Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘G’n oorspronklike smaak nie’ – klag

Kyk baie mooi die volgende keer as jy ’n Coke koop – dit bevat dalk nie soveel suiker as wat jy gedink het nie.

Een van dié twee bottels bevat 30% meer suiker as die ander een. Foto: Verskaf

Die rede vir die verwarring onder verbruikers is dat die formule vir die vervaardiging van Coke en ander koeldranke verander is nadat suikerbelasting in 2018 in Suid-Afrika ingestel is, maar dat die wisselende suikerinhoud nie altyd duidelik uit die verpakking blyk nie.

Dit het gelei tot ’n klag by die Advertensiebeheerraad (ABR).

André Claassens het ter stawing van sy klagte ’n foto by die ABR ingedien van twee 300 ml-bottels Coke. Die een se etiket sê “Orginal Taste” en bevat 31,8 g suiker per bottel. Die ander bottel sê “Original Taste Less Sugar” en bevat 22,5 g suiker. Claassens het kapsie gemaak teen die woorde “Original Taste” op die bottel met minder suiker omdat dit volgens hom heeltemal anders proe en “daarom nie oorspronklike Coke is nie”.

Hy sê Coca-Cola mislei die publiek omdat die plakkers op die produkte so eenders lyk. Claassens het ook gekla dat die twee bottels Coke met “Less Sugar” skynbaar die enigstes is wat deesdae te koop is. Hy het die vervaardigers gekontak en hulle het gesê die Coke met die baie suiker sal net in bottels van 1 liter en kleiner beskikbaar wees.

’n Woordvoerder vir Coke in Suid-Afrika het dít aan Rapport bevestig: Coke Original Taste sal nét in bottels van 1 liter, blikkies van 200 ml, 300 ml en 400 ml, en bottels van 440 ml en 250 ml beskikbaar wees. In die Wes-Kaap is Coke Original Taste ook beskikbaar in 200 ml- en 500 ml- glasbottels.

Die woordvoerder het gesê Coke ondersteun die regering se gesondheidsdoelwitte deur hul portefeulje koeldranke uit te brei en meer keuses aan verbruikers te gee. Hulle ondersteun ook onder meer die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se aanbeveling dat mense hul suikerinname per dag moet beperk tot nie meer as 10% van hul totale energie-inname per dag nie.

Rapport het in drie groot winkels ook net Coke gemerk as “Original Taste” in 440 ml-bottels en in blikkies aangetref. Daarenteen is die 2lliter-bottels met “Original Taste Less Sugar” volop. Coke wat as “Original Taste” bemark word, bevat 10,6 g suiker per 100 ml, en dié met “Original Taste Less Sugar” 7,5 g suiker per 100 ml – dus amper 30% minder suiker.

Die Coke met minder suiker bevat kunsmatige versoeters in die plek daarvan. Rapport het vroeër berig Coca-Cola het stil-stil die formule van die meeste van hul koeldranke verander ten einde die suikerinhoud te verminder – en só belasting te vermy. Produkte soos Sparletta Creme Soda en Iron Brew bevat deesdae kunsmatige versoeters en smaak nie presies dieselfde as voorheen nie.

Ingevolge suikerbelasting moet vervaardigers 2,1 sent aan die staat betaal vir elke gram suiker bo 4 g per 100 ml in sy produkte. Vir die bottel met 10,6 g suiker per 100 ml sal die vervaardigers dus 13,86 sent per 100 ml aan suikerbelasting moet betaal; en vir dié met 7,5 g per 100 ml, net 7,35 sent per 100 ml.

Coca-Cola sê al bevat die Coke-produkte 30% minder suiker as voorheen, smaak dit dieselfde. Hulle sê omvattende toetse is in drie internasionale markte gedoen voordat die produk na Suid-Afrika gebring is en respondente het in blinde toetse sowel as in dié waar die bottels gemerk was, gesê die produkte smaak dieselfde as die oorspronklike Coke.

Die ABR het na aanleiding van die klag gesê hulle kan nie ’n bevinding doen oor die smaak van produkte nie, maar in dié geval is navorsing voorgehou wat onderskryf is deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Bemarkingsnavorsing. Daarvolgens kan die frase “Original Taste’’ nie as misleidend beskou word nie.

Coca-Cola se woordvoerder meen die etikette maak dit vir verbruikers duidelik watter Coke die beste by hul behoeftes pas.

Meer oor:  Suiker  |  Coke  |  Coca-Cola
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.