Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Geweld oor feesseisoen plaas druk op gesondheidsdienste

Geweld en alkoholmisbruik was in die feestyd die oorsaak daarvoor dat die gesondheidstelsel in die Wes-Kaap onder geweldige druk geplaas is.

Gesondheidsdienste was deurentyd besig met die behandeling van pasiënte wat in motorongelukke was, terwyl hulle ook “voorkombare” beserings moes behandel wat deur geweld en alkoholmisbruik veroorsaak is, sê dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR van gesondheid, Dinsdag in ’n verklaring.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR van gesondheid. Foto: Argief

Tussen 15 Desember 2018 en 15 Januarie 2019 is meer as 30 000 noodgevalle na hospitale in die Wes-Kaap gebring. Altesame 23% van hierdie gevalle was weens messteke, geweerskote en algemene beserings.

Van die 8 069 gevalle van aanranding was die meeste met ’n wapen – 2 894 gevalle. Dit sluit alle wapens in, nie net messe en gewere nie. Die tweede hoogste was fisieke aanranding (956 gevalle) en derde op die lys was toevallige beserings (864 gevalle).

Die geraamde koste om ’n pasiënt met ’n skietwond te help is R22 000 per pasiënt. As die pasiënt geopereer moet word, kos dit nog R25 000. Dit sluit nie vervoerkoste, behandeling by die noodafdeling, rehabilitasie en forensiese patologie in nie.

Ook lykshuise in die Wes-Kaap is onder druk. Meer as 11 000 lyke is verlede jaar in die Wes-Kaap ingeneem.

“Die uitwerking van die hoë getal sterftes weens onnatuurlike oorsake het tot ’n agterstand by lykshuise gelei,” sê Mbombo.

“In die Kaapse metro alleen het ons meer as 8 000 lyke by ons twee groot lykshuise in Tygerberg en Soutrivier ontvang.”

Mbombo sê die skerp toename in beserings veroorsaak dat ander dienste in die gesondheidstelsel moeiliker beskikbaar word.

“Pasiënte wat noodbehandeling weens ’n gewelddadige besering nodig het, kry voorkeur. Dit veroorsaak dat die ander pasiënte langer wag, dikwels met moontlik nadelige gevolge vir hul gesondheid,” sê Mbombo.

“Gesondheidsdienste in die Wes-Kaap hanteer veel meer as waarvoor dit ontwerp is. Ek doen ’n beroep op die publiek om hierdie feite in ag te neem, veral hoe alkoholmisbruik nie net die individu beïnvloed nie, maar hoe dit ander pasiënte van baie nodige mediese aandag beroof.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Geweld  |  Gesondheidsdienste  |  Feesseisoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.