Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Groep uit Rome dankbaar teenoor SAL-bemanning
Suid-Afrikaners op die Leonardo da Vinci-lughawe voordat hulle op ’n spesiale vlug na Suid-Afrika teruggebring is. Foto: Willem Smith

Groot dankbaarheid heers teenoor die vlugbemanning van ’n SAL-vlug wat die naweek ’n groep gestrande Suid-Afrikaners uit Rome na Suid-Afrika teruggebring het.

Die vlug het Saterdag in die vroeë oggendure omstreeks 02:30 met ’n groep van sowat 80 passasiers van ’n verlate Leonardo da Vinci-lughawe in Rome vertrek.

Willem Smith van Hoekwil buite George is een van die Suid-Afrikaners wat uit Rome na Suid-Afrika kon terugkeer.

Sowat 40 lede van die groep was passasiers van die Costa Luminosa-plesierskip wat op 24 Februarie van Fort Lauderdale in Amerika na die hawestad Savona in die noordweste van Italië vertrek het.

Nadat iemand op die skip positief vir die koronavirus getoets is, was hulle eers saam met ander passasiers op die skip in kwarantyn en moes hulle daarna in ’n hotel in Rome bly totdat van hulle die naweek kon terugkeer na Suid-Afrika.

Een van die mense wat teruggebring is, Willem Smith van Hoekwil naby George, sê hulle is dankbaar teenoor die SAL en sy vlugbemanning.

“Dit is almal vrywilligers wat ons kom haal het en hulle moet blykbaar nou self ook in kwarantyn gaan. Hulle het moeite gedoen om die vlug so aangenaam as moontlik te maak. Dankie. Dankie,” sê Smith.

Die mense op die vlug moes ’n veilige afstand van mekaar handhaaf en moes deurentyd maskers en handskoene aanhê. Hulle is daarna so agt per minibus van die O.R. Tambo-lughawe na ’n hotel in Johannesburg geneem waar hulle nou in kwarantyn is.

Smith sê dit is sleg dat van die Suid-Afrikaners wat in kwarantyn in Rome is, nie kon terugkom nie omdat hul toetsuitslae “onbeslis” is.

’n Verlate Leonardi da Vinci-lughawe in Rome, vanwaar die Suid-Afrikaners die naweek teruggevlieg het. Foto: Willem Smith

Twee van hulle is Mike (64) en Kim (53) Hiron van Durban. Hoewel Mike se toetsuitslag negatief is, is Kim s’n onbeslis. Smith sê Mike was juis die een wat baie hard gewerk het om in kontak te bly met die departement van buitelandse sake in ’n poging om almal by die huis te kry.

Dit is nog onduidelik wanneer die Suid-Afrikaners wat in Rome moes agterbly, sal kan terugkeer.

Hiron het Sondag gesê sy vrou is Saterdag weer getoets, maar hulle weet nie wanneer die uitslag bekend sal wees nie. Hy sê hulle is ook nie seker of daar weer ’n vlug uit Rome na Suid-Afrika sal wees nie.

Meer oor:  Rome  |  Italië  |  Repatriasie  |  Kwarantyn  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.