Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gupta-kloue strek tot in Vrystaat-gesondheids-dienste

Die Vrystaatse departement van gesondheid erken dat hy R10 miljoen betaal het aan die Gupta-verbonde Mediosa-maatskappy vir die verskaffing van mobielekliniekeenhede, maar sê dat die voorkeuraankopebeleid vir dié kontrak tot op die letter gevolg is.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die tender is nooit aan ’n Gupta-verbonde firma toegestaan nie, maar dat die regte voorkeuraankopeprosesse gevolg is vir ’n diens wat as baie nodig geag is. Hy sê ook dat daar nie teen enige tenderaar gediskrimineer is nie.

Een van Mediosa se mobiele klinieke. Foto: Mediosa.co.za

Hy noem ook dat die Mediosa Health-maatskappy, ’n Indiese maatskappy vir mobiele gesondheidsklinieke, intussen finansiële probleme opgetel het en aansoek gedoen het om onder administrasie geplaas te word.

Intussen berig News24 dat die sukkelende Mediosa se bestuur vermoedelik na Indië gevlug het en dat hul werknemers in Suid-Afrika kla dat hulle nie die afgelope maand betaal is nie.

News24 berig Noxolo Majola, ’n werknemer van Mediosa, het aan hulle gesê dat die bestuur van Mediosa vermoedelik landuit is en nie in die hande gekry kan word nie. “Hulle is nêrens te vinde nie en ook nie die personeelafdeling se werknemers nie.”

Mvambi sê: “Die Vrystaatse gesondheidsdepartement het die R10 miljoen aan Mediosa betaal ingevolge al die wetlike voorskrifte van die Provinsiale Finansiële Bestuurswet se afdelings 7 en 21 en die tesourie se regulasies. Dit is omdat Mediosa reeds geld bestee het in afwagting dat hy die tender gaan kry en die dienste sal moet lewer.

“Die wetlike ooreenkoms was dat die geld weer afgetrek gaan word deur die departement soos wat Mediosa die dienste lewer.”

Mvambi sê die Vrystaatse gesondheidsdepartement wil nie oor dieselfde kam geskeer word as sy eweknie in Noordwes nie.

Dit volg nadat die TV-nuuskanaal eNCA die naweek berig het dat die Gupta-kloue tot in Vrystaatse gesondheidsdepartement strek waar R10 miljoen vooruit betaal is aan Mediosa op dieselfde wyse as die R30 miljoen wat die Noordwes-regering vooruit aan die maatskappy betaal het.

Daar is verskeie bewerings van ongerymdhede rakende die projek.

Mvambi sê die Vrystaatse departement was van mening dat die diens ’n belangrike rol kon speel as ingryping om primêre gesondheidsversekering (PGI) in te stel as ’n voorkomende primêre gesondheidsorgdiens.

“Dit sou ook ons bereiking van pasiënte in die PGI-omgewing kon verbreed sodat voorkomende gesondheidsorgdienste betyds gelewer kan word.”

Dit is anders as ’n behandelingsdiens waar siektes dikwels so ver gevorder het dat pasiënte se lewe nie meer gered kan word nie, sê hy.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het die naweek woedend op TV gereageer oor die kontrak wat die Noordwes-regering aan Mediosa toegeken het, en het gesê dat die premier, Supra Mahumapelo, die hoof van sy gesondheidsdepartement, Thabo Lekalakala, in die pad moet steek.

Motsoaledi het Mediosa Health as ’n kitsbank beskryf waarmee geld van die staat geroof word.

Mvambi sê die minister van gesondheid het niks oor die Vrystaatse departement se kontrak met Mediosa gesê nie. Ook nie oor die hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, dr. David Motau, nie.

“Ons hoop dat die minister eers met ons in ’n gesprek sal tree en na die oogmerk met die diens sal kyk. Dat hy ook na die voorkeuraankopeprosesse wat gevolg is, sal kyk.”

Hy sê die Vrystaatse gesondheidsdepartement was onder administrasie toe die diens bekom is en dat die uitvoerende hoof van die tesourie die rekenpligtige amptenaar was toe die kontrak onderteken is.

Mvambi sê volgens die ooreenkoms sou die Vrystaatse gesondheidsdepartement R10 miljoen aan die diensverskaffer voorskiet om toerusting te koop, wat later van die betaling vir die dienste wat gelewer word, afgetrek sou word.

“Die betaling (van die R10 miljoen) was dus in ooreenstemming met die werk wat uiteindelik gelewer is, terwyl fakture hiervolgens goedgekeur is.”

Intussen sê Tammy Wessels, VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, dat Mediosa, wat ’n kontrak van drie jaar met die Vrystaatse gesondheidsdepartement aangegaan het, bewese Gupta-bande het.

“Daar is verskeie bewerings van ongerymdhede rakende die projek. Die eenhede kos die staat maandeliks miljoene rande vir ’n funksie wat in elk geval deur staatsklinieke vervul word.”

Sy sê die VF Plus het navrae aan die LUR vir gesondheid in die provinsie, Butana Komphela, by die Vrystaatse wetgewer ingedien.

News24 berig die #GuptaLeaks-e-posse dui op ’n duidelike verband tussen die Guptas, Mediosa en sy direkteure.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.