Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Grootmaat-entstof waarskynlik eers ná 3de vlaag hier

Suid-Afrika sal weens ’n wêreldwye bottelneksituasie met vervaardiging waarskynlik eers in die derde en vierde kwartaal die grootste hoeveelheid van sy entstof teen Covid-19 kan kry.

So het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Maandag in ’n webinaar van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gesê.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, praat Woensdag met die media by die Khayelitsha-hospitaal in Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

In dieselfde asem het hy gesê dat die regering die 1 miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof, wat waarskynlik lewens kon red, reeds aan ander lande verkoop het. Dít terwyl daar na verwagting 250 000 tot 300 000 mense per dag ingeënt moet word om kudde-immuniteit te bereik.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand gesê die tweede fase van inentings begin einde April of begin Mei. Dié fase sluit noodsaaklike werkers in, asook diegene met onderliggende siektetoestande en mense bo 60 jaar oud.

Die nuwe grootmaatinentings sal egter nie betyds wees om lewens te red wanneer die derde vlaag na verwagting tussen Mei en Junie gaan aanbreek nie.

Prof. Shabir Madhi, dekaan van Wits se fakulteit van gesondheidswetenskap, het op die webinaar gesê hoewel die AstraZeneca-entstof nie teen ligte tot matige infeksies doeltreffend is nie, sou dit wel sterftes kon voorkom.

“Met die huidige entstof wat hier beskikbaar is, lyk kudde-immuniteit nie moontlik nie. Ons moet egter gebruik wat ons het om lewens te probeer red en ernstige siekte te voorkom,” het Madhi gesê. “Die AstraZeneca-entstof kon daarmee gehelp het.”

Voglens hom gaan die pandemie “vir die res van ons lewe met ons gaan wees”.

Dr. Stavros Nicolaou van Business for South Africa sê entstowwe is die enigste herstelplan vir die ekonomie en dit is om hierdie rede dat die private sektor met die openbare sektor hande gevat het. Volgens hom is die geraamde koste van R11 miljard vir die inentingsveldtog daarom nie baie in die konteks van die herstel van die ekonomie nie.

Ons moet tussen 250 000 en 300 000 mense per dag inent.

Nicolau, wat ook aan die farmaseutiese maatskappy Aspen verbonde is, sê daar gaan wel in die tweede kwartaal dringende kwessies wees.

“Ons beweeg nader aan die winter en mense gaan al hoe meer in plekke met swak ventilasie byeenkom,” sê hy. “Dit is daarom belangrik om die inentings te versnel. Ons moet tussen 250 000 en 300 000 mense per dag inent.”

Volgens hom sal Aspen een van slegs sewe kontrakvervaardigers van die Johnson & Johnson-entstof ter wêreld wees.

Meer oor:  Shabir Madhi  |  Zweli Mkhize  |  Kudde-Immuniteit  |  Koronavirus  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.