Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Getalle kan nog baie meer word

Hoewel Suid-Afrika Donderdagaand om middernag amptelik in ’n staat van nasionale inperking geplaas word, sal die getal mense wat positief toets vir die gevreesde Covid-19 steeds drasties styg, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Woensdagoggend aan die SAUK gesê.

Hy het bevestig dat Suid-Afrika se amptelike syfer nou op 709 staan. Daar was egter nog geen sterftes nie en net twee pasiënte word in hoësorg-eenhede van private hospitale behandel.

Verder is die eerste vyf mense wat positief in die land getoets is, nou negatief getoets.

Volgens Mkhize is die algehele inperking juis ingestel om te verhoed dat groot getalle mense deur openbare vervoer kontak met mekaar het en die siekte verder versprei.

“Ons wil hê mense moet by die huis bly, want dit is hoe ons die virus gaan stop. Dit gaan ons twee weke gee vir die virus om homself deur simptome te wys of homself in die liggaam uit te brand.

“Ek verwag dat daar nog ’n baie groot styging in positiewe gevalle in die land sal wees. Ons verwag ook dat baie werk deur alle Suid-Afrikaners gedoen moet word om die pandemie te beperk. Ons is nog in baie vroeë dae.”

Dr. Zweli MkhizeFoto: IAN CARBUTT

Mkhize het vrae oor verskeie kwessies in die onderhoud beantwoord. Onder volg ’n opsomming daarvan:

Sal mense steeds kan gaan draf en met hul honde gaan stap?

“Daar hoef nie probleme daarmee te wees as mense met hul honde wil gaan stap, wil gaan draf of winkels toe wil gaan nie. Wat ons wil vermy, is mense wat in groot getalle byeenkom of paniek-aankope doen. Ons raai dit af.

“Dit sal ook nie help as mense by die huis is en al hul vriende oornooi vir ’n drinkery en ’n partytjie nie en sodoende steeds mekaar aansteek.

“Mense moet hulself steeds beskerm en die situasie ernstig opneem.”

Hy meen die “inperking is nie ’n gratis vakansie van drie weke waartydens mense net kan rondflenter nie. Anders gaan ons ’n prys daarvoor betaal. Voorsorgmaatreëls bly steeds baie belangriker as enigiets anders.”

Vrystaat ’n bron van kommer:

Die getal positiewe gevalle in Gauteng het van Dinsdag tot Woensdag met 64 gestyg.

“Dit is gevolg deur die Wes-Kaap met 61, KwaZulu-Natal met 11 en die Vrystaat met 15.

Hy is veral bekommerd oor die Vrystaatse syfers wat erg verskil van die nasionale neiging.

Volgens Mkhize is die Vrystaatse gevalle meesal rondom die Mangaung-gebied gekonsentreer en spruit dit uit vyf positiewe buitelanders wat ’n kerkkonferensie daar bygewoon het wat deur 300 ander mense bygewoon is.

“Die kerk-aktiwiteit het reeds wat ons noem ’n episentrum geskep en ons moet daarop fokus. Die span in die Vrystaat vaar baie goed en is versterk deur die Rooi Kruis. Hulle is besig om die mense op te spoor. Sodra ons hulle getoets het en hulle positief is, sal ons ook almal met wie hulle in aanraking was, opspoor en toets. Daarom word daardie net al hoe wyer.

Paasvakansie-migrasie na ander provinsies:

Die migrasie van mense is ’n groot bron van kommer, veral met die styging in plaaslike aanstekings.

“Die doel van die totale inperking is om openbare vervoer te vermy wat problematies begin word het. Ons moet die massabeweging van mense vermy.

“Ons is baie dankbaar dat kerke hul Goeie Vrydag-saamtrekke gekanselleer het omdat dit ’n groot risiko vir plaaslike aansteking ingehou het. Dit het die land geweldig gehelp.

“Ons wil hê mens moet bly waar hulle is sodat ons mense wat dalk deur ander aangesteek is, by hul huidige woonadresse kan vind.”

Toetse:

Volgens Mkhize is meer as 12 000 toetse tot dusver in die land gedoen. Sowat 10 000 hiervan deur private laboratoriums.

Hy meen die aantal toetse en toetssentrums sal landwyd meer word. Daar was ook ’n groot toestroming van mense wat hulle getoets het sedert die virus verlede week as nasionale ramp verklaar is.

Volgens hom is dit waarom die getal positiewe gevalle ondanks die inperking nog drasties styg.

Hy erken ook dat die duur toetse nie bekostigbaar is vir die meeste mense in die land nie.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Inperking  |  Koronavirus. Getalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.