Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gesondheidsorg in Limpopo ‘in ’n krisis’

Limpopo se gesondheidsorgstelsel is in ’n krisis met net een onkoloog, een oftalmoloog en een radiografis wat heeltyds in diens van die provinsiale gesondheidsdepartement is in ’n provinsie met meer as 5 miljoen inwoners.

Dié skokbevinding is vandeesweek deur die Menseregtekommissie (MRK) in Limpopo bekend gemaak nadat hy ’n ondersoek gedoen het na die stand van openbare gesondheidsorg in die provinsie.

Kankerpasiënte word noodgedwonge na staatshospitale in Gauteng vir behandeling gestuur. Die MRK kan nie sê of kankerpasiënte in Limpopo dood is weens die tekort aan onkoloë nie.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo. Foto: Verskaf

Victor Mavhidula, streekskommissaris van die MRK, sê die meeste hospitale in Limpopo het boonop tussen 47% en 50% vakante poste wat al hoe lank nie gevul is nie.

Die Polokwane- provinsiale hospitaal, wat die grootste provinsiale hospitaal in Limpopo is, het ’n reusetekort (80%) aan spesialiste.

Die MRK sê die provinsiale gesondheidsorgstelsel beleef ’n “krisis”.

Die MRK het sittings gehou met amptenare van die gesondheidsdepartement en bestuurslede van ses hospitale in Limpopo wat as “probleem-hospitale” beskou word.

Mavhidula sê hulle het “teenstand” van die provinsiale gesondheidsdepartement oor die hou van die sittings gekry. Die nasionale departement van gesondheid se regspan is eers geraadpleeg voordat die provinsiale departement sy samewerking gegee het.

Die media is uitgenooi om die sittings by te woon, maar is toe verbied nadat die gesondheidsdepartement daarteen beswaar gemaak het.

Victor Mavhidula, streekkommissaris van die Menseregtekommissie in Limpopo. Foto: Verskaf

Mavhidula sê die MRK ontvang ’n horde klagtes van pasiënte wat vrot kos in hospitale kry. Nog klagtes is dat die lugverkoelingstelsels in talle hospitale nie werk nie.

Mense kla dat hulle medisyne wat glo reeds verval het, by hospitale kry. Sommige hospitale het ’n tekort aan medisyne.

Amptenare van die Polokwane- en Mankweng-hospitaal, sowel as die Voortrekker-hospitaal in Mokopane (Potgietersrus), die Tshilidzini-hospitaal in Thohoyandou en die W.F. Knobel-hospitaal in Moletji, het voor die MRK verskyn.

Gesondheidswerkers van die vakbond Nehawu het gekla oor oortyd wat nie aan werkers betaal word nie.

Mavhidula sê dienslewering sal steeds aan die kortste ent trek weens die nypende tekort aan personeel. “Dieselfde proses waarvolgens amptenare in ander departemente aangestel word, kan nie gesondheid geld nie, want menselewens is op die spel.”

Die gesondheidsdepartement het aan die MRK gesê hy het ’n geldtekort van R2 miljard. Die MRK sal met die provinsiale tesourie vergader oor hoe om dié probleem op te los.

Die nasionale departement van gesondheid het aangekondig dat taakspanne dringend gaan ingryp by die Tshilidzini-, Siloam- en Elim-hospitaal.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, het Woensdag by die Polokwane-hospitaal ’n veldtog, Operasie Gingirika, aangekondig wat sal fokus op die instandhouding van en diensleweringsprobleme by hospitale.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.