Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Groote Schuur deel van wêreldwye studie oor Covid-19

Die Groote Schuur-hospitaal en die Universiteit van Kaapstad (UK) het hul gewig ingegooi agter ’n wêreldwye vennootskap van wetenskaplikes en klinici wat inligting deel en tegnologie gebruik om meer effektiewe behandelings te vind vir pasiënte wat ernstig siek aan Covid-19 is.

Suid-Afrika het reeds meer as 'n halfmiljoen gevalle van Covid-19 aangeteken. Foto: Pixabay

Die groep navorsers staan as die Covid-19 Critical Care Consortium (Covid Critical) bekend.

Covid Critical is reeds in Januarie op die been gebring en bestaan nou uit byna 40 hospitale en navorsingsfasiliteite in 52 lande.

Suid-Afrika se deelname gebeur in die Groote Schuur-hospitaal se waakeenheid en is onder prof. Ivan Joubert se leiding.

“Dokters, verpleegsters en gesondheidswerkers doen hul bes vir elke pasiënt, maar in die pandemie van ’n nuwe siekte soos Covid-19 kan dit baie uitdagend wees om te weet hoe goed jy vaar. Die siekte en die behandelings is nuut vir almal en geen geval is heeltemal dieselfde nie,” sê hy.

Die personeel werk ook onder omstandighede waarin die hulpbronne skaars is. Besluite word in die beste belang van die pasiënte geneem, sê hy.

Die studie kan die personeel wel help om selfs beter besluite te neem deurdat hulle die jongste beskikbare inligting tot hul beskikking het.

Covid Critical hoop om uiteindelik van die jongste beskikbare inligting aan alle waakeenhede se gesondheidspersoneel te verskaf om so lewens te probeer red.

Hospitale wat deel van die inisiatief is, deel op ’n sentrale databasis inligting oor Covid-19-pasiënte. Soos die databasis groei, verhoog die kanse dat wetenskaplikes dalk ’n beter behandeling kan vind.

Prof. John Fraser, hoof van Covid Critical, beskryf die pandemie tans as ’n reuse-legkaart met inligting oor die virussiekte wat oor die wêreld heen versprei word.

As die wêreld sy data deel, kan dele van die legkaart bymekaargebring word om ’n duideliker prentjie te skep van wat pasiënte in kritieke sorg benodig sodat lewens gered kan word.

Met genoeg data sal wetenskaplikes en dokters patrone kan waarneem oor watter tipes behandeling op spesifieke tye beter as ander werk, soos byvoorbeeld wanneer dit beter sal wees om ’n pasiënt aan ’n ventilator te koppel en wanneer nie.

Pasiënte se data word anoniem ingesamel, ontleed en deur wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit van Queensland in Australië en die Oxford-universiteit in Engeland versprei.

Kunsmatige intelligensie en masjienleer sal ook mettertyd ingespan word om beter insigte uit die data te kry.

Meer oor:  Koronavirus  |  Navorsing  |  Groote Schuur-Hospitaal  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.