Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Groep in Rome raadop ná vlug na SA nie realiseer

Suid-Afrikaners wat in Italië in hotelkamers in afsondering vasgekeer is met die hoop dat hulle dalk Vrydag sou terugvlieg na Suid-Afrika, is emosioneel geknak nadat hul toetsuitslae vir die koronavirus nog nie bekend is nie en hulle daarom nie die land mag verlaat nie.

Willem Smith van Hoekwil naby George in die Suid-Kaap is in Rome tot ’n hotelkamer ingeperk. Foto: Verskaf

Een van ’n groep van sowat 40 Suid-Afrikaners wat eers op die passasierskip “Costa Luminosa” en daarna in Rome in kwarantyn geplaas is, Willem Smith van Hoekwil naby George in die Suid-Kaap, het Woensdag gesê hy is in werklikheid nou al op dag 24 van ’n kwarantyn wat 14 dae sou duur.

Hy is saam met sy reismaat, Leigh Dobbin van Sheffield-strand in KwaZulu-Natal, in die iH Hotel Roma Z3 in Rome saam met ander Suid-Afrikaners ingeperk.

“Ons probleem is die gebrek aan kommunikasie. Ons is getoets en daar is gesê dat ons die uitslae in ’n geseëlde koevert individueel binne twee tot drie dae sou kry. Tot op hede was daar geen woord verder nie,” sê Smith.

Hy sê klaarblyklik mag niemand Italië verlaat sonder ’n mediese sertifikaat wat wys dat hulle negatief vir die koronavirus getoets het nie.

Die Suid-Afrikaners by dié hotel was sowat 40 met hul aankoms daar, maar Smith sê hy is nie seker van die huidige getal nie omdat ’n paar mense hospitaal toe moes gaan.

’n Gedeelte van die klein hotelkamer met net ’n oop kas waar Willem Smit en sy reismaat in Rome ingeperk is. Foto: Verskaf

Hulle was op die “Costa Luminosa” wat op 24 Februarie vanaf Fort Lauderdale in die VSA na die hawestad Savona in die noordweste van Italië vertrek het. Hul reis moes op 21 Maart eindig, maar Smith sê die reisplan het op 8 Maart begin skeefloop met gerugte dat daar mense aan boord is wat met die koronavirus besmet is.

“Ons was reeds op die skip in ons kajuite in kwarantyn vir minstens ’n week. Hier in die hotel is ons nou op dag 24,” sê Smith.

“Ons is in ’n bus gelaai in Savona met geen idee waarheen ons gaan nie. Die volgende oggend vyfuur is ons in Rome onder polisiebegeleiding by dié plek afgelaai.”

Willem Smith se uitsig van Rome vanuit sy hotelkamer is nie juis iets uit ’n glans-reisbrosjure nie. Foto: Verskaf

Smith sê daar is op 7 en 8 April monsters vir koronavirustoetse by hulle geneem deur drie mense wat oorpakke en maskers gedra het. Daar is geen inligting aan hulle gegee oor wie die mense is of wie hulle aangesê het om die toetse te doen nie.

Die skeepsredery Costa Cruises het die week vir die Suid-Afrikaners in die hotel ’n kennisgewing op ’n stuk papier gegee dat hulle waarskynlik langer in die hotel in kwarantyn sal moet bly, omdat dit meer ingewikkeld geraak het om hulle na Suid-Afrika te repatrieer. Die kennisgewing is nie onderteken nie.

Navrae is aan die departement van internasionale betrekkinge in samewerking gerig. Daar word op terugvoering gewag.

Meer oor:  Rome  |  Vlug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.