Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Getal Covid-19-gevalle styg in Mangaung
Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro. Foto: Argiewe

Dit lyk of mense in die Mangaung-gebied hulle minder steur aan gesondheids- en veiligheidsregulasies sedert die land na vlak 1 van die nasionale inperking beweeg het.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê beamptes van die metro sien dat al hoe meer mense hulle deesdae nie veel steur aan die regulasies nie.

Hy is veral bekommerd omdat daar brandpunte in Mangaung is wat ernstige aandag moet kry en omdat die getalle van mense wat met die koronavirus besmet is, beslis aan die styg is.

Hy sê ’n klomp mense gaan deesdae aan met hul daaglikse lewe sonder om maskers te dra en besoek vermaaklikheidsplekke, inkopiesentrums en Malls waar ’n groot samedromming van mense is.

Khedama sê sosiale byeenkomste en partytjies het veral oor naweke toegeneem en organiseerders van dié byeenkomste en partytjies ignoreer dikwels gesondheidsmaatreëls wat lewens kan red.

Khedama sê wetenskaplikes het gewaarsku dat ’n groot risiko van ’n tweede golf steeds bestaan, en dit is duidelik in Bloemfontein te sien.

Khedama sê op Saterdag 10 Oktober was daar 343 nuwe gevalle in Mangaung teenoor die 1 575 gevalle wat nasionaal aangemeld is.

Dit beteken Mangaung se nuwe gevalle het sowat 20% van die totale getal nuwe gevalle van die land uitgemaak.

Hy sê in die week van 12 tot 18 Oktober is 699 nuwe gevalle in Bloemfontein aangemeld.

Sedert Maart tot 18 Oktober was daar 24 323 bevestigde gevalle van Covid-19 in Mangaung. In Bloemfontein was daar 18 826, Botshabelo 2 772, Thaba Nchu 2 233, Dewetsdorp 304, Wepener 146, Soutpan twee en Van Stadensrus 18.

Khedama sê op 20 Oktober het die dodetal weens die virussiekte in Bloemfontein op 529 gestaan.

Hoewel die maatreëls vir die inperking verslap is, moet mense onthou die virus is steeds daar. Daarom word ’n dringende beroep op inwoners gedoen om alle Covid-19-protokolle te volg.

As jy siek voel, Covid-19-simptome het of getoets is vir die virus, moet jy jou toesighouer in kennis stel. Uitslae kan aan die toesighouer ge-SMS word of ’n dokters- of mediese sertifikaat kan verskaf word.

Hy sê mense wat vermoed hulle het Covid-19, moenie werk toe gaan en kollegas aansteek nie.

“As jy siek voel, Covid-19-simptome het of getoets is vir die virus, moet jy jou toesighouer in kennis stel. Uitslae kan aan die toesighouer ge-SMS word of ’n dokters- of mediese sertifikaat kan verskaf word.”

Hy sê Covid-19 is ’n siekte en werknemers moenie sleg voel as hulle dit kry nie.

Sakeondernemings moet ook hou by die voorsorgmaatreëls wat in plek moet wees by hul ondernemings.

Hy het benadruk dat mense eerder tuis moet bly en hulself nie onnodig moet blootstel aan die virus nie.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die departement sal dringend moet ingryp by ’n paar brandpunte in Mangaung waar die virus uitgebreek het. Hy samel nog inligting daaroor in.

Ons het gehoop daar sou ook sielkundiges in die taakspan wees wat mense kan oorreed om by die maatreëls te hou. Mense hou nie daarvan om voorgeskryf te word nie en is vuisvoos.

Dr. Cloete van Vuuren, hoof van interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein, sê die voorkoms van die siekte is besig om te styg en dit gaan oor menslike gedrag.

“Ons het gehoop daar sou ook sielkundiges in die taakspan wees wat mense kan oorreed om by die maatreëls te hou. Mense hou nie daarvan om voorgeskryf te word nie en is vuisvoos.”

Hy sê hulle sien al hoe meer jonger mense wat siek word. Hoewel hulle dikwels nie so erg siek is nie, steek hulle ouer mense aan en so oor drie of vier weke van nou af gaan daar weer ouer mense wees wat ernstig siek word of sterf. Dit is die probleem.

Meer oor:  Qondile Khedama  |  Mangaung  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.