Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Griep vs. korona: Inenting is noodsaaklik

Met die nuwe 2019-koronavirus (2019-nCoV) op almal se lippe, is dit maklik om te vergeet van die griepvirus wat 11 800 lewens ’n jaar in Suid-Afrika eis.

Die virus is hoogs aansteeklik en ondanks beskikbare entstof, kies slegs 3% van Suid-Afrikaners om jaarliks hulself teen die virus te immuniseer.

Dr Thinus Marais, mediese hoof vir Afrika van Sanofi Pasteur, ’n farmaseutiese maatskappy, sê die rede vir die lae inentingskoers is weens ’n wanpersepsie oor die virus.

“Die virus, wat jaarliks 650 000 mense in die land siek maak, kan dodelik wees, maar mense besef nie die gevaar nie.”

Marais sê, net soos die nuwe koronavirus, maak die griepvirus jag op mense met ’n verswakte immuunsisteem byvoorbeeld mense met kroniese siektes, swanger vroue en kinders.

In die hoë risikogevalle is inentings steeds veilig om te gebruik en stel die regering jaarliks een miljoen inentings gratis beskikbaar. Nogtans word minstens 10 000 van die inentings nooit aangevra deur risikogevalle nie en moet dit dan vernietig word.

Dr.Thinus Marais, die farmaseutiese maatskappy Sanofi Pasteur se mediese hoof in Afrika, sê dit is wetenskaplike bewys dat ’n inenting die beste manier is om nie met ’n virus besmet te word nie. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Marais sê ’n mens moet jaarliks ingeënt word omdat die virus jaarliks muteer.

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) hou heeljaar die virus dop ook wanneer dit nie griepseisoen is nie. Hulle neem dan gedeeltes van die mees algemene vorms van die virus om die entstof te maak. Omdat die virus elke jaar anders is, is die entstof ook elke jaar anders,” sê Marais.

Op ’n vraag oor mense wat kla hulle word juis siek wanneer hulle die entstof gebruik, sê Marais dit is nie te wyte aan die entstof self nie.

“Daar is geen lewende spore van die virus in die entstof nie en daarom kan dit jou nie siek maak nie. Mense moet onthou dat dit 10-14 dae neem vir die entstof om te werk en dat mense dikwels reeds siek was toe hulle ingeënt is."

Marais voeg by dat die griep wat jy onder lede het dalk ook anders lyk as die algemene griep soos bepaal deur die WGO.

Die inentings is egter net ’n teenmiddel vir die griepvirus, nié vir die koronavirus waarvan die simptome soortgelyk aan griep is nie.

Marais sê dit is egter makliker vir gesondheidspersoneel om die koronavirus te diagnoseer wanneer jy reeds ’n teenmiddel vir griep gebruik het omdat hulle die moontlikheid van griep dan kan uitskakel.

Die WGO hou Dinsdag en Woensdag ’n spesiale navorsing en innovasie-forum in Genève om internasionale optrede teen die koronavirus te mobiliseer.

Dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, sê dit is van kritieke belang om wetenskap in te span om die uitbreking van die koronavirus onder beheer te bring.

Meer oor:  Inenting  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.