Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Griep besig om al erger te word

Seisoenale griep is besig om te verander. Dit gaan meer intens word en langer duur – veral in stede waar mense op mekaar woon en werk – en boonop gaan dit gedryf word deur klimaatsverandering.

Dit is slegte nuus, want griep kan gevaarlik wees. Afhangende van die stamme wat daardie jaar in omloop is, gaan tussen 290 000 en 650 000 mense wêreldwyd elke jaar daaraan dood en in Suid-Afrika tussen 6 000 en 11 000.

Soms neem mense dit nie ernstig op nie, al herstel die meeste mense wel daarvan. Tog is dit een van die groot oorsake van onherstelbare hartspierskade, met ’n hartoorplanting as die enigste kuur.

Volgens navorsing wat verlede week bekend gemaak is, het stede broeikaste vir seisoenale griep geword, gedryf deur humiditeit.

In stede wat digbevolk is, is daar deurlopend baie griep, aan die begin van die seisoen, die einde en in die middel. Dit was veronderstel om net in die middel baie gevalle te hê en ’n tipiese kurwe te toon. Dit is nie meer die geval nie.

Die griepvirus versprei in die druppels wat mense hoes en nies en dit oorleef in sommige stede weens die klimaat baie langer in die lug. Die humiditeit in die lug help die virus om te oorleef.

Dit is die geval vir seisoenale griep, maar wat van pandemiese griep, soos in 1918-’19 wat na beraming 50 miljoen mense doodgemaak het?

Daar moet onderskei word tussen seisoenale griep en pandemiese griep. Die meer kommerwekkende pandemiese uitbrekings kom elke 50 of 100 jaar voor, maar dié tydperke tussenin kan ook korter wees.

Seisoenale griep is ’n natuurlike proses en daar is net geringe veranderinge aan die virus. Sowat 1% van die oppervlakproteïne van die virus verander en dít word ’n antigene verskuiwing genoem.

Dit is amper soos die model van dieselfde motor wat elke paar jaar verander, maar steeds eintlik dieselfde bly.

Dus verander seisoenale griep die hele tyd bietjie vir bietjie soos die virusse probeer om die mens se immuunstelsel te vermy om te oorleef.

Antigene verskuiwings raak die A- en B-griepstamme. A-stamme maak diere en mense siek, terwyl die B-stamme net mense siek maak.

Maar dit is net die A-stam wat groot veranderinge kan ondergaan. Wanneer pandemies ontwikkel, was daar gewoonlik ’n antigene sprong. En skielik is daardie motor ’n heel nuwe gevaarlike, splinternuwe model. ’n Supermotor.

Die jongste beraming is indien daar weer so antigene sprong is en ’n pandemie uitbreek, kan 150 miljoen mense doodgaan. Dit sal katastrofies wees, gegewe die aantal mense wat siek sal word.

In 1918-’19 het mense nie eens geweet dit is ’n virus en hoe dit oorgedra word nie en om te reis was aansienlik moeiliker as vandag. Toe was die wêreldbevolking 28% van wat dit nou is.

Lyk in Alaska die oplossing

Elsabé Brits

Daar was iets baie uniek aan dié pandemie wat navorsers vir dekades laat kopkrap het. In 2005 het wetenskaplikes die virus weer herskep deur die lyk van ’n destydse vroue-slagoffer van Alaska op te grawe.

Die weefsel was goed bewaar omdat dit in die ysgrond gelê het. Die vetselle van die vrou, wat taamlik oorgewig was, het gehelp dat die virus bewaar gebly het. Toe die agt gene van die virus ontleed is, was die resultate werklik ontstellend. Die virus gaan sit aan selle in die longe, waar dit vermeerder.

Dit beskadig die selle só erg dat mense bakteriële longontsteking kry – so verwoestend dat hul longe gou met vloeistof vul. Uiteindelik versmoor jy.

Baie mense het donker kolle op hul vel gekry en/of blou geword. Dit was weens ’n gebrek aan suurstof.

Dié virus (A/H1N1) van 1918-’19 was van voëls afkomstig, maar dit was heeltemal nuut – iets wat nog nie voorheen gesien is. Die heel belangrikste is dat dit toe muteer het om van mens tot mens oordraagbaar te wees.

Die meeste mense wat dood is, was tussen 16 en 40 jaar oud. Dit was baie uniek, want gewoonlik is dit ouer mense, mense wat reeds siek is, babas en kinders wat geraak word. Dit was juis die gesonde, aktiewe mense wat gesterf het.

Die navorsing in 2005 het getoon die jonger mense se sterk immuniteitstelsel het juis ’n noodlottige oorreaksie van die immuniteitstelsel veroorsaak.

Byna soos ’n storm van sitokiene. Wanneer jou liggaam veg teen ’n infeksie, stuur sitokiene seine vir bepaalde immuniteitselle om te gaan werk, en boodskappe word weer teruggestuur. Maar wanneer daar ’n oorreaksie is, vorm dit iets soos ’n bose kringloop en te veel immuniteitselle word geaktiveer.

Die reaksie is te sterk en weefsel en organe word aangetas. In die longe bou vloeistof op en die lugweë sluit.

Dit is die mag van ’n griepvirus wat ’n groot sprong maak. So klein soos 0,00008 millimeter tot 0,00012 millimeter, en dit bewaar die dood.

*Bronne: Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes; Science (5 Oktober 2018); Frontiers in Cellular and Infection Microbiology (8 Oktober 2018); Nature (5 Oktober 2005); Emerging Infectious Diseases (Januarie 2005).

*Elsabé Brits is ’n wetenskapjoernalis.

Meer oor:  Elsabe Brits  |  Griep  |  Hoe Werk Dit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.