Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Goedkoop mediese assuransie: Gesprekke duur voort

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het Vrydagmiddag wal gegooi met sy plan om goedkoop mediese versekeringsprodukte te verbied, maar weier tot dusver om afstand te doen van die planne.

Betogers Donderdag by die Raad op Mediese Skemas se kantoor in Centurion eis dat bekostigbare gesondheidsversekeringsprodukte beskerm word en daar voortgegaan word met die ontwikkeling van ’n laekostevoordeelopsie. Foto: Kerry Hertzog

Rapport het vroeër berig die RMS wil ná 31 Maart 2021 die goedkoop versekeringspolisse soos hospitaal-kontantplanne verbied en ook nie voortgaan met sy projek om laekoste-opsies vir siekefondse te ontwikkel nie.

Dít, sê die RMS, is ter voorbereiding van die nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Sowat 300 betogers het Donderdag na die RMS se kantoor in Centurion opgeruk en verskeie versekeraars het amptelik beswaar gemaak oor die plan.

Kerry Hertzog, van die Healthcare Stakeholders Forum, en een van die deelnemers aan die protesoptrede, sê die protes was vreedsaam. Hoewel dr. Sipho Kabane, hoof van die RMS, nie die memorandum wou ontvang nie, het ’n regsadviseur die beswaardes genooi om eerskomende Donderdag met die registrateur te vergader.

Kabane het Vrydagmiddag in ’n verklaring gesê ná die gesprekke is besluit om twee advieskomitees te stig om aandag te gee aan die uitdagings van die versekeraars en ook om ’n raamwerk vir die laekoste-voordeelopsies te oorweeg.

Dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof van Discovery Health, sê Vrydagmiddag se skrywe verander min aan die situasie omdat die registrateur nie die omstrede skrywes van Desember terugtrek nie. Discovery Health verwelkom die RMS se voortgesette gesprekke met die bedryf.

Noach sê die laekoste-raamwerk is belangrik vir universele gesondheidsorg omdat die bekostigbare produkte primêre gesondheidsorgdienste van hoë gehalte en medikasie verseker vir meer as 500 000 werkende Suid-Afrikaners.

Victor Crouser, hoof van Alexander Forbes Health, sê in die gesprekke met die registrateur in Pretoria en Kaapstad het hy aandagtig geluister na voorstelle, hoewel Kabane benadruk het dat die kwytskelding van die versekeringsprodukte nie onbepaald kan duur nie.

Die RMS het tot dusver kwytskelding gegee aan die versekeringsprodukte wat nie tegnies mediese fondse is nie, maar oorvleuende voordele bied.

Die versekeringsprodukte is eksponensieel goedkoper as siekefondspremies omdat die versekeringsprodukte nie wetlik verplig word om alle voorgeskrewe minimum voordele te betaal nie en ook risikobestuur kan doen. Siekefondse, aan die ander kant, mag niemand lidmaatskap weier nie.

Rolspelers maak beswaar teen die RMS se besluit omdat dit 500 000 huishoudings sal dwing om staatsgeriewe te gebruik waar hulle nou minstens sommige dienste in die private sektor kan bekom.

Die RMS sê weer die laekoste-produkte bied “minderwaardige dekking” en buit mense uit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.