Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Groot steun in townships vir verbod op drank en tabak
’n Gesondheidswerker maak verlede week gereed om mense in Kaapstad vir die koronavirus te toets.Foto: Jaco Marais

Altesaam 70% van inwoners in townships en informele nedersettings steun ’n verbod op alkohol en tabak tydens die nasionale staat van inperking.

So het die maatskappy Ask Afrika in ’n meningspeiling bevind.

Altesaam 63% van die meer as 4 000 respondente wat aan die meningspeiling deelgeneem het, het aangedui ’n verbod op die gebruik van alkohol sal goed wees.

Dié bevindinge is waarskynlik goeie nuus vir veral dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat aan die hoof staan van die regering se hantering van die pandemie, en Bheki Cele, minister van polisie.

Dlamini-Zuma, ’n mediese dokter, meen soos ander medici dat Covid-19 rokers baie erger tref as nierokers.

Cele veral is ’n voorstander van ’n verbod op alkohol omdat drankmisbruik nóg groter druk op die land se gesondheidsdienste plaas en dit bydra tot misdaad.

In die peiling is ook bevind dat pres. Cyril Ramaphosa se steun gaandeweg afneem namate die pandemie voortduur.

Voorts het 70% van mense wat aan die peiling deelgeneem het, laat blyk hulle is meer bekommerd dat hulle die virus sal opdoen as dat hulle hul grondwetlike regte weens die inperking sal verloor.

Dit is veral die gevoel onder inwoners in townships en informele nedersettings.

In die peiling is ook bevind dat pres. Cyril Ramaphosa se steun gaandeweg afneem namate die pandemie voortduur.

Die vertroue in Ramaphosa het van 75% in die vierde week tot 66% ná nege weke gesak.

Die publiek se vertroue in sy vermoë om die leiding te neem in die bestuur van die pandemie het in dieselfde tydperk van 75% tot 66% afgeneem.

Prof. Jo-Ansie van Wyk, ’n politieke wetenskaplike van Unisa, meen Ramaphosa ry die “Covid-19-perd” soos ’n ruiter wie se hande agter sy rug vasgemaak is.

“Die dalende steun dui op minder vertroue in sy besluite en dus dié van sy regering. Die mense is moeg vir inperking en drakoniese besluite,” sê Van Wyk, ’n kenner op die gebied van gesondheidspolitiek.

“Die regering se kommunikasie is boonop steeds nie baie goed nie,” meen sy.

Die meningspeiling onder 4 067 mense is tussen 26 Mei en 1 Junie gedoen.

Die groep mense wat ondervra is, was 72% swart, 14% wit, 9% bruin en 5% wat van Indiese of Asiatiese oorsprong was.

Onder die respondente was 55% vroue. Altesaam 35% van die respondente was in die ouderdomsgroep 25 tot 35 jaar.

Die naasgrootste groep (29%) was tussen 35 en 49 jaar oud.

Uit die meningspeiling het dit geblyk dat meer as 60% van die respondente aangetoon het hulle het tydens die pandemie tekens van korrupsie gesien, daarvan gehoor of daarvan gelees.

Steun vir die polisie en die weermag het tot 63% gedaal; die laagste vlak sedert Ramaphosa op 23 Maart die nasionale staat van inperking aangekondig het.

Voorts het twee derdes van ouers aangedui na hul mening moes die skole eers in 2021 heropen het.

Nóg ’n skrikwekkende feit is dat een uit elke drie mense in die land saans honger gaan slaap en daar toenemende kommer oor voedselsekerheid in huishoudings is.

Altesaam 58% van die respondente het aangedui hulle meen hulle moet toegelaat word om die haarkapper te besoek.

Dit blyk ook vrese vir die virus is die hoogste in Noordwes en Mpumalanga.

Ander bevindings uit die meningspeiling:

  • 60% is bekommerd oor die hoeveelheid beskikbare kos in hul huise;
  • 20% van kinders gaan slaap honger omdat daar nie kos by die huis is nie;
  • 42% van alle mense werk tans tydelik nie weens die inperking;
  • 31% werk van die huis af;
  • 11% gaan steeds werk toe;
  • 5% van die respondente sê die plekke waarvoor hulle gewerk het, het permanent gesluit;
  • 1% se werkplek volg geen veiligheidsmaatreëls teen die koronavirus nie;
  • ’n Derde sê hul eie of die salarisse van kollegas is tydelik verminder;
  • Net 27% het tans finansiële hulp nodig, terwyl 36% geen toegang tot finansiële hulp het nie;
  • 43% oorweeg dit om weens finansiële druk hul huis- en tuinwerkers te laat gaan;
  • Sowat die helfte het al geld gaan leen om solvent te bly;
  • 69% van diegene wat nie genoeg kos het nie, het al by vriende, familie of woekerwins-uitleners geld geleen;
  • 54% van werkloses het by vriende, familie en woekerwins-uitleners geld geleen;
  • Nadat 52% van respondente ná die eerste week van die inperking aangedui het dat hulle hul gevoelens van depressie “hanteer”, het dié syfer ná nege weke tot 23% gedaal;
  • 62% glo huishoudelike en geslagsgeweld sal tydens die pandemie toeneem. In die Wes-Kaap was die syfer 74%, in Gauteng 69% en in die Vrystaat 65%;
  • ’n Derde glo die regering doen nie genoeg om die slagoffers van dié misdade tydens die inperking by te staan nie;
  • ’n Derde meen tussen 26% en 50% van alle Suid-Afrikaners sal die virus opdoen;
  • Die meeste repondente meen minder as een uit elke vier mense wat die siekte opdoen, sal doodgaan;
  • Hoewel die inperking en die stapsgewyse heropening van die ekonomie goed ontvang is deur veral mense in voorstedelike en metropolitaanse gebiede, is hulle gekant teen die onmiddellike opheffing van die inperking;
  • In Mpumalanga is 41% huiwerig om terug te keer werk toe;
  • Sowat 60% is bekommerd oor voedselsekerheid by die huis;
  • 32% van mense wat ’n voedseltekort ervaar, toon tekens van depressie, terwyl 26% vrees ervaar;
  • Slegs 19% stem saam kospakkies word versprei;
  • Sowat 50% van diegene wat nie voedselsekerheid het nie, glo die regering versprei nie kospakkies in die mees kwesbare gemeenskappe nie;
  • Veral in die ouderdomsgroep 16 tot 34 jaar is daar ontevredenheid oor die regering se verspreiding van kos aan die mees kwesbare gemeenskappe;
  • Een uit vyf wat ’n voedseltekort ervaar, het al ’n kospakkie ontvang. Hiervan het die helfte dit van die regering ontvang, terwyl die ander dit van nieregeringsorganisasies of private ondernemings gekry het;
  • 9% sê hulle het tydens die inperking ’n kospakkie van die regering ontvang;
  • 70% sê die kospakkies wat hulle ontvang het, was voldoende vir hul huishouding;
  • 44% sê die beperking op die soort klere wat jy mag aankoop, maak nie sin nie; en
  • Sowat 50% glo die verspreiding van die virus kan voorkom word deur net sekere grade toe te laat om terug te keer skool toe.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.