Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Goeie nuus oor SA se ‘mutasie’

Twee nuwe entstowwe vir Covid-19 is minder doeltreffend teen Suid-Afrika se koronavirusmutasie as teen die oorspronklike virus, maar nogtans doeltreffend genoeg om ’n reuse-impak op die verspreiding van die virus hier te hê, sê topwetenskaplikes.

Die goeie nuus is dat die entstowwe ernstige infeksies, hospitaliserings en sterftes drasties sal verminder, sê proff. Shabir Madhi en Glenda Gray, onder wie se leiding plaaslike kliniese studies gedoen is.

Johnson & Johnson se entstof is 72% effektief in Amerika en 57% effektief in Suid-Afrika.

Dit beteken dit keer dat 57% van die deelnemers aan kliniese studies wat met die virus Sars-CoV-2 besmet is, die siekte Covid-19 opdoen. Kortom: Dit het aan dié 57% immuniteit besorg.

Ons gebruik dikwels entstof teen griep wat tussen 30% en 70% effektief is.

Die entstof se doeltreffendheid teen die mutasie 501Y.V2 is in Suid-Afrika onder leiding van Gray, hoof van die Mediese Navorsingsraad (MNR), getoets.

Die langverwagte resultate van Johnson & Johnson se entstof is Vrydag bekend gemaak.

Daar is groot belangstelling in dié entstof, omdat dit ’n enkele dosis verg, terwyl die meeste entstowwe in twee dosisse toegedien moet word.

Ook Novavax het Donderdag bevindings gepubliseer. Sy entstof is 89% doeltreffend teen die oorspronklike virus, sowel as die Britse mutasie. Volgens Madhi, dekaan van Wits se mediese fakulteit wat die plaaslike studie bestuur het, is dié entstof 60% doeltreffend teen 501Y.V2.

“Niks is ’n groter verrassing nie. Sars-CoV-2 het ons geleer om nederig te wees en hom nie te onderskat nie,” aldus Madhi.

Die plaaslike variant van die koronavirus het einde verlede jaar van die Oos-Kaap na die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal versprei. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is dit nou verantwoordelik vir die oorgrote meerderheid Covid-19-infeksies in Gauteng.

Die plaaslike mutasie kom al in meer as 30 lande voor, met die jongste twee gevalle wat in Amerika aangemeld is.

Die Suid-Afrikaanse mutasie is 50% aansteekliker as vorige weergawes en verskeie studies het gewys dit kan die immuunstelsel se teenliggaampies omseil. Dit beteken iemand wat reeds Covid-19 gehad het, kan ook 501Y.V2 opdoen.

“Ek het nie daarvan gedroom dat dit (Novavax se entstof) 60% effektief sal wees toe ek sien hoe swak natuurlike immuniteit (van mense wat reeds Covid-19 gehad het) teen die Suid-Afrikaanse variant vaar nie,” het Madhi gesê.

Sowat 4 400 Suid-Afrikaners was deel van die kliniese proewe vir Novavax en omdat data vandeesmaand nog ingesamel is, kon hulle die entstof ook teen die Suid-Afrikaanse variant toets. Pfizer en Moderna, wie se entstowwe omtrent 95% doeltreffend is teen die koronavirus, het vroeër gesê hul entstowwe is wel doeltreffend teen die variant, ofskoon minder effektief as teen die oorspronklike. Dié inligting kom van laboratoriumstudies en is nog nie klinies getoets nie.

“Ons was ietwat oorstelp met die hoë doeltreffendheid van die Pfizer-entstof,” aldus Madhi.

Die impak van die AstraZeneca-entstof op 501Y.V2 sal volgens hom binnekort bekend wees.

Madhi lei ook die kliniese toetse met dié entstof. Die eerste miljoen dosisse daarvan kom na verwagting môre in Suid-Afrika aan.

Entstowwe vir ander siektes met ’n effektiwiteit van om en by 50% word in die algemeen vir noodgebruik goedgekeur.

Volgens Gray is doeltreffendheid van sowat 60% goed.

“Dit het reeds groot voordele vir die individu, sowel as vir die gemeenskap. Selfs ’n 50%-vermindering is belangrik, omdat dit hospitaliserings en sterftes voorkom,” het sy op ’n webinaar oor die Novavax-entstof gesê.

“Ons gebruik dikwels entstof teen griep wat tussen 30% en 70% effektief is,” sê prof. Francois Venter, navorser in geneesmiddels aan Wits.

“Die entstowwe bied dalk minder beskerming as dit kom by die opdoen van die virus, maar dit is nie die enigste rol van ’n entstof nie. Dit kan ook help keer dat jy ernstig siek word. Ek neem nie ’n entstof om te keer dat ek ’n seer keel kry nie; ek neem dit om te keer dat ek in die hospitaal beland.”

Dr. Mathai Mammen, hoof van navorsing en ontwikkeling by Johnson & Johnson, het aan CNN gesê die entstof het baie goed daarin geslaag om te keer dat pasiënte met Covid-19 ernstig siek raak. Volgens hom was geen van die 44 000 deelnemers aan die kliniese studies en wat die entstof gekry het ná 28 dae nog in die hospitaal of is dood nie. Dit het die gevaar van die siekte met tot 85% verlaag.

Mammen het gesê dit lyk of hul entstof keer dat mense weens Covid-19 doodgaan.

Venter sê daar sal binnekort ’n magdom data beskikbaar wees oor hoe doeltreffend entstowwe in geheel is om te sorg dat Covid-19-pasiënte minder ernstig siek word of doodgaan.

  • “Soos die entstofprogramme wêreldwyd van stapel gestuur word sal ons kan sien hoe die voorvalle en die erns van die simptome verminder.” Johnson & Johnson en Moderna het reeds gesê hulle sal hul entstowwe aanpas om dit meer effektief teen 501Y.V2 te maak.

“Ek is ook bemoedig om te sien dat Novavax dadelik begin het met die kliniese ontwikkeling van ’n entstof wat spesifiek op die nuwe (Suid-Afrikaanse) variant gemik is,” aldus Madhi.

Meer oor:  Glenda Gray  |  Shabir Madhi  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.