.

Lebogang Majaha, departementele woordvoerder, sê die LUR is besig met samesprekings om iets aan die personeeltekorte te doen.

“Manopole is altyd beskikbaar om met georganiseerde arbeid te onderhandel. Sy het verskoning gemaak teenoor diegene wat benadeel word en noodplanne in werking gestel.”

Andrew Louw, Noord-Kaapse DA-leier, sê Dinsdag se staking by die dr. Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley is ’n teken dat gesondheidsdienste op die rand van ’n afgrond is.

“Die verpleërs is oorwerk en word gedurig aan regsgedinge weens hul swak werkomstandighede blootgestel. Hulle word nie betyds betaal vir oortydwerk nie. Manopole het nie baie tyd om die probleme op te los voordat die stelsel ineenstort nie. Hoewel sy afgetrede verpleërs gevra het om weer aan te meld, sien ons nie die vrugte daarvan nie. Aanstellings word nie vinnig genoeg gedoen om die 1 556 vakante poste te vul nie.

“Die tekort aan klinieke, dokters en verpleërs benadeel ons kwesbare pasiënte wat nie eens basiese gesondheidsdienste ontvang nie. Operasies in Kimberley word gedurig uitgestel weens personeeltekorte.

“Boonop verwerk die departement nie werkaansoeke vinnig genoeg nie. As die departement nie vinnig optree nie, sal hy selfs huidige personeel verloor. Die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering is reeds gedoem.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Werkers  |  Hospitale  |  Gesondheidsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.