
Suid-Afrika het weer meer as 7 000 nuwe gevalle aangemeld nadat hy Maandag minder as 4 600 nuwe gevalle aangeteken het. Foto: Melinda Stuurman
Suid-Afrika se daaglikse toename in nuwe koronavirusgevalle het Woensdag weer gestyg nadat dit aanvanklik Maandag afgeneem het.
Meer as 7 000 nuwe infeksies is Woensdagaand aangekondig.
Suid-Afrika het Maandag nét 4 551 nuwe gevalle aangeteken. Dít was die laagste styging sedert 8 Desember voor dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op 9 Desember aangekondig het dat die land amptelik in die kloue van ’n tweede vlaag is.
Mkhize het Dinsdag bekend gemaak dat die nuwe koronavirusgevalle met 6 041 nuwe infeksies gestyg het.
Maandag en Dinsdag se stygings was albei laer as die stygings wat op 9 Desember aangemeld is. Die land se koronavirusgevalle het toe met 6 709 gestyg.
Die departement van gesondheid het ná Maandag se lae styging gesê hulle sal hierdie nuwe koers moet dophou om seker te maak dat dié stygings akkuraat is.
Die departement het gesê hy sal die nuwe infeksies oor ’n tydperk van sewe dae moet monitor om seker te maak die infeksies neem wel af.
Volgens die jongste data van die departement het Suid-Afrika se koronavirusgevalle Woensdag met 7 070 nuwe gevalle toegeneem, terwyl 753 sterftes aangemeld is.
KwaZulu-Natal (1 942), Gauteng (1 533) en die Wes-Kaap (994) het die meeste nuwe gevalle aangeteken.
Mkhize sê KwaZulu-Natal (261), Limpopo (219) en die Wes-Kaap (102) het die meeste sterftes aangeteken.
Hy sê Limpopo se sterftes is so hoog omdat die provinsie besig is om sy sterftes te oudit.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê die daaglikse verandering in Suid-Afrika se koronavirusgevalle is 17,05%.