Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
GRAFIKA: Hier is Gauteng se Covid-19-brandpunte

Mense wat nie aan die Covid-19-maatreëls voldoen nie, is een van die groot redes waarom Gauteng gebuk gaan onder ’n drastiese toename in nuwe bevestigde koronavirusgevalle, sê dr. Mary Kawonga, voorsitter van die Gautengse Covid-19-bevelsraad.

Woensdag is 5 111 van Suid-Afrika se 8 881 nuwe gevalle in dié provinsie aangemeld. Kawonga is baie bekommerd daaroor. Gauteng het teen Donderdag 484 116 bevestigde gevalle van Covid-19 gehad waarvan 25 832 aktief is – 11 519 sterftes is ook aangemeld.

“Dit is asof die mense vergeet het ons gaan gebuk onder ’n pandemie. Die grootste faktor wat bydra tot Gauteng se toename in nuwe daaglikse gevalle, is mense wat nie gehoor gee aan die regulasies rondom die pandemie nie,” het Kawonga aan Netwerk24 gesê.

Sy sê dit is noodsaaklik dat Gautengers nou versigtig moet wees, juis weens die groter moontlikheid om met die virus besmet te word.

“Die huidige inperking beperk net byeenkomste, en nie mense se beweging nie. Daarom moet ons versigtig wees. Ons moet self verantwoordelikheid neem en dink watter gevolge dade kan hê,” sê Kawonga.

Op ’n positiewe noot sê sy tydens die vorige vlaag het Gauteng ook skielik ’n drastiese toename soos dié een van Woensdag gesien, en ’n week later het die provinsie sy piek bereik.

“Dit kan wees dat dit nou ook die geval is, maar daar is ander verskille wat vir ons wys dat die tendense nie dieselfde is in elke vlaag nie. So dit kan nie met sekerheid gesê word nie. Ons weet regtig nie wat gaan gebeur nie.”

In Gauteng was daar teen Donderdagmiddag 3 476 mense wat in die hospitaal vir die virus behandel word.

Kawonga sê hoewel die syfer hoog is, is daar nog plek in hospitale vir ander pasiënte.

“Dit kan ook vinnig verander. Daarom sal die staat binne die volgende paar dae nog beddens in hospitale gereed kry om seker te maak dat almal die sorg kry wat hulle benodig,” sê sy.

Sy sê uitbrekings onder groepe by skole en in die werkplek dra ook by tot die toename in nuwe infeksies.

Die Gautengse gesondheidsdepartement het Donderdag in ’n verklaring ook sy kommer oor die toenames in nuwe gevalle uitgespreek. “Meer as 50% van die land se nuwe daaglikse infeksies word hier aangemeld,” lui die verklaring.

Dié departement het Tshwane 3 en 4, Johannesburg B en C, Ekurhuleni N2 en S1, Mogale City en Emfuleni as brandpunte in die provinsie geïdentifiseer.

covid-19, grafika, gauteng, brandpunte, derde vlaa

Die provinsiale gesondheidsdepartement doen ook ’n beroep op inwoners om die maatreëls na te kom.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en ook ’n lid van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, het Donderdag saamgestem dat Gauteng se hoë getalle toegeskryf kan word aan mense wat nie aan die regulasies gehoor gee nie. “Die getalle sal aanhou styg totdat mense dit doen,” sê sy.

Oor Gauteng wat meer as 50% van die nasionale syfer uitmaak, sê Coetzee dit is belangrik om te onthou dat die provinsie die hoogste bevolking in die land het. “Dit het ook ’n impak op die provinsie se getalle, maar nietemin is die getalle steeds hoog,” sê sy. Sy verwag dat Gauteng sy piek van die derde vlaag binne die volgende drie tot vier weke gaan bereik.

Kawonga het ook Donderdag gesê Gauteng doen minstens 40% van die land se toetse. “Hoe meer jy toets, hoe meer positiewe gevalle kry jy. Dit wys ons net dat die probleem erger kan wees as wat ons dink. Daarom is dit belangrik dat mense die regulasies nakom, en dat mense ingeënt word,” sê sy.

Luidens die provinsiale regering se jongste data is 414 758 mense in die provinsie reeds teen Covid-19 ingeënt.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.