Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Godsdiensleiers vra insae in regulasies

Godsdiensleiers moenie uitgesluit word as die Covid-19-regulasies opgestel word nie.

Dit omdat dié sektor ’n baie belangrike rol vervul as mense Covid-19 het of aan die virussiekte sterf, glo die Suid-Afrikaanse Godsdiensforum (SAGF), wat alle intergeloofs- en godsdiensleiers nasionaal verteenwoordig.

Die forum was een van talle godsdiensorganisasies wat Dinsdagaand voor die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele verskyn het oor hoe die inperkingsregulasies hulle raak.

Dié kwessies is bespreek terwyl pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand afgekondig het dat Suid-Afrika na ’n vlak 3-inperking terugskuif.

Daar is nou verskeie strenger inperkings, onder meer dat net 50 mense geloofsdienste binnenshuis mag bywoon en 100 buite. Slegs 50 mense mag begrafnisse bywoon.

Faith Muthambi Foto: Daily Sun

Faith Muthambi, komiteevoorsitter, het Woensdag in ’n verklaring gesê dat die komitee tydens sy vergadering Dinsdagaand die belangrikheid van die geloofsektor as ’n sleutelrolspeler in die konteks van rampbestuur bevestig het.

Die komitee erken ook die noodsaaklike rol wat die godsdiensgemeenskap speel om gedragsverandering te bevorder om die verdere verspreiding van die pandemie te keer.

“Kerke en ander geloofsorganisasies is op die voorgrond in hierdie krisis deur onder meer maatskaplike werk, beradingsdienste en ondersteuning aan slagoffers van geslagsgeweld te bied.”

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum, die Ekumeniese Leierskapsraad, die Gautengse Sunni Ulama-raad, die Langa-Baptistekerk, Bahá'í-geloofsgemeenskap van Suid-Afrika, die Moslem-opperraad van Suid-Afrika, die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika, die Raad vir Charismatiese Kerke, die Gautengse Geloofsgegronde Organisasie (FBO) en Open Circle was ook deel van die verrigtinge.

Volgens Muthambi was die betrokke godsdiensorganisasies dit eens dat die regering nie hierdie sektor ernstig opneem nie.

“Die organisasies glo ook dat die Wet op Rampbestuur nie regverdig teenoor die sektor is in die konteks van die Covid-19-pandemie het.”

Verskeie organisasies het voorgestel dat die wet hersien word.

Muthambi het die godsdiensleiers verseker dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Donderdag op al hul bekommernisse sal reageer.

Intussen het die SAGF voorgestel dat godsdiens voortaan ook as noodsaaklike diens hanteer word en dat godsdiensleiers doeltreffender oor die regulasies gekonsulteer word.

Die organisasie Freedom of Religion SA, wat namens godsdiensleiers en -organisasies optree en landwyd gesamentlik tussen 11 miljoen en 18,5 miljoen mense verteenwoordig, het in sy voorlegging aangevoer hy volstaan daarby dat die sektor se “grondwetlike regte so gou moontlik en ten volle gedurende die pandemie herstel word”.

Die organisasie voer aan dat dit sedert die uitbreking van die pandemie verlede jaar herhaaldelik daaroor aan onder andere Dlamini-Zuma geskryf het vir duidelikheid, maar dat die meeste briewe nooit beantwoord is nie.

Die organisasie glo dat regulasies ’n kwessie van gesprek tussen die regering en die sektor moet wees om saam oplossings te vind waarin die sektor se grondwetlike regte gerespekteer word.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.