Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Glenda Gray voorspel kuur vir Covid teen einde 2022

Sy voorspel dat daar teen einde 2022 ’n behandeling vir Covid-19 sal wees. Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, glo egter ook dat volwassenes jaarliks teen die virus ingeënt sal moet word.

covid,coronavirus vaccine
Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Dr. Michael Mol, motiveringspreker, het haar Woensdag namens Momentum Health by ’n praatjie gevra wanneer sy meen dinge sal na normaal terugkeer.

“My kristalbal sê einde volgende jaar gaan daar behandeling wees en daar gaan baie entstof wees en ons gaan stadigaan ons lewe terugkry.”

Sy glo wel die inenting van volwassenes teen Covid-19 gaan ’n norm raak.

“As ons opvang met inentings en die pandemie begin beheer, gaan ons uiteindelik na normaal terugkeer. Mense sal egter waarskynlik minstens jaarliks ingeënt moet word.”

Sy sê meer vlae van infeksies gaan beleef word as die land nie vinnig genoeg met sy inentingsprogram vorder nie.

“Die enigste manier om variante te beheer waaroor kommer bestaan, is om in te ent. So, ons sien die vlaag van Delta omdat ons nie genoeg ingeënt het nie. As ons by die 300 000 per dag kom wat die president wil hê, kan ons vinnig opvang,” sê sy.

Ons kon nog altyd net pandemies beheer deur die gebruik van entstof. Hierdie entstowwe is lewensredders, ons weet dit werk.
Prof. Glenda Gray

“Ek glo as die land teen einde vanjaar soveel mense kan inent, gaan ons in ’n goeie posisie wees om die volgende vlaag te beheer.”

Gray sê sy dink nie daar is genoeg bekend oor die virus om te besluit hoeveel mense ingeënt moet word om kudde-immuniteit te bereik nie.

“Op internasionale vlak en met pandemies het ons nog altyd ingeënt om die individue te help en dan soos inentings toeneem, word die voordele vir openbare gesondheid gesien omdat mense nie hospitaal toe gaan nie, die ekonomie kan heropen en kinders skool toe kan gaan. En so neem die voordele toe.

“Die laaste voordeel is uiteindelik kudde-immuniteit, maar daar is meer voordele wat gekry word op die pad na die beheer of uitwissing van ’n virus.”

Volgens haar was die groot rede vir die vertraging in die entstofprogram dat daar nie genoeg voorraad vir die vraag beskikbaar was nie.

“Die voorraad kom nou stelselmatig in en hopelik vlieg dit van die rakke.”

Sy sê wat nou egter aandag moet kry, is die huiwerigheid van mense om ingeënt te word.

“Entstof is die enigste instrument van openbare gesondheid wat ons het. Ons kon nog altyd net pandemies beheer deur die gebruik van entstof. Hierdie entstowwe is lewensredders, ons weet dit werk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.